Hulle het Jehovah se wil gedoen
Jesus stuur 70 dissipels uit
DIT was die herfs van 32 G.J. Daar was nog net ses maande oor voor Jesus se dood. Om dus die predikingswerk te bespoedig en verdere opleiding aan party van sy volgelinge te gee, het hy 70 dissipels aangewys en “hulle twee-twee voor hom uit gestuur na elke stad en plek waar hy self sou kom”.—Lukas 10:1.a
Jesus het sy dissipels “voor hom uit” gestuur sodat die mense vinniger sou kon besluit of hulle vir of teen die Messias is wanneer Jesus self later opdaag. Maar waarom het hy hulle “twee-twee” gestuur? Klaarblyklik sodat hulle mekaar kon aanmoedig wanneer hulle voor teenstand te staan sou kom.
Jesus het die dringendheid van hulle predikingswerk beklemtoon deur vir sy volgelinge te sê: “Die oes is werklik groot, maar die werkers is min. Smeek dus die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Lukas 10:2). Die vergelyking met ’n oes was gepas, want enige vertraging gedurende die oestyd kon tot die verlies van kosbare gewasse lei. Net so kon kosbare lewens verlore gaan as die dissipels sou versuim om hulle predikingstoewysing uit te voer!—Esegiël 33:6.
Doelgerigte bedienaars
Jesus het sy dissipels verder beveel: “Moenie ’n beurs of ’n voedselsak of sandale saamdra nie, en moet niemand langs die pad met ’n omhelsing groet nie” (Lukas 10:4). Dit was gebruiklik vir ’n reisiger om nie net ’n sak en voedsel saam te dra nie, maar ook ’n ekstra paar sandale, want die sole kon verslyt en veters kon breek. Maar Jesus se dissipels moes hulle nie oor hierdie dinge bekommer nie. Hulle moes eerder vertrou dat Jehovah vir hulle sou sorg deur middel van mede-Israeliete, onder wie gasvryheid ’n gebruik was.
Maar waarom het Jesus vir sy dissipels gesê dat hulle niemand met ’n omhelsing moet groet nie? Moes hulle koel of selfs ongemanierd wees? Beslis nie! Die Griekse woord a·spaʹzo·mai, wat beteken om met ’n omhelsing te groet, kan meer as ’n beleefde “hallo” of “goeiedag” behels. Dit kan ook die gebruiklike soene, omhelsings en lang gesprekke insluit wat gevolg het wanneer twee kennisse mekaar raakgeloop het. ’n Kommentator sê: “Begroetinge onder die Oosterlinge was nie, soos onder ons, net ’n knik of handdruk nie, maar het bestaan uit talle omhelsings en buigings en selfs neerknielings. Dit alles het baie tyd in beslag geneem.” (Vergelyk 2 Konings 4:29.) Jesus het dus sy volgelinge gehelp om onnodige, tydrowende gebruike te vermy.
Laastens het Jesus vir sy dissipels gesê dat hulle, wanneer hulle in ’n huis ingegaan het en verwelkom is, moes bly “in daardie huis en eet en drink wat hulle voorsien”. Maar as hulle in ’n stad ingegaan het en nie goed ontvang is nie, moes hulle “in sy breë strate [uitgaan] en sê: ‘Selfs die stof wat uit julle stad aan ons voete gekleef het, vee ons teen julle af’” (Lukas 10:7, 10, 11). Om die stof van hulle voete af te vee of af te skud, het beteken dat die dissipels die onontvanklike huis of stad in vrede sou oorlaat aan wat God uiteindelik daaroor sou bring. Maar diegene wat Jesus se dissipels vriendelik ontvang het, het vir seëninge in aanmerking gekom. Jesus het by ’n ander geleentheid vir sy apostels gesê: “Hy wat julle ontvang, ontvang my ook, en hy wat my ontvang, ontvang ook hom wat my uitgestuur het. En elkeen wat een van hierdie kleintjies net ’n beker koue water gee om te drink omdat hy ’n dissipel is, voorwaar, ek sê vir julle, hy sal sy beloning hoegenaamd nie verloor nie.”—Matteus 10:40, 42.
Lesse vir ons
Die opdrag om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig en dissipels te maak, word nou deur ver oor die 5000 000 Getuies van Jehovah regoor die wêreld uitgevoer (Matteus 24:14; 28:19, 20). Hulle besef dat hulle boodskap dringend is. Daarom benut hulle hulle tyd ten volle en vermy hulle dinge wat sal verhinder dat hulle hulle volle aandag aan hulle belangrike toewysing gee.
Jehovah se Getuies strewe daarna om vriendelik te wees teenoor almal wat hulle teëkom. Maar hulle maak nie bloot praatjies nie, en hulle raak ook nie betrokke by debatte oor maatskaplike kwessies of die vergeefse pogings van hierdie wêreld om onregte reg te stel nie (Johannes 17:16). Hulle gesprekke draai eerder om die enigste langtermynoplossing vir die mens se probleme—God se Koninkryk.
Jehovah se Getuies werk gewoonlik in pare. Kan daar nie meer bereik word as elkeen op sy eie werk nie? Miskien. Maar hedendaagse Christene besef hoe voordelig dit is om sy aan sy met ’n medegelowige te werk. Dit bied ’n mate van beskerming wanneer hulle in gevaarlike gebiede getuig. Deur saam met ’n maat te werk, kan nuwelinge ook baat vind by die bedrewenheid van meer ervare verkondigers van die goeie nuus. Albei kan in werklikheid bydra tot die uitwisseling van aanmoediging.—Spreuke 27:17.
Die predikingswerk is ongetwyfeld die dringendste werk wat in hierdie “laaste dae” verrig word (2 Timoteus 3:1). Jehovah se Getuies is bly om die ondersteuning te hê van ’n wêreldwye broederskap waarin hulle “sy aan sy vir die geloof van die goeie nuus” werk.—Filippense 1:27.
[Voetnoot]
a Party Bybels en ou Griekse manuskripte sê dat Jesus “twee-en-sewentig” dissipels uitgestuur het. Maar daar is genoeg bewyse in manuskripte wat die weergawe “sewentig” steun. Hierdie tegniese verskil verander nie die hoofgedagte nie, naamlik dat Jesus ’n groot groep van sy dissipels uitgestuur het om te preek.