Ons beskou die wêreld
Aardbewings is onvoorspelbaar
Wetenskaplikes het baie jare lank gemeen dat dit moontlik moet wees om aardbewings te voorspel. Hulle het gelet op veranderinge in die vlak van grondwater, geringe verskuiwings in die aardkors, radon wat uit putte lek en ander waarskuwingstekens. “Baie van die nasie se vernaamste seismoloë meen nou dat aardbewings inherent onvoorspelbaar is”, sê ’n artikel in The New York Times. “Hulle sê dat dit lyk asof die soeke na maniere om mense dae, ure of minute voor ’n aardbewing te waarsku tevergeefs is. . . . Hoewel onlangse navorsing daarop dui dat party aardbewings moontlik vooraf seine gee wat bewegings in die aardkors betref, is daardie seine so klein, flou en versteek dat dit dalk onmoontlik sal wees om hulle in die praktyk op te spoor.” Sommige mense versoek nou dat die regering die fondse aan aardbewingnavorsing onttrek en dit gebruik om die gevare as gevolg van aardbewings te verminder. Wetenskaplikes is dit egter eens dat groter kennis nodig is van hoe die grond tydens aardbewings beweeg en hoe geboue reageer.
Oorlewing in koue water
Wetenskaplikes wat ondersoek waarom mense wat in ysige water val so vinnig sterf, het uitgevind dat hiperventilasie die liggaam se natuurlike reaksie op koueskok is. “Die skielike gesnak na asem word gevolg deur die instroming van water—en verdrinking”, sê die tydskrif New Scientist. Hiperventilasie kan nie voorkom word nie. Oorlewing hang dus daarvan af dat jy jou kop bokant die water hou totdat die reaksie om na asem te snak, bedaar, gewoonlik binne twee of drie minute.
Sport en ’n lang lewensduur
Duitsers spandeer die ekwivalent van R90 750 miljoen per jaar aan sport, of meer as R1000 per persoon. Hierdie geld word betaal vir “sportdrag, toerusting, opleiding, die huur van sportterreine en klubfooie”, berig die Nassauische Neue Presse. Meer as driemiljoen mense oefen by fiksheidsentrums en miljoene ander gaan draf. Sal sportgeesdriftiges dus langer of beter as die tuisblyers leef? Nie noodwendig nie. Die boek Physiologie des Menschen (Fisiologie van die mens) sê: “Om te veralgemeen dat sport die beste medisyne is, is definitief nie korrek nie.” Waarom nie? Omdat meer as 1,5 miljoen Duitsers die dokter elke jaar besoek met sportverwante beserings wat tydens ontspanning oor naweke en met vakansies opgedoen word. Die boek doen aan die hand dat oefening en sport net goed vir jou gesondheid is “so lank as wat die verbetering in jou welstand nie deur ongelukke of chroniese sportbeserings benadeel word nie”.
Onder geen verpligting om die waarheid te praat nie
Onlangse Amerikaanse verhore het wêreldwyd die aandag van die publiek getrek en kykers verstom. “Hoewel aanklaers onder verpligting staan om die waarheid voor te lê, tree advokate vir die verdediging met ’n heeltemal ander doel voor oë op”, sê The New York Times. “Die taak van ’n advokaat vir die verdediging is ’n vryspraak vir die kliënt, ’n verdeelde jurie (deur gegronde twyfel in die gedagte van selfs net een jurielid te laat ontstaan) of ’n skuldigbevinding op die mins belangrike aanklagte.” “Hulle staan onder geen verpligting om te verseker dat ’n onskuldigbevinding juis is nie”, sê Stephen Gillers, ’n dosent in regsetiek aan die Universiteit van New York se fakulteit van regsgeleerdheid. “Ons vertel die jurie dat die verhoor ’n soeke na die waarheid is, en ons vertel hulle nooit dat advokate vir die verdediging verplig is om hulle om die bos te lei nie.” Wanneer “’n advokaat voor feite te staan kom wat die kliënt ooglopend betrek, moet hy dikwels stories uitdink vir die jurie om te oorweeg sodat hulle daardie feite oorsien en vir ’n vryspraak stem”, sê die Times. Wat gebeur as ’n advokaat weet dat sy kliënt skuldig is maar die kliënt steeds die kans wil waag om sy saak voor die jurie te bring? “Dan sal ’n advokaat net soos Uriah Heep, vol skynnederigheid, in die hof verskyn en verklaar dat hy vas oortuig is van die waaragtigheid van sy kliënt se vertelling terwyl hy weet dat dit 100 persent vals is”, sê Gillers.
Nuwe waardes
Russiese jeugdiges sowel as die Russiese gemeenskap as ’n geheel beleef ’n krisis wat waardes betref. ’n Opname wat onlangs in St. Petersburg, Rusland, gedoen is, het gevind dat jongmense se gesindheid nadruk lê op “die waardes wat eie is aan die mens—dit wil sê, gesondheid, lewe, die gesin en liefde sowel as persoonlike waardes, soos sukses, ’n loopbaan, gemak en materiële veiligheid”, berig die Russiese koerant Sankt-Peterburgskije Vjedomosti. Ander oorheersende waardes draai om ouers, geld, welvaart, geluk, vriendskap en kennis. Interessant genoeg, ’n goeie reputasie en persoonlike vryhede is twee van die laaste dinge waaraan jongmense dink. Wat beklee die laaste plek? Eerlikheid. Die berig sluit af: “As almal om hulle leuens vertel, dan meen die opkomende geslag dat [eerlikheid] waardeloos is.”
Onvrugbare dekade
Britse kerke het hierdie dekade as die “Dekade van evangelisasie” bestempel. Wat is al tot nou toe, halfpad daardeur, bereik? Woordvoerder Michael Green sê in die Church Times: “Ons het skaars begin om die evangelie aan te pas om die vrae van die gewone mense te beantwoord. Ek sien bykans geen teken daarvan dat kerke buite hulle mure optree en met die goeie nuus onder die gemeenskap uitgaan nie. . . . Ons het nog skaars begin om ’n indruk te maak op hedendaagse jongmense wat nie kerk toe gaan nie, en dit sluit nagenoeg 86 persent van al ons jongmense in die land in.” Waarom die gebrek aan welslae? “Ons oortuig onsself daarvan dat ons lewenswyse dit sal doen sonder dat ons ’n woord hoef te sê. Ons is bang dat ons iemand aanstoot sal gee”, sê Green.
Vermetele bankrowers
In 1994 is 1 uit 7 banke in Kanada deur diewe beroof—meer rooftogte per tak as in enige ander land. Maar in Italië, waar 1 uit 13 banktakke aangeval is, het dit gelyk asof die rowers wel vermeteler as elders is. Min Italiaanse bankrowers het die moeite gedoen om hulle te vermom of om selfs wapens te gebruik. Sommige het die kassiere bloot mondelings gedreig en is die kontant gegee. ’n Paar rowers het selfs van hipnose gebruik gemaak, berig The Economist. Bankrowers in Italië is ook baie hardnekkig: Deur die loop van die jaar is 165 banktakke twee keer beroof, 27 drie keer en 9 vier keer. Die gemiddelde bedrag wat in 1994 per rooftog geneem is? Een-en-sestigmiljoen lire (R137 225), die laagste syfer sedert 1987.
Krokodilnuus
Die versteende kake van ’n oerkrokodil wat onlangs opgegrawe is, “verteenwoordig moontlik die eerste plantetende lid [van die krokodilfamilie] waarvan die mens weet”, berig die tydskrif Nature. In plaas van die lang, skerp tande van die hedendaagse krokodil, wat vandag so deur mense gevrees word, het hierdie oervoorvader afgeplatte tande gehad wat glo geskikter is om gras te kou. Vermoedelik was hierdie dier—wat deur Chinese en Kanadese navorsers in die Hoepeiprovinsie in China op ’n heuwel naby die suidelike oewer van die Jangtzerivier ontdek is—ook ’n landbewoner en nie ’n amfibie nie. Sy grootte? Hy was ongeveer een meter lank.
Toenemende spanning
’n Onlangse studie in Rio de Janeiro, Brasilië, het bevind dat meer as 35 persent van die mense wat mediese behandeling verlang aan verskillende vorme van geestesteurnisse ly, berig Veja. Die tydskrif het dr. Jorge Alberto Costa e Silva, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se direkteur vir geestesgesondheid, gevra: “Hoe kan hierdie syfers verklaar word? Het die wêreld vererger of het mense sielkundig verswak?” Sy antwoord: “Ons leef in ’n tyd van uiters vinnige veranderinge, wat op die ou end angs en spanning veroorsaak op vlakke wat nog nooit voorheen in die mensegeskiedenis gesien is nie.” Volgens hom is ’n algemene oorsaak van spanning die geweld wat so algemeen in Rio de Janeiro voorkom. Hy verduidelik dat dit dikwels tot posttraumatiese spanning lei, wat “mense tref wanneer hulle op die een of ander wyse ’n lewensgevaarlike situasie ervaar het. Bedags openbaar hulle ’n onsekerheid oor alles. Snags het hulle nagmerries waarin hulle die episode herleef wat hulle lewe in gevaar gestel het.”
Gesondheidsgaping
Die gesondheidsgaping tussen ryk en arm nasies verbreed. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) raam dat die gemiddelde lewensduur van mense wat in ontwikkelde lande woon en daar gebore is 76 jaar is—vergeleke met 54 jaar vir diegene in minder ontwikkelde lande. In 1950 was kindersterftes in arm lande drie keer hoër as in ryk lande; nou is dit 15 keer hoër. Teen die laat tagtigerjare was die sterftesyfer weens geboortekomplikasies 100 keer groter as in ryk nasies. Die WGO sê dat die probleem vererger word deur die feit dat minder as die helfte van die mense wat in arm lande woon toegang tot skoon water en sanitasie het. Volgens die Verenigde Nasies het die getal “lande wat die minste ontwikkel is”, toegeneem van 27 in 1975 tot 48 in 1995. Daar is wêreldwyd 1,3 miljard arm mense, en hulle getalle neem toe.