Kommunikasiehindernisse
ROBERT is ’n Wagtoring-sendeling wat in Sierra Leone, Wes-Afrika, woon. Terwyl hy eendag kort ná sy aankoms in die land met die pad afgestap het, het hy gehoor hoe die plaaslike kinders uitroep: “Witman! Witman!” Robert, wat ’n swart Amerikaner is, het gekyk waar die witman was, maar daar was niemand nie. Toe het hy besef dat die kinders se woorde tot hom gerig was!
Hulle het niks slegs bedoel nie. Die kinders het net bedoel dat hulle kon sien dat Robert se kultuur anders as hulle s’n is. Deur na Robert as ’n witman te verwys, was die beste manier waaraan hulle kon dink om daardie verskil uit te druk.
Hoe kultuur ’n uitwerking het op wie ons is
Kultuur is al in breë trekke beskryf as “’n stel gemeenskaplike idees, . . . die gebruike, oortuigings en kennis wat ’n lewenswyse kenmerk”. Ons leer baie kulturele waardes deur direkte onderrig, maar ons neem ook baie in sonder dat ons daarvan bewus is. Een navorser het gesê: “Van die oomblik wat [’n kind] gebore word, word sy ondervinding en gedrag gevorm deur die bestaande gebruike waarin hy gebore word. Teen die tyd dat hy kan praat, is hy die klein wesentjie van sy kultuur, en teen die tyd dat hy groot is en aan die bedrywighede van sy kultuur kan deelneem, is die gewoontes daarvan sy gewoontes, die oortuigings daarvan sy oortuigings, die onmoontlikhede daarvan sy onmoontlikhede.”
Kultuur maak die lewe op baie maniere vir ons makliker. As kinders leer ons gou hoe om ons ouers tevrede te stel. Die kennis van wat in ons gemeenskap aanvaarbaar is en wat nie is nie, help ons besluit hoe om op te tree, wat om aan te trek en hoe om met ander oor die weg te kom.
Wat ons as individue is, hang natuurlik nie net van ons kulturele agtergrond af nie. In elke kultuur is daar verskille tussen mense. Wie ons is, word ook deur genetiese samestelling, ons lewensondervindinge en ’n menigte ander faktore bepaal. Kultuur is nietemin ’n lens waardeur ons na die wêreld kyk.
Ons kultuur bepaal byvoorbeeld nie net die taal wat ons praat nie, maar ook hoe ons dit praat. In dele van die Midde-Ooste heg mense waarde aan die vermoë om hulle op vaardige wyse in baie woorde uit te druk deur herhaling en metafore te gebruik. Daarenteen beperk die mense van sommige Verre Oosterse lande woordelikse kommunikasie tot ’n minimum. ’n Japannese gesegde stel dit so: “Jou mond sal jou ondergang wees.”
Ons kultuur bepaal ons beskouing van tyd. As jy in Switserland tien minute laat is vir ’n afspraak, verwag mense dat jy om verskoning moet vra. In ander lande kan jy ’n uur of twee laat wees sonder dat jy juis om verskoning hoef te vra.
Ons kultuur leer ons ook waardes. Dink hoe jy sou voel as iemand vir jou gesê het: “Jy sit nogal baie gewig aan. Jy word regtig vet!” As jy in ’n Afrikakultuur grootgeword het waar molligheid ’n bate is, sal jy waarskynlik gelukkig voel oor die opmerking. Maar as jy in ’n Westerse kultuur grootgemaak is waar groot waarde aan slankheid geheg word, sal die eerlike opmerking jou waarskynlik ontstel.
‘Ons manier is die beste!’
Alte dikwels word kommunikasie tussen mense van verskillende kulture belemmer omdat mense oral geneig is om aan te neem dat hulle eie kultuur beter is. Die meeste van ons dink dat ons oortuigings, waardes, tradisies, klerestyl en idees oor skoonheid reg, gepas en beter as enige alternatief is. Ons is ook geneig om ander kulture volgens die waardes van ons eie groep te oordeel. Sulke denke word etnosentrisme genoem. The New Encyclopædia Britannica sê: “Etnosentrisme . . . is so te sê amper universeel. Lede van byna al die wêreld se kulture dink dat hulle eie lewenswyse baie beter is as dié van selfs naverwante bure.”
Tweehonderd jaar gelede het ’n Engelse landheer die saak eerlik gestel en gesê: “[Soos dit vir] my lyk, is buitelanders idiote.” Die redakteur van die boek met aanhalings waarin hierdie woorde verskyn, het geskryf: “Van alle woorde wat al ooit geuiter is, is [hierdie] seker die naaste aan ’n universele gevoel.”
Voorbeelde van onverdraagsaamheid teenoor diegene van ander kulture is volop. Hoewel ’n Duitse romanskrywer oorspronklik die volgende aanhaling in die dertigerjare geskryf het, word dit dikwels aan die Nazi-leier Hermann Göring toegeskryf: “Wanneer ek die woord kultuur hoor, gryp ek na my rewolwer.”
Sterk etnosentriese beskouings kan tot diskriminasie lei, wat weer tot vyandigheid en konflik kan lei. Richard Goldstone is die aanklaer vir die Internasionale Kriminele Tribunaal wat die oorlogsmisdade in Rwanda en die voormalige Joego-Slawië ondersoek. Hy het aangaande die barbaarse dade in albei konflikte gesê: “Hierdie soort ding kan op enige plek gebeur. Hier het jy twee verskillende lande, met afsonderlike kulture en geskiedenisse, en tog pleeg bure soortgelyke wreedhede teenoor hulle bure. Hierdie soort wrede etniese of godsdiensoorloë is maar net diskriminasie wat tot ’n gewelddadige fase gevoer is. Die slagoffers moet as onmenslik voorgestel of as duiwels beskou word. Nadat dit gedoen is, bevry dit gewone mense van die sedelike beperkings wat gewoonlik sal verhinder dat hulle sulke verskriklike dinge doen.”
Ons moet ons uitkyk verbreed
Die mense wat ons as ons vriende kies, is gewoonlik diegene wat baie soos ons is, mense wie se gesindhede en waardes met ons s’n ooreenkom. Ons vertrou en verstaan hulle. Ons voel ontspanne in hulle geselskap. As ons iemand anders se gedrag as eienaardig of buitengewoon beskou, sal ons vriende waarskynlik met ons saamstem omdat ons vriende dieselfde vooroordele as ons het.
Wat kan ons dan bereik deur met ander te kommunikeer wat as gevolg van kulturele agtergrond anders as ons is? Om maar een ding te noem, goeie kommunikasie sal ons help om te verstaan wat die redes vir ander mense se denke en optrede is. Kunle, ’n Wes-Afrikaan, sê: “Baie kinders in Afrika word sterk afgeraai om gedurende ’n maaltyd te praat. Maar in sommige Europese lande word mense aangemoedig om gedurende maaltye te gesels. Wat gebeur wanneer die Europeër saam met die Afrikaan eet? Die Europeër wonder waarom die Afrikaan so stil is terwyl hy eet. Intussen wonder die Afrikaan waarom die Europeër so babbel!” In sulke situasies kan wedersydse begrip vir die ander persoon se kulturele agtergrond beslis baie daartoe bydra om kulturele vooroordeel uit die weg te ruim.
Namate ons mense van ander kulture leer ken, kry ons nie net ’n beter begrip van ander nie, maar ons verstaan onsself ook beter. ’n Antropoloog het geskryf: “Water is die laaste ding wat ’n diepseebewoner sal ontdek. Hy sal slegs weet dat dit bestaan as die een of ander ongeluk hom na die oppervlak bring en hy met die lug in aanraking kom. . . . Die vermoë om die kultuur van ’n mens se eie gemeenskap as ’n geheel te sien . . . , verg ’n mate van onbevooroordeeldheid wat selde indien ooit bereik word.” Maar deur meer van ander kulture te leer, is ons soos die seebewoner wat met lug in aanraking kom; ons word bewus van die kulturele “waters” waarin ons woon. Skrywer Thomas Abercrombie het dit mooi uitgedruk: “Hy wat nooit deur ’n vreemde kultuur verlei is nie, kan nooit die kettings van sy eie kultuur besef nie.”
Kortom, ’n waardering vir ander kulture kan ons lewe verryk deur ons uitkyk te verbreed sodat ons onsself en ander beter verstaan. Hoewel kulturele erfenis en etnosentriese denke kommunikasiehindernisse kan wees, hoef dit nie die geval te wees nie. Daardie hindernisse kan oorkom word.
[Lokteks op bladsy 6]
“Lede van byna al die wêreld se kulture dink dat hulle eie lewenswyse baie beter is as dié van selfs naverwante bure.”—The New Encyclopædia Britannica
[Prent op bladsy 7]
Ons kan leer om die goeie dinge van ander kulture te geniet
[Foto-erkenning op bladsy 6]
Aardbol: Mountain High Maps® Copyright © 1995 Digital Wisdom, Inc.