Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w97 12/15 bl. 22-27
  • ’n Verborge skat word gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Verborge skat word gevind
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die behoefte aan ’n Russiese Bybel
  • Vertaling begin
  • ’n Doodslag vir Bybelvertaling?
  • Die werk van Pawski
  • Die naam van God word verheerlik
  • Die argimandriet Makarios
  • Makarios se moedige optrede
  • Uiteindelik gepubliseer!
  • Die Makarios-Bybel vandag
  • Die Woord van God bly vir ewig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Rusland se eerste internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies
    Ontwaak!—1992
  • ’n Mylpaal vir liefhebbers van God se Woord
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onthou jy?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
w97 12/15 bl. 22-27

’n Verborge skat word gevind

Die verhaal van die Makarios-Bybel

IN 1993 het ’n navorser ’n stapel ou, vergeelde Orthodox Review-tydskrifte in die Russiese Nasionale Biblioteek in St. Petersburg gevind. Die bladsye van die tydskrifte van 1860 tot 1867 het ’n skat bevat wat baie langer as ’n eeu vir die Russiese publiek verborge was. Dit was ’n vertaling van die volledige Hebreeuse Geskrifte, of “Ou Testament”, van die Bybel in Russies!

Die vertalers van die Geskrifte was Mikhail Iakowlewitsj Gloekaref, wat as die argimandriet Makarios bekend staan, en Gerasim Petrowitsj Pawski. Hulle was albei vooraanstaande lede van die Russies-Ortodokse Kerk, asook taalgeleerdes. Toe hierdie manne hulle werk in die vroeë deel van die vorige eeu begin het, was die volledige Bybel nog nie in Russies vertaal nie.

Die Bybel was weliswaar in Slawies, ’n taal wat die voorloper van hedendaagse Russies was. Maar teen die middel van die 19de eeu was Slawies lankal in onbruik, behalwe in kerkdienste waar dit deur die geestelikes gebruik is. Daar was ’n soortgelyke situasie in die Weste, waar die Rooms-Katolieke Kerk die Bybel uitsluitlik in Latyn probeer hou het lank nadat Latyn ’n dooie taal geword het.

Makarios en Pawski het die Bybel vir gewone mense toeganklik probeer maak. Die ontdekking van hulle lank vergete werk het dit dus moontlik gemaak om ’n belangrike deel van die godsdiens- en letterkundige erfenis van Rusland te herstel.

Maar presies wie was Makarios en Pawski? En waarom het hulle pogings om die Bybel in die omgangstaal van die mense te vertaal sulke teenstand ondervind? Hulle verhaal is boeiend asook geloofversterkend vir alle liefhebbers van die Bybel.

Die behoefte aan ’n Russiese Bybel

Makarios en Pawski was nie die eerstes wat besef het dat daar ’n behoefte aan ’n Bybel in die omgangstaal van die mense is nie. Honderd jaar tevore het die Russiese tsaar, Pieter I, of Pieter die Grote, ook die behoefte daaraan besef. Dit is betekenisvol dat hy die Heilige Skrif gerespekteer het, en hy word soos volg aangehaal: “Die Bybel is ’n boek wat uittroon bo alle ander, en dit bevat alles wat op die mens se plig teenoor God en sy naaste betrekking het.”

Pieter het gevolglik in 1716 sy koninklike hof beveel om ’n Bybel in Amsterdam te laat druk op sy koste. Elke bladsy moes ’n kolom met Russiese teks en ’n kolom met Nederlandse teks hê. Net een jaar later, in 1717, was die Christelike Griekse Geskrifte, of “Nuwe Testament”, gereed.

Teen 1721 is die Nederlandse deel van die vertaling van die Hebreeuse Geskrifte wat uit vier bundels bestaan het ook gedruk. Een kolom is oopgelaat sodat die Russiese teks later bygevoeg kon word. Pieter het die Bybels aan die “Heilige Sinode” van die Russies-Ortodokse Kerk—die hoogste godsdiensgesag van die kerk—oorhandig om die drukwerk te voltooi en die verspreiding te behartig. Die sinode het dit egter nie deurgevoer nie.

Minder as vier jaar later was Pieter dood. Wat het van sy Bybels geword? Die leë kolomme wat vir die Russiese teks bedoel was, is nooit ingevul nie. Die Bybels is in hoë stapels in ’n kelder gepak, waar hulle vergaan het—nie ’n enkele onbeskadigde eksemplaar kon later gevind word nie! Die sinode se besluit was om “alles wat oorgebly het aan die handelaars te verkoop”.

Vertaling begin

In 1812 het John Paterson, ’n lid van die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, na Rusland gekom. Paterson het die belangstelling van St. Petersburg se intellektuele gewek om ’n Bybelgenootskap te stig. Op 6 Desember 1812—dieselfde jaar toe die Russiese leër Napoleon I se invallende troepe teruggedryf het—het tsaar Aleksander I die stigtingsakte vir ’n Russiese Bybelgenootskap goedgekeur. In 1815 het die tsaar die voorsitter van die genootskap, prins Aleksandr Golitsin, beveel om aan die bestuursinode voor te stel dat “die Russe ook die geleentheid moet hê om die Woord van God in hulle eie Russiese moedertaal te lees”.

Tot hulle lof is goedkeuring gegee om die Hebreeuse Geskrifte regstreeks uit die oorspronklike Hebreeus in Russies te vertaal. Die antieke Griekse Septuagint was die grondslag vir vertalings van die Hebreeuse Geskrifte in Slawies. Daar is vir diegene wat die Bybel in Russies sou vertaal, gesê dat die hoofbeginsels van die vertaling juistheid, duidelikheid en suiwerheid moes wees. Wat het geword van hierdie vroeë pogings om die Bybel in Russies te vertaal?

’n Doodslag vir Bybelvertaling?

Konserwatiewe elemente in sowel die kerk as die regering het spoedig lugtig geraak vir buitelandse godsdiens- en politieke invloed. Party kerkleiers het daarbenewens beweer dat Slawies—die taal van die liturgie—die Bybel se boodskap beter uitgedruk het as Russies.

Die Russiese Bybelgenootskap is gevolglik in 1826 ontbind. Etlike duisende eksemplare van vertalings wat deur die Bybelgenootskap gedruk is, is verbrand. Die Bybel is gevolglik vanweë kerkgebruike en tradisie op die agtergrond geskuif. Net soos die Rooms-Katolieke Kerk het die sinode in 1836 beslis: “Dit is enige vroom leek geoorloof om die Skrif te hoor; maar dit is niemand geoorloof om enige deel van die Skrif, veral die Ou Testament, sonder leiding te lees nie.” Dit het gelyk of Bybelvertaling ’n doodslag toegedien is.

Die werk van Pawski

Intussen het Gerasim Pawski, ’n professor van Hebreeus, die taak onderneem om die Hebreeuse Geskrifte in Russies te vertaal. In 1821 het hy ’n vertaling van Psalms voltooi. Die tsaar het dit sonder versuim goedgekeur, en teen Januarie 1822 is die boek Psalms aan die publiek beskikbaar gestel. Dit het onmiddellik byval gevind en moes 12 keer herdruk word—altesaam 100 000 eksemplare!

Weens Pawski se akademiese pogings het baie taalgeleerdes en teoloë agting vir hom gehad. Hy word beskryf as ’n reguit en eerlike man wat verhewe was bo die intriges om hom. Ondanks die kerk se teenstand teen die Russiese Bybelgenootskap en die feit dat party gemeen het dat dit buitelandse belange verteenwoordig, het professor Pawski aangehou om tydens sy lesings Bybelverse in Russies te vertaal. Sy studente wat vol bewondering vir sy werk was, het sy vertalings neergeskryf en kon na verloop van tyd sy werk in ’n bundel saamstel. In 1839 het hulle die moed bymekaargeskraap om 150 eksemplare op die akademie se pers te druk—sonder die toestemming van die sensors.

Pawski se vertaling het ’n groot indruk gemaak op lesers, en die vraag daarna het bly toeneem. Maar in 1841 is ’n anonieme klagte by die sinode ingedien oor die “gevaar” van hierdie vertaling, en dit het beweer dat dit van die Ortodokse dogma afwyk. Twee jaar later het die sinode ’n bevel uitgevaardig: “Lê beslag op alle bestaande handgeskrewe en litografiese eksemplare van G. Pawski se vertaling van die Ou Testament en vernietig dit.”

Die naam van God word verheerlik

Pawski het nietemin belangstelling in Bybelvertaling aangewakker. Hy het ook ’n belangrike presedent vir toekomstige vertalers geskep wat ’n ander belangrike kwessie betref—God se naam.

Die Russiese navorser Korsoenski het verduidelik: ‘Die naam van God, die heiligste van sy name, het uit vier Hebreeuse karakters יהוה bestaan en word nou uitgespreek as Jehovah.’ In ou eksemplare van die Bybel verskyn daardie kenmerkende naam van God duisende kere in die Hebreeuse Geskrifte alleen. Maar die Jode het verkeerdelik begin glo dat die Goddelike naam te heilig was om te skryf of uit te spreek. Korsoenski sê die volgende hieromtrent: ‘In die gesproke of geskrewe taal is dit gewoonlik vervang deur Adonai, ’n woord wat oor die algemeen as “Here” vertaal word.’

Dit is duidelik dat die versuim om die Goddelike naam te gebruik die gevolg van ’n bygelowige vrees was—nie van ontsag vir God nie. Die Bybel self ontmoedig nêrens die gebruik van God se naam nie. God self het vir Moses gesê: “Só moet jy vir die kinders van Israel sê: Jehovah, die God van julle voorvaders . . . het my na julle toe gestuur. Dit is my naam tot onbepaalde tyd, en dit is die gedagtenis aan my van geslag tot geslag” (Exodus 3:15, NW). Die Skrif spoor aanbidders herhaaldelik aan: “Dank Jehovah! Roep sy naam aan” (Jesaja 12:4, NW). Die meeste Bybelvertalers het nietemin verkies om Joodse tradisie te volg en het die gebruik van die Goddelike naam vermy.

Pawski het egter nie hierdie tradisies gevolg nie. In sy vertaling van die Psalms alleen verskyn die naam Jehovah meer as 35 keer. Sy moed sou ’n belangrike invloed op een van sy tydgenote hê.

Die argimandriet Makarios

Hierdie tydgenoot was die argimandriet Makarios, ’n Russies-Ortodokse sendeling wat buitengewone taalvaardighede gehad het. Op die jong ouderdom van sewe kon hy kort Russiese tekste in Latyn vertaal. Teen die tyd dat hy 20 was, het hy Hebreeus, Duits en Frans geken. ’n Nederige gesindheid en ’n diepe besef van sy verantwoordelikheid teenoor God het hom egter gehelp om die strik van te veel selfvertroue te vermy. Hy het herhaaldelik die raad van ander taalkundiges en geleerdes ingewin.

Makarios wou sendingwerk in Rusland hervorm. Hy het gemeen dat die kerk eers “die volksmassa moet verlig deur skole te stig en Bybels in Russies te versprei” voordat die Christelike godsdiens na Moslems en Jode in Rusland geneem kon word. In Maart 1839 het Makarios in St. Petersburg aangekom in die hoop dat hy toestemming sou ontvang om die Hebreeuse Geskrifte in Russies te vertaal.

Makarios het reeds die Bybelboeke Jesaja en Job vertaal. Die sinode het egter geweier om hom toestemming te gee om die Hebreeuse Geskrifte in Russies te vertaal. Trouens, hulle het vir Makarios gesê om heeltemal af te sien van die gedagte om die Hebreeuse Geskrifte in Russies te vertaal. Die sinode het ’n beslissing uitgevaardig, gedateer 11 April 1841, wat Makarios beveel het “om drie tot ses weke lank boete te doen by die huis van ’n biskop in Tomsk sodat sy gewete deur gebed en kniebuigings gereinig kan word”.

Makarios se moedige optrede

Van Desember 1841 tot Januarie 1842 het Makarios sy boetedoening uitgedien. Maar onmiddellik nadat hy dit voltooi het, het hy die res van die Hebreeuse Geskrifte begin vertaal. Hy het ’n eksemplaar van Pawski se vertaling van die Hebreeuse Geskrifte bekom en het dit gebruik om sy eie weergawes na te gaan. Net soos Pawski het hy geweier om die Goddelike naam te verberg. Trouens, die naam Jehovah verskyn meer as 3500 keer in die Makarios-vertaling!

Makarios het eksemplare van sy werk aan goedgesinde vriende gestuur. Hoewel ’n paar handgeskrewe eksemplare in omloop gekom het, het die kerk voortgegaan om die publikasie van sy werk te verhinder. Makarios het planne gemaak om sy Bybel in die buiteland bekend te stel. Op die vooraand van sy vertrek het hy siek geword en toe kort daarna, in die jaar 1847, gesterf. Sy Bybelvertaling is nooit in sy leeftyd gepubliseer nie.

Uiteindelik gepubliseer!

Uiteindelik het die godsdiens- en politieke atmosfeer verander. ’n Nuwe liberalisme het deur die land versprei, en in 1856 het die sinode weer eens die vertaling van die Bybel in Russies goedgekeur. In hierdie verbeterde klimaat is die Makarios-Bybel tussen 1860 en 1867 stuk-stuk gepubliseer in die Orthodox Review onder die titel ’n Vertaaleksperiment in Russies.

Aartsbiskop Filaret van Tjernigof, ’n kenner van Russiese godsdiensliteratuur, het die Makarios-Bybel as volg aangeprys: “Sy vertaling is getrou aan die Hebreeuse teks, en die taal van die vertaling is suiwer en pas by die onderwerp.”

Die Makarios-Bybel is egter nooit aan die gewone publiek beskikbaar gestel nie. Trouens, dit het byna heeltemal vergete geraak. In 1876 is die volledige Bybel, die Hebreeuse sowel as die Griekse Geskrifte, uiteindelik met die goedkeuring van die sinode in Russies vertaal. Hierdie volledige Bybel word dikwels die sinodale vertaling genoem. Dit is ironies dat die Makarios-vertaling, asook Pawski se vertaling, as hoofbron vir hierdie “amptelike” vertaling van die Russies-Ortodokse Kerk gedien het. Maar die Goddelike naam is slegs in ’n paar van die plekke gebruik waar dit in die Hebreeus voorkom.

Die Makarios-Bybel vandag

Die Makarios-Bybel het tot 1993 verborge gebly. Soos in die inleiding gesê is, is ’n eksemplaar daarvan destyds in ou Orthodox Review-tydskrifte gevind in die afdeling van seldsame boeke van die Russiese Nasionale Biblioteek. Jehovah se Getuies het die waarde daarvan besef om hierdie Bybel aan die publiek beskikbaar te stel. Die biblioteek het die Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies in Rusland toestemming gegee om ’n afskrif van die Makarios-Bybel te laat maak sodat dit vir publikasie voorberei kon word.

Jehovah se Getuies het toe gereël dat nagenoeg 300 000 eksemplare van hierdie Bybel in Italië gedruk word vir verspreiding regdeur Rusland en die talle ander lande waar Russies gepraat word. Benewens Makarios se vertaling van die grootste deel van die Hebreeuse Geskrifte, bevat hierdie uitgawe van die Bybel Pawski se vertaling van Psalms, asook die sinodale vertaling van die Griekse Geskrifte wat die Ortodokse Kerk gemagtig het.

In Januarie vanjaar is dit tydens ’n nuuskonferensie in St. Petersburg, Rusland, vrygestel. (Sien bladsy 26.) Russiese lesers sal beslis verlig en geestelik opgebou word deur hierdie nuwe Bybel.

Die publikasie van hierdie Bybel is dus ’n godsdiens- en letterkundige oorwinning! Dit is ook ’n geloofversterkende herinnering aan die waaragtigheid van die woorde in Jesaja 40:8: “Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.”

die nuwe Russiese Bybel vernoem is

[Venster/Prent op bladsy 26]

Bybel toegejuig deur kritici

“Nog ’n monument in die letterkunde is vrygestel: die Makarios-Bybel.” Met dié inleiding het die koerant Komsomolskaia Prawda die vrystelling van die Makarios-Bybel aangekondig.

Nadat die koerant melding gemaak het van die feit dat die Bybel maar eers sowat “120 jaar gelede” in Russies verskyn het, het dit die volgende kwessie betreur: “Die kerk was baie jare lank gekant teen die vertaling van die heilige boeke in ’n maklik leesbare taal. Nadat die kerk verskeie vertalings verwerp het, het dit uiteindelik een van hulle in 1876 erken, en dit is die sinodale vertaling genoem. Dit is egter nie in die kerke toegelaat nie. Tot vandag toe is die enigste Bybel wat dáár erken word in Slawies.”

Die koerant St. Petersburg Echo het ook gewys op hoe nuttig dit was om die Makarios-Bybel te publiseer en gesê: “Gesaghebbende geleerdes van die Staatsuniversiteit van St. Petersburg, die Opvoedkundige Universiteit van Herzen en die Staatsmuseum vir Godsdiensgeskiedenis het hierdie nuwe uitgawe van die Bybel hoog aangeslaan.” Met verwysing na die vertaling van die Bybel in Russies deur Makarios en Pawski in die eerste helfte van die vorige eeu, het die koerant gesê: “Tot en met daardie tyd kon ’n mens in Rusland die Bybel net in Slawies lees, wat alleenlik vir die geestelikes verstaanbaar was.”

Die vrystelling van die Makarios-Bybel deur Jehovah se Getuies is vroeër vanjaar tydens ’n perskonferensie in St. Petersburg bekend gemaak. Die plaaslike dagblad Newskoie Wremia het gesê: “Gesaghebbende geleerdes . . . het beklemtoon dat die uitgawe beskou moet word as ’n geweldig betekenisvolle feit in die kulturele lewe van Rusland en St. Petersburg. Ongeag wat ’n mens van die bedrywighede van hierdie godsdiensorganisasie dink, die publikasie van hierdie voorheen onbekende vertaling van die Bybel is ongetwyfeld van groot nut.”

Alle liefhebbers van God is beslis verheug wanneer sy geskrewe Woord beskikbaar gestel word in ’n taal wat deur gewone mense gelees en verstaan kan word. Bybelliefhebbers in alle wêrelddele is verheug dat nog ’n Bybelvertaling beskikbaar gestel is vir die miljoene Russiessprekende mense oor die hele wêreld.

[Prent]

Die vrystelling van die Makarios-Bybel is by hierdie perskonferensie aangekondig

[Prent op bladsy 23]

Die Russiese Nasionale Biblioteek waar die verborge skat gevind is

[Prent op bladsy 23]

Pieter die Grote het probeer om die Bybel in Russies te laat publiseer

[Erkenning]

Corbis-Bettmann

[Prent op bladsy 24]

Gerasim Pawski, wat bygedra het tot die vertaling van die Bybel in Russies

[Prent op bladsy 25]

Die argimandriet Makarios, na wie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel