Ek het iets beters as goud gevind
SOOS VERTEL DEUR CHARLES MYLTON
My pa het eendag gesê: “Kom ons stuur vir Charlie Amerika toe waar daar geld soos bossies is. Hy kan geld gaan verdien en vir ons daarvan stuur!”
MENSE het as ’t ware geglo dat ’n mens in Amerika goud in die strate kon optel. In daardie dae was die lewe in Oos-Europa baie moeilik vir hulle. My ouers het ’n plasie met ’n paar koeie en hoenders besit. Ons het nie elektrisiteit of binnenshuise toiletgeriewe gehad nie. Maar aan die ander kant het niemand anders in die omgewing hierdie dinge gehad nie.
Ek is byna 106 jaar gelede op 1 Januarie 1893 in Hoszowczyk gebore. Ons dorpie was in Galicië, ’n provinsie wat destyds deel was van die Oostenryks-Hongaarse ryk. Nou is Hoszowczyk in Oos-Pole geleë, nie ver van Slowakye en die Oekraïne nie. Die winters daar was fel en die sneeu diep. Toe ek ongeveer sewe was, moes ek omtrent ’n halfkilometer ver na die spruit loop en met ’n byl ’n gat in die ys kap om water te kry. Ek het dit dan huis toe gedra en my ma het dit gebruik om mee te kook en skoon te maak. Sy het klere by die spruit gewas en die groter stukke ys as ’n wasplank gebruik.
Daar was nie skole in Hoszowczyk nie, maar ek het Oekraïens, Pools, Russies en Slowaaks leer praat. Ons is in die Grieks-Ortodokse Kerk grootgemaak, en ek het as ’n altaarknaap gedien. Maar selfs op ’n vroeë ouderdom het die priesters my ontstel, want hulle het gesê dat ons nie op ’n Vrydag vleis moes eet nie terwyl hulle dit self gedoen het.
Party van ons vriende wat in die Verenigde State gaan werk het, het met geld teruggekom om hulle huise op te knap en plaasgereedskap te koop. Dit is wat my pa beweeg het om te sê dat hy my Amerika toe wil stuur saam met ’n paar bure wat nog ’n reis soontoe beplan het. Dit was in 1907 toe ek 14 was.
Verlore in Amerika
Ek was kort daarna op ’n skip, en binne twee weke het ons die Atlantiese Oseaan oorgesteek. ’n Mens het destyds 20 dollar nodig gehad, anders het hulle jou na jou tuisland teruggestuur. Ek het ’n silwermuntstuk van 20 dollar gehad en het dus een van die miljoene geword wat Amerika deur Ellis-eiland, New York, binnegegaan het. Geld was natuurlik nie so volop soos bossies nie, en ’n mens het nie goud in die strate opgetel nie.
Ons het per trein na Johnstown, Pennsilvanië, gegaan. Die mans wat saam met my was, was al voorheen daar en het van ’n losieshuis geweet waar ek kon bly. Die plan was dat ek my ouer suster moes vind wat in Jerome, Pennsilvanië, gewoon het, wat ek later uitgevind het net omtrent 25 kilometer daarvandaan was. Maar ek het dit as Yarome uitgespreek, in plaas van Jerome, omdat die “J” as ’n “Y” in my moedertaal uitgespreek word. Niemand het al van Yarome gehoor nie; ek was dus in ’n vreemde land met min geld en kon feitlik geen Engels praat nie.
Ek het elke oggend na werk gaan gesoek. By die arbeidskantoor het slegs twee of drie van die rye mense wat buite gewag het werk gekry. Ek het dus elke dag na die losieshuis teruggegaan om Engels met behulp van selfhelpboeke te leer. Ek het soms los werkies gekry, maar maande het verbygegaan en my geld was amper gedaan.
Met my broer en suster herenig
Ek het eendag verby ’n hotel met ’n kroeg geloop wat naby die spoorwegstasie was. Hoe lekker het die kos tog geruik! Die toebroodjies, Weense worsies en die ander kos by die kroeg was gratis as jy die bier gekoop het, wat vyf sent vir ’n groot glas was. Hoewel ek minderjarig was, het die kroegman my jammer gekry en ’n bier aan my verkoop.
Terwyl ek geëet het, het ’n paar mans ingekom en gesê: “Maak gou en drink klaar! Die trein na Jerome is op pad.”
“Jy bedoel Yarome?” het ek gevra.
“Nee, Jerome”, het die mans gesê. Dit was toe dat ek uitgevind het waar my suster woon. Trouens, ek het ’n man in die kroeg ontmoet wat net drie deure van haar af gewoon het! Ek het dus ’n treinkaartjie gekoop en uiteindelik my suster gevind.
My suster en haar man het ’n losieshuis vir steenkoolmynwerkers gehad, en ek het by hulle gewoon. Hulle het vir my die werk gekry om ’n pomp dop te hou wat die water uit die myn gehou het. Wanneer dit ook al gaan staan het, moes ek ’n werktuigkundige roep. Ek het 15 sent per dag gekry. Daarna het ek op die spoorweë, by ’n steenmakery en selfs as ’n versekeringsagent gewerk. Later het ek na Pittsburgh verhuis waar my broer Steve gewoon het. Daar het ons in die staalfabriek gewerk. Ek het nooit genoeg geld gemaak om iets huis toe te stuur nie.
’n Gesin en ’n begrafnis
Terwyl ek eendag huis toe geloop het, het ek ’n jong huisbediende gesien wat voor die huis gestaan het waar sy gewerk het. Ek het gedink: ‘Dis nou vir jou ’n mooi meisie.’ Drie weke later, in 1917, is ek en Helen getroud. Gedurende die volgende tien jaar het ons ses kinders gehad, waarvan een gesterf het toe hy nog ’n baba was.
In 1918 het die Pittsburgh-spoorwegmaatskappy my as ’n trembestuurder gehuur. Naby die tremskuur was daar ’n kafee waar jy ’n koppie koffie kon kry. Die twee Griekse mans aan wie die plek behoort het, het blykbaar nie omgegee of jy enigiets bestel het nie, solank hulle uit die Bybel vir jou kon preek. Ek het gewoonlik gesê: “Wil julle vir my sê dat die hele wêreld verkeerd is en julle twee die enigstes is wat reg is?”
“Wel, slaan dit na in die Bybel!” het hulle gesê. Maar hulle het my nie op daardie stadium oortuig nie.
Ongelukkig het my geliefde Helen in 1928 siek geword. Ek het die kinders na my suster en haar man in Jerome geneem sodat hulle beter versorg kon word. Teen hierdie tyd het hulle ’n plaas gekoop. Ek het die kinders dikwels besoek en elke maand geld voorsien om vir hulle kos te betaal. Ek het ook vir hulle klere gestuur. Helen se toestand het ongelukkig versleg, en sy is op 27 Augustus 1930 oorlede.
Ek het alleen en verpletterd gevoel. Toe ek na die priester gaan om begrafnisreëlings te tref, het hy gesê: “Jy behoort nie meer aan hierdie kerk nie. Jy het meer as ’n jaar nie jou kerkgeld betaal nie.”
Ek het verduidelik dat my vrou lank siek was en dat ek enige ekstra geld vir my kinders gegee het sodat hulle tot die kerk in Jerome kon bydra. Ek moes nogtans 50 dollar leen om my agterstallige kerkgeld te betaal voordat die priester ingestem het om die begrafnis te doen. Die priester wou ook ’n ekstra 15 dollar hê om die mis by my skoonsuster se huis te lees waar vriende en familie beplan het om bymekaar te kom en die laaste eer aan Helen te bewys. Ek kon nie die 15 dollar bymekaarskraap nie, maar die priester het ingestem om die mis te hou as ek hom sou betaal wanneer ek my loon ontvang het.
Toe ek my loon ontvang, moes ek die geld gebruik om vir die kinders skoene en klere vir die skool te koop. Wel, ongeveer twee weke later het die priester op my trem geklim. “Jy skuld my nog 15 dollar”, het hy gesê. Toe ons by die halte kom waar hy moes afklim, het hy gedreig: “Ek gaan na jou baas toe sodat die geld van jou loon afgetrek kan word.”
Aan die einde van die werksdag het ek na my baas gegaan en vir hom vertel wat gebeur het. Hoewel hy ’n Katoliek was, het hy gesê: “As daardie priester hier inkom, sal ek vir hom goed die waarheid vertel!” Dit het my aan die dink gesit: ‘Die priesters wil net ons geld hê, maar hulle leer ons nooit enigiets omtrent die Bybel nie.’
Ek leer die waarheid
Toe ek weer in die kafee van die twee Griekse mans was, het ons die ondervinding wat ek met die priester gehad het, bespreek. Ek het gevolglik met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, begin studeer. Ek het soms heelnag wakker gebly om die Bybel en Bybellektuur te lees. Ek het geleer dat Helen nie in die vaevuur ly, soos die priester gesê het nie, maar in die dood slaap (Job 14:13, 14; Johannes 11:11-14). Ek het inderdaad iets baie beters as goud gevind—dit was die waarheid!
’n Paar weke later, by my eerste vergadering met die Bybelstudente in die Garden-teater in Pittsburgh, het ek my hand opgesteek en gesê: “Ek het vanaand meer omtrent die Bybel geleer as wat ek in al my jare in die kerk geleer het.” Toe hulle later gevra het wie die volgende dag aan die predikingswerk wou deelneem, het my hand weer opgegaan.
Toe het ek, op 4 Oktober 1931, my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer. Ek kon intussen ’n huis huur, die kinders terugbring om saam met my te woon en ’n huishoudster huur wat my kon help om na hulle om te sien. Ondanks my gesinsverantwoordelikhede het ek van Januarie 1932 tot Junie 1933 aan ’n vorm van spesiale diens deelgeneem wat die hulppionierdiens genoem word, waarin ek 50 tot 60 uur elke maand daaraan bestee het om met ander oor die Bybel te praat.
Omtrent hierdie tyd het ek ’n mooi jong vrou begin opmerk wat blykbaar altyd op my trem werk toe en terug gery het. Ons het kort-kort oogkontak gemaak in my truspieëltjie. Dit is hoe ek en Mary mekaar ontmoet het. Ek het haar die hof gemaak, en ons is in Augustus 1936 getroud.
Teen 1949 het my senioriteit by die werk my in staat gestel om ’n skof te kies wat dit vir my moontlik gemaak het om die pionierdiens te betree, soos die voltydse bediening genoem word. My jongste dogter, Jean, het in 1945 as ’n pionier begin dien, en ons was pioniermaats. Later het Jean vir Sam Friend ontmoet, wat by Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gedien het.a Hulle is in 1952 getroud. Ek het voortgegaan om as pionier in Pittsburgh te dien en het baie Bybelstudies gehou; op een stadium met 14 gesinne elke week. In 1958 het ek uit my werk as ’n trembestuurder getree. Daarna was die pionierdiens maklik, aangesien ek nie meer agt uur per dag sekulêre werk moes doen nie.
In 1983 het Mary siek geword. Ek het net so goed vir haar probeer sorg soos sy byna 50 jaar vir my gesorg het. Op 14 September 1986 is sy uiteindelik oorlede.
Ek vind my geboorteplek
In 1989 het Jean en Sam my saam met hulle na byeenkomste in Pole geneem. Ons het ook die gebied besoek waar ek grootgeword het. Toe die Russe daardie deel van die wêreld oorgeneem het, het hulle die name van die dorpe verander en mense na ander lande gedeporteer. Een van my broers is na Istanboel en ’n suster is na Rusland gedeporteer. En die naam van my tuisdorp was onbekend vir diegene vir wie ons gevra het.
Maar toe het ’n paar verafgeleë berge vir my bekend begin lyk. Namate ons nader gekom het, het ek ander landmerke begin herken—’n heuwel, ’n vurk in die pad, ’n kerk, ’n brug oor ’n rivier. Toe sien ons skielik, tot ons verbasing, ’n teken wat sê “Hoszowczyk”! Die Kommuniste het kort tevore hulle invloed verloor, en die dorpies is weer hulle oorspronklike name gegee.
Ons huis het nie meer bestaan nie, maar ons buiteoond was nog daar, half onder die grond begrawe. Toe het ek ’n groot boom uitgewys en gesê: “Sien julle daardie boom daar? Ek het dit geplant voordat ek Amerika toe gegaan het. Kyk net hoe groot het dit geword!” Daarna het ons begraafplase besoek en vir name van familielede gesoek, maar niks gevind nie.
Die waarheid geniet die eerste plek in my lewe
Toe Jean se man in 1993 oorlede is, het sy my gevra of ek wou hê dat sy Bethel moet verlaat om vir my te sorg. Ek het vir haar gesê dat dit omtrent die ergste ding is wat sy kan doen, en ek voel nog steeds so daaroor. Ek het op my eie gewoon totdat ek 102 was, maar toe het dit nodig geword om my in ’n verpleeginrigting te sit. Ek is nog steeds ’n ouer man in die Bellevue-gemeente in Pittsburgh, en die broers kom haal my vir die vergaderinge by die Koninkryksaal op Sondae. Hoewel ek nie meer baie velddiens kan doen nie, is ek nog op die lys van pioniers wat weens ouderdom of siekte ’n verminderde uurvereiste het.
Oor die jare het ek die spesiale skole bygewoon wat deur die Wagtoringgenootskap gereël is om opsieners op te lei. Verlede Desember het ek van die sessies van die Koninkryksbedieningskool vir gemeentelike ouer manne bygewoon. En op 11 April van hierdie jaar het Jean my na die herdenking van Christus se dood geneem, ’n viering waaraan ek met groot waardering elke jaar sedert 1931 deelneem.
Party van diegene met wie ek die Bybel studeer het, dien nou as ouer manne, ander is sendelinge in Suid-Amerika en party is grootouers wat God saam met hulle kinders dien. Drie van my eie kinders—Mary Jane, John en Jean—sowel as baie van hulle kinders en kleinkinders dien Jehovah God getrou. My bede is dat my ander dogter en die res van my kleinkinders en agterkleinkinders eendag dieselfde sal doen.
Ek is nou 105 jaar oud en moedig almal nog steeds aan om die Bybel te bestudeer en met ander te praat oor wat hulle leer. Ja, ek is oortuig dat jy nooit teleurgestel sal word as jy na aan Jehovah bly nie. Dan kan jy ook iets geniet wat beter is as goud wat vergaan—die waarheid wat dit vir ons moontlik maak om ’n kosbare verhouding met ons Lewegewer, Jehovah God, te hê.
[Voetnoot]
a Sam Friend se lewensverhaal verskyn in Die Wagtoring van 1 Augustus 1986, bladsy 22-6.
[Prent op bladsy 25]
Toe ek ’n trem bestuur het
[Prent op bladsy 26]
By die verpleeginrigting waar ek nou woon
[Prent op bladsy 27]
Die padteken wat ons in 1989 gevind het