Koninkryksverkondigers berig
Moenie aarsel om die goeie nuus bekend te maak nie
TOE Europese ontdekkingsreisigers die Golf van Venezuela en die Maracaibo-meer die eerste keer besoek het, was die kuslyn besaai met klein grasdakhutte wat op pale bo die vlak water gebou is. Hierdie gesig het hulle aan Venesië in Italië herinner, waar mense hulle huise al langs die waterkant gebou het. Die Spaanssprekende ontdekkers het die plek gevolglik Venezuela genoem, wat “Klein Venesië” beteken.
Vandag is hierdie pragtige land die gasheer vir ’n ander soort bouwerk, ’n geestelike bouwerk. Jehovah se Getuies daar is druk besig om by elke gepaste geleentheid Koninkryksaad te saai. Die gevolglike geestelike oes bring groot lof aan “die Heer van die oes”, Jehovah God.—Matteus 9:37, 38.
Toe ’n reisende opsiener ’n gemeente in die staat Zulia in die noordweste van Venezuela besoek het, het die plaaslike Getuies gereël dat hy en sy vrou ’n klein nabygeleë eiland met die naam Toas besoek. Terwyl hulle vroegoggend gestaan en wag het om ’n veerboot na die eiland te haal, het die reisende opsiener se vrou, Mery, aan ’n vriendin, ’n voltydse pioniersuster, voorgestel dat hulle met van die werkers op die boot praat. Die pioniersuster het ingestem.
Mery het ’n tegnikus genader en vir hom die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei aangebied. Sy het vir hom die hoofstuk “Hoe om ’n gesin te bou wat God vereer” gewys, en dit het gelyk of hy dit interessant vind. Mery het toe verduidelik dat hy met behulp van hierdie publikasie ’n Bybelstudie in sy eie huis kon hê. Hy het die boek geneem, en reëlings is getref vir iemand om hom by sy huis te besoek.
’n Rukkie later was daar ’n spesiale byeenkomsdag in die gebied. Wat ’n verrassing was dit tog vir Mery om die tegnikus, Señor Nava, saam met sy vrou en twee jong dogters, daar te sien! Mery het die vrou gevra hoe sy oor hulle gesinsbybelstudie voel. Haar antwoord was verbasend.
“Ek dank Jehovah dat ons die waarheid geleer het”, het sy gesê. Toe het sy verduidelik. “Toe jy met my man gepraat het, het hy my pas vir ’n ander vrou verlaat. Hy was ook ’n strawwe drinker. Soms wanneer hy dronk geword het, was hy gewelddadig, en die klein gemeenskap op die eiland het nie daarvan gehou nie. Hy het ook spiritisme beoefen. Maar die Bybelkennis wat hy deur die studie verkry het, het hom gehelp om groot veranderinge in sy lewe aan te bring. Hy het al sy onrein gebruike opgegee. Sy ouers, wat Katolieke is, is baie beïndruk deur hierdie veranderinge. Hulle is bly dat hy nou ’n verantwoordelike eggenoot en vader is.”
Señor Nava is in 1996 gedoop en dien tans as ’n voltydse bedienaar. Sy vrou, Jenny, is in 1997 gedoop. Die burgemeester van die dorp was so beïndruk deur die veranderinge in hierdie veerbootwerktuigkundige dat hy ook ’n Bybelstudie gevra het. Hoe bly is die susters tog dat hulle nie geaarsel het om die goeie nuus bekend te maak toe hulle daardie oggend vir die veerboot gewag het nie!
[Prente op bladsy 7]
Dit het vreugdevolle resultate opgelewer toe hulle ’n veerboottegnikus van die goeie nuus vertel het