Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 9/1 bl. 24-28
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die begin van swaar toetse
  • Sou ons ’n kompromis aangaan?
  • Die vervolging verskerp
  • Ons word na die ooste geneem—en ontsnap
  • Vryheid maar verdere tragedie
  • Uiteindelik vryheid!
  • Geloof tydens beproewinge in Slowakye
    Ontwaak!—2002
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly
    Ontwaak!—2002
  • Ons het ’n ferm standpunt ingeneem vir God se heerskappy
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 9/1 bl. 24-28

Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou

SOOS VERTEL DEUR JÁN KORPA-ONDO

Dit was 1942, en Hongaarse soldate het my naby Kursk, Rusland, bewaak. Ons was gevangenes van die Spilmoondhede wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog teen die Russe geveg het. My graf is gegrawe, en hulle het my tien minute gegee om te besluit of ek ’n dokument sou teken wat gesê het dat ek nie meer een van Jehovah se Getuies is nie. Voordat ek sê wat volgende gebeur het, laat ek eers vertel hoe ek daar beland het.

EK IS in 1904 gebore in die klein dorpie Zahor, wat nou in oostelike Slowakye is. Ná die Eerste Wêreldoorlog het Zahor deel geword van die pas gevormde land Tsjeggo-Slowakye. Ons dorpie het omtrent 200 huise en twee kerke gehad, waarvan een Grieks-Katoliek was en die ander een Calvinisties.

Al het ek na die Calvinistiese Kerk gegaan, het ek ’n lewe sonder enige sedelike perke gelei. Naby my het ’n man gewoon wat baie anders was. Eendag het hy ’n gesprek met my begin en vir my ’n Bybel geleen. Dit was die eerste keer dat ek daardie boek vasgehou het. Ongeveer daardie tyd, in 1926, is ek met Barbora getroud, en kort voor lank het ons twee kinders gehad, Barbora en Ján.

Ek het die Bybel begin lees, maar daar was baie dinge wat ek nie verstaan het nie. Ek het dus na my predikant gegaan en hom gevra om my te help. “Die Bybel is net vir geleerde mense”, het hy gesê, “moenie eers probeer om dit te verstaan nie.” Toe het hy my genooi om saam met hom kaart te speel.

Daarna het ek na die man gegaan wat vir my die Bybel geleen het. Hy was ’n Bybelstudent, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is. Hy het my met graagte gehelp, en mettertyd het my oë begin oopgaan. Ek het opgehou om drank te misbruik en het ’n sedelike lewe begin lei; ek het selfs met ander oor Jehovah begin praat. Bybelwaarheid het in die vroeë twintigerjare in Zahor wortelgeskiet, en dit was nie lank nie of daar was ’n bedrywige groep Bybelstudente.

Daar was nietemin hewige godsdiensteenstand. Die plaaslike priester het die meeste van my familie teen my laat draai en het beweer dat ek kranksinnig geword het. Maar my lewe het ’n doel begin kry, en ek het vas besluit om die ware God, Jehovah, te dien. Gevolglik het ek in 1930 my toewyding aan Jehovah gesimboliseer en is ek gedoop.

Die begin van swaar toetse

In 1938 het ons streek onder die beheer van Hongarye gekom, wat hulle gedurende die Tweede Wêreldoorlog aan Duitsland se kant geskaar het. Teen daardie tyd het ons al 50 Getuies in ons dorpie met minder as duisend mense gehad. Ons het aangehou met die predikingswerk selfs al het ons sodoende ons lewe en vryheid in gevaar gestel.

In 1940 is ek vir die Hongaarse leër opgeroep. Wat sou ek doen? Wel, ek het die Bybelprofesieë gelees van mense wat werktuie van vrede van hulle oorlogswapens smee, en ek het geweet dat God mettertyd ’n einde aan alle oorloë op die aarde sal maak (Psalm 46:10; Jesaja 2:4). As gevolg daarvan het ek oorlog gehaat, en ek het besluit om nie by die leër aan te sluit nie, ongeag die gevolge.

Ek is tot 14 maande gevangenisstraf gevonnis en het my vonnis in Pécs, Hongarye, uitgedien. Vyf ander Getuies was in dieselfde gevangenis, en ons het dit waardeer dat ons met mekaar kon assosieer. Ek was egter ’n ruk lank in alleenopsluiting met kettings aan my voete. Wanneer ons geweier het om werk te doen wat met die oorlogspoging te doen gehad het, is ons geslaan. Ons is ook gedwing om die hele dag op aandag te staan, behalwe twee uur lank gedurende die middel van die dag. Hierdie beproewing het maande lank voortgeduur. Tog was ons bly omdat ons ’n skoon gewete voor ons God gehad het.

Sou ons ’n kompromis aangaan?

Eendag het ’n groep van 15 Katolieke priesters gekom en ons probeer oortuig dat dit belangrik is om die oorlogspoging te ondersteun deur by die leër aan te sluit. Tydens die bespreking het ons gesê: “As julle uit die Bybel kan bewys dat die siel onsterflik is en dat ons hemel toe sal gaan as ons in die oorlog sterf, sal ons by die leër aansluit.” Hulle kon dit natuurlik nie bewys nie, en hulle wou nie die gesprek voortsit nie.

In 1941 was my gevangenisstraf uitgedien, en ek het daarna uitgesien om weer by my gesin te wees. Pleks daarvan is ek in kettings na ’n militêre basis in Sárospatak, Hongarye, geneem. Toe ons daar aankom, is ek ’n geleentheid gebied om bevry te word. “Al wat jy moet doen”, is daar vir my gesê, “is om hierdie belofte te teken dat jy 200 pengö sal betaal wanneer jy weer by die huis is.”

“Hoe is dit moontlik?” het ek gevra. “Waarvoor wil julle die geld hê?”

“In ruil vir die geld”, is daar vir my gesê, “sal jy ’n sertifikaat ontvang wat sê dat jy nie die liggaamlike keuring vir die leër geslaag het nie.”

Dit het my voor ’n moeilike keuse gestel. Meer as ’n jaar lank het ek onmenslike behandeling verduur; ek was moeg. Nou kon ek, deur in te stem om geld te betaal, vry wees. “Ek sal daaroor dink”, het ek gemompel.

Watter besluit sou ek neem? Ek moes aan my vrou en kinders ook dink. Wel, omtrent daardie tyd het ek ’n brief van ’n mede-Christen ontvang waarin hy my aangemoedig het. Hy het Hebreërs 10:38 aangehaal, waar die apostel Paulus Jehovah se woorde aanhaal: “‘My regverdige sal weens geloof lewe’, en ‘as hy terugdeins, het my siel geen behae in hom nie’.” Kort daarna het twee Hongaarse offisiere by die barak met my gesels, en die een het gesê: “Jy weet nie hoeveel ons jou respekteer omdat jy Bybelbeginsels so getrou handhaaf nie! Moenie moed opgee nie!”

Die volgende dag het ek na die mense gegaan wat my my vryheid vir 200 pengö aangebied het en gesê: “Jehovah God het toegelaat dat ek gevange geneem word, daarom sal hy ook vir my vrylating sorg. Ek sal myself nie loskoop nie.” Ek is dus tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis. Maar dit was nie die laaste poging om my my geloof te laat prysgee nie. Die hof het aangebied om my kwyt te skeld as ek instem om net twee maande in die leër te dien, en ek sou nie eers ’n wapen hoef te dra nie! Ek het daardie aanbod ook van die hand gewys, en my gevangenisstraf het begin.

Die vervolging verskerp

Ek is weer na die gevangenis in Pécs geneem. Hierdie keer was die marteling selfs erger. My hande is agter my rug vasgemaak, en ek is ongeveer twee uur lank aan my hande opgehang. Die gevolg was dat albei my skouers uit lit geruk is. Hierdie marteling is oor ’n tydperk van ongeveer ses maande herhaal. Ek kan Jehovah net bedank dat ek nie moed opgegee het nie.

In 1942 is ’n groep van ons—staatsgevangenes, Jode en 26 Getuies van Jehovah—na die stad Kursk geneem in ’n gebied wat deur Duitse troepe beset is. Ons is aan die Duitsers oorhandig, en hulle het die gevangenes aan die werk gesit om voedsel, wapens en klere na die soldate aan die front te neem. Ons Getuies het geweier om hierdie werk te doen omdat dit ons Christelike neutraliteit sou skend. Gevolglik is ons na die Hongare teruggestuur.

Uiteindelik is ons in die plaaslike gevangenis in Kursk gesit. Ons is etlike dae drie keer per dag met rubberknuppels geslaan. Ek het ’n hou teen my slaap gekry en het op my knieë geval. Terwyl ek geslaan is, het ek gedink: ‘Dit is nie so moeilik om te sterf nie.’ My hele liggaam het gevoelloos geraak. Drie dae lank is ons absoluut niks gegee om te eet nie. Toe is ons hof toe geneem, en ses is ter dood veroordeel. Toe die vonnis voltrek is, was daar 20 van ons oor.

Die toetse van geloof wat ek gedurende daardie dae in Oktober 1942 in Kursk verduur het, was die grootste waarvoor ek nog ooit te staan gekom het. Ons gevoelens word goed uitgedruk deur koning Josafat van die ou tyd toe sy volk voor ’n oorweldigende oormag te staan gekom het: “In ons is geen krag teenoor hierdie groot menigte wat teen ons gekom het nie; en ons weet nie wat ons moet doen nie, maar ons oë is op U.”—2 Kronieke 20:12.

Ons 20 is buitentoe geneem om ons gemeenskaplike graf te grawe terwyl 18 Hongaarse soldate oor ons wag gehou het. Toe ons die graf klaar gegrawe het, is daar vir ons gesê dat ons tien minute het om ’n dokument te teken, wat onder andere gesê het: “Die leringe van Jehovah se Getuies is verkeerd. Ek sal dit nie langer glo of ondersteun nie. Ek sal vir die Hongaarse vaderland veg . . . Ek bevestig met my handtekening dat ek by die Rooms-Katolieke Kerk aansluit.”

Ná tien minute het die bevel gekom: “Regsom! Marsjeer na die graf!” Toe het hy beveel: “Eerste en derde gevangenes klim in die gat!” Hulle twee is nog tien minute gegee om te besluit of hulle die dokument sal teken. Een van die soldate het gepleit: “Laat vaar julle geloof en kom uit die graf uit!” Niemand het ’n woord gesê nie. Toe het die verantwoordelike offisier hulle albei geskiet.

“Wat van die res van hulle?” het ’n soldaat die verantwoordelike offisier gevra.

“Bind hulle vas”, het hy geantwoord. “Ons sal hulle nog verder martel en hulle sesuur in die oggend skiet.”

Skielik het ek bang geword, nie om te sterf nie, maar dat ek nie die marteling sou kon verduur nie en sou ingee. Ek het dus vorentoe getree en gesê: “Ons het dieselfde oortreding begaan as ons broers wat u nou net geskiet het. Waarom skiet u ons nie ook nie?”

Maar hulle het nie. Ons hande is agter ons rug vasgemaak. Toe is ons aan ons hande opgehang. Wanneer ons ons bewussyn verloor het, het hulle water oor ons gegooi. Die pyn was verskriklik, want die gewig van die liggaam het ons skouers uit lit laat raak. Hierdie marteling het omtrent drie uur lank aangehou. Toe het daar skielik ’n bevel gekom om nie nog van Jehovah se Getuies te skiet nie.

Ons word na die ooste geneem—en ontsnap

Drie weke later moes ons ’n paar dae lank in formasie marsjeer totdat ons die oewer van die Don-rivier bereik het. Diegene in bevel het vir ons gesê dat hulle ons nie lewendig mag terugneem nie. Gedurende die dag is ons doellose werk gegee; ons het slote gegrawe en dit dan weer toegegooi. In die aand het ons ’n sekere mate van vryheid gehad om rond te beweeg.

Na my mening was daar twee moontlikhede. Ons kon dáár sterf of ons kon van die Duitsers ontsnap en ons aan die Russe oorgee. Net drie van ons het besluit om oor die geysde Don-rivier te probeer ontsnap. Op 12 Desember 1942 het ons tot Jehovah gebid en vertrek. Ons het die Russiese front bereik en is onmiddellik in ’n gevangeniskamp met sowat 35 000 gevangenes geplaas. Teen die lente het net ongeveer 2300 gevangenes nog gelewe. Die res het van die honger omgekom.

Vryheid maar verdere tragedie

Ek het die res van die oorlog, sowel as etlike maande nadat dit geëindig het, as ’n Russiese gevangene oorleef. Uiteindelik het ek in November 1945 by my tuiste in Zahor aangekom. Ons plaas was in ’n slegte toestand, en ek moes dus van voor af begin. My vrou en kinders het die plaas gedurende die oorlog bewerk, maar in Oktober 1944, toe die Russe nader gekom het, is hulle na die ooste verskuif. Al ons besittings is geroof.

Maar die ergste van alles is dat my vrou baie siek was toe ek by die huis aangekom het. In Februarie 1946 is sy oorlede. Sy was net 38 jaar oud. Ons het so min tyd gehad om ons hereniging te geniet ná die vyf lang, moeilike jare wat ons van mekaar geskei was.

Ek het vertroosting gevind wanneer ek by my geestelike broers was, saam met hulle vergaderinge bygewoon het en aan die huis-tot-huis-bediening deelgeneem het. In 1947 kon ek geld leen om na Brno te reis, ’n afstand van ongeveer 400 kilometer, om ’n streekbyeenkoms by te woon. Daar het ek baie vertroosting en bemoediging ontvang tussen my Christenbroers, waaronder Nathan H. Knorr, destyds die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap.

Ons het nie ons na-oorlogse vryheid lank geniet nie. In 1948 het die Kommuniste ons begin onderdruk. Baie van die broers wat die leiding geneem het in die werk van Jehovah se Getuies in Tsjeggo-Slowakye is in 1952 in hegtenis geneem, en ek is die verantwoordelikheid gegee om na die gemeentes om te sien. In 1954 is ek ook in hegtenis geneem, en ek is tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis. My seun, Ján, en sy seun Juraj is ook gevange geneem omdat hulle hulle Christelike neutraliteit gehandhaaf het. Ek het twee jaar in die Pankrác-staatsgevangenis in Praag deurgebring. In 1956 is ’n amnestie uitgevaardig en is ek vrygelaat.

Uiteindelik vryheid!

Uiteindelik, in 1989, het die Kommunisme sy houvas oor Tsjeggo-Slowakye verloor, en die werk van Jehovah se Getuies is wettig geregistreer. Ons was dus vry om te vergader en die predikingswerk openlik te doen. Teen daardie tyd was daar nagenoeg honderd Getuies in Zahor, wat beteken dat ongeveer 1 uit elke 10 mense in die dorpie ’n Getuie was. ’n Paar jaar gelede het ons ’n pragtige, ruim Koninkryksaal in Zahor gebou, wat sitplek vir ongeveer 200 het.

My gesondheid is nie meer so goed nie, en gevolglik neem die broers my per motor na die Koninkryksaal. Dit verskaf my groot vreugde om daar te wees, en ek geniet dit om tydens die Wagtoring-studie kommentaar te lewer. Ek is veral bly om te kan sien hoe verteenwoordigers van drie geslagte van my familie Jehovah dien, waaronder baie van my kleinkinders. Een van hulle het as ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies in Tsjeggo-Slowakye gedien totdat sy gesinsverantwoordelikhede hom nie meer toegelaat het om dit te doen nie.

Ek dank Jehovah dat hy my versterk het gedurende die talle tye van beproewing. Wat my onderskraag het, was die feit dat ek my aandag op hom gerig gehou het—“asof [ek] die Onsigbare sien” (Hebreërs 11:27). Ja, ek het sy magtige hand van verlossing gesien. Dit is waarom ek nou nog probeer om gemeentelike vergaderinge by te woon en tot die mate wat dit vir my moontlik is aan die verkondiging van sy naam in die openbare bediening deel te neem.

[Prent op bladsy 25]

Die Koninkryksaal in Zahor

[Prent op bladsy 26]

Ek waardeer die voorreg om tydens die Wagtoring-studie kommentaar te lewer

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel