Bereik selfs meer mense met die goeie nuus
TERWYL ek gedink het aan die mense in die land waar ek woon, het ek besef dat baie van hulle Jehovah se Getuies net deur nuusberigte ken. Daar moet met hierdie mense in aanraking gekom word, het ek gedink, sodat hulle kan uitvind wie Jehovah se Getuies is en wat hulle werklik glo. Maar hoe kon ek help? My man is ’n Christen- ouer man, en hy het my goeie riglyne en wenke gegee.
Ons het ’n uitstekende idee gevind in die artikel “Tydskrifte wat praktiese vertroosting bied” in die Ontwaak! van 8 Januarie 1995. Die artikel sê die volgende oor die bedrywigheid van ’n Getuie: “Sy lê haar daarop toe om ouer eksemplare van sekere Ontwaak!-tydskrifte, wat ander Getuies by hulle huise opgegaar het, bymekaar te maak. Dan besoek sy instansies wat sy dink moontlik spesiale belangstelling in sommige van die onderwerpe sal toon.”
Met my man se hulp het ek spoedig ’n paar honderd eksemplare van die tydskrifte versamel. Ek kon daaruit ’n verskeidenheid onderwerpe kies wat gepas sou wees vir mense met wie ek in aanraking wou kom.
Ek het telefoongidse en openbare rekords gebruik om ’n lys op te stel van hospitale, jeugherberge en verpleeginrigtings. Ek het ook ’n lys gehad van begrafnisondernemers, skoolhoofde en -voorligters, lykskouers, asook amptenare van gevangenisse en geregshowe. My lys het direkteure van instellings vir alkoholiste en dwelmverslaafdes ingesluit, verenigings gemoeid met omgewingsake, verenigings vir gestremdes en vir slagoffers van oorloë, asook vir dieetkundige navorsing. Ek het ook nie vergeet van hoofde van welsynskantore, maatskaplike dienste en familieaangeleenthede nie.
Wat sou ek sê?
Wanneer ek ’n plek besoek het, het ek eerstens verduidelik wie ek is. Dan het ek gemeld dat my besoek net ’n paar minute sou duur.
Wanneer ek die persoon ontmoet het wat aan die hoof staan, het ek gesê: “Ek is een van Jehovah se Getuies. Maar ek is nie hier vir ’n godsdienstige bespreking nie, wat dalk onvanpas gedurende kantoorure sal wees.” Die atmosfeer het gewoonlik meer ontspanne geword. Dan het ek my kommentare by die situasie aangepas en vervolg: “Die rede vir my besoek is tweevoudig. Eerstens wil ek graag my waardering uitspreek vir die werk wat deur julle kantoor georganiseer word. Dit moet per slot van sake nie as vanselfsprekend aanvaar word dat iemand sy tyd en energie ten behoewe van die publiek opoffer nie. Dit verdien beslis lof.” In baie gevalle was die persoon wat só genader is, verbaas.
Teen dié tyd het die persoon heel waarskynlik gewonder wat die tweede rede vir my besoek was. Ek het dan voortgegaan deur te sê: “Die tweede rede vir my besoek is dít: Uit ons tydskrif, die Ontwaak!, wat oor die hele wêreld uitgegee word, het ek ’n paar artikels gekies wat in die besonder handel oor u soort werk en die probleme wat daarmee verband hou. Ek is seker daarvan dat u graag sal wil weet hoe ’n internasionale tydskrif hierdie probleme beskou. Ek sal hierdie eksemplare met graagte by u laat.” Daar is dikwels vir my gesê dat my moeite hoog op prys gestel word.
Verbasende en lonende resultate
Wanneer ek hierdie benadering gebruik het, het die meeste my vriendelik ontvang; slegs een uit 17 het my weggewys. Ek het talle ondervindinge gehad wat verbasend sowel as lonend was.
Byvoorbeeld, nadat ek vier keer probeer en geduldig gewag het, het ek daarin geslaag om ’n distrikskoolinspekteur te ontmoet. Hy was ’n baie besige man. Maar hy was baie vriendelik en het ’n rukkie met my gesels. Toe ek gereed was om te gaan, het hy gesê: “Ek waardeer werklik u moeite, en ek sal beslis julle lektuur sorgvuldig lees.”
By ’n ander geleentheid het ek na ’n streekhof gegaan en die hoofregter, ’n middeljarige man, ontmoet. Toe ek by sy kantoor instap, het hy ietwat geïrriteerd van sy dokumente af opgekyk.
“Kantoorure is slegs Dinsdagoggend, en dan sal ek beskikbaar wees vir enige inligting”, het hy stroef gesê.
“Ek vra verskoning as ek op ’n ongeleë tyd gekom het”, het ek gou geantwoord en bygevoeg: “Ek sal natuurlik met graagte weer op ’n ander tyd kom. Maar my besoek is eintlik persoonlik.”
Dít het die regter se belangstelling gewek. Hy het op ’n minder vyandige toon gevra wat die doel van my besoek was. Ek het herhaal dat ek Dinsdag sou terugkom.
“Sit asseblief”, het hy tot my verbasing gesê. “Waarmee kan ek help?”
’n Lewendige gesprek het gevolg, en hy het verskoning gevra dat hy aan die begin so onvriendelik was, maar hy was werklik baie besig.
“Weet jy wat ek waardeer omtrent Jehovah se Getuies?” het die regter ná ’n ruk gevra. “Hulle het gegronde beginsels waarvan hulle nie afwyk nie. Hitler het alles in sy vermoë gedoen, maar die Getuies het nog steeds nie aan die oorlog deelgeneem nie.”
Toe twee van ons eenkeer by ’n kantoor ingestap het, het die sekretaresses ons herken. Die uitvoerende sekretaresse het koel gesê: “Die president ontvang nooit lede van organisasies nie.”
“Maar hy sal ons ontvang”, het ek kalm geantwoord, “want ons is Jehovah se Getuies. Ons kom nie ’n petisie indien nie, en ons besoek sal nie langer as drie minute duur nie.” In my hart het ek vurig gebid: “O Jehovah, laat dit asseblief geslaagd wees!”
Die sekretaresse het stroef geantwoord: “Nou maar goed, ek sal probeer.” Sy het weggestap. Ná omtrent twee minute, wat vir my soos ’n ewigheid gevoel het, het sy saam met die president verskyn. Sonder om ’n woord te sê, het hy voor ons uit na sy kantoor gestap, verby twee ander vertrekke.
Toe ons begin gesels, het hy al hoe vriendeliker geword. Hy het die spesiale nommers van die Ontwaak! wat ons aangebied het gewillig geneem. Ons het Jehovah gedank vir hierdie geleentheid om ’n goeie getuienis oor die doel van ons werk te gee.
As ek terugkyk op die talle wonderlike ondervindinge, gee dit my groter waardering vir die woorde van die apostel Petrus: “Ek bemerk vir seker dat God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). God se wil is dat mense van alle agtergronde, tale of sosiale stande die geleentheid moet kry om sy voorneme met die mens en die aarde te leer ken.—Bygedra.