Hieronimus—’n omstrede baanbreker op die gebied van Bybelvertaling
OP 8 April 1546 het die Konsilie van Trente bepaal dat die Latynse Vulgaat “deur die [Katolieke] Kerk goedgekeur is . . . en dat niemand onder hoegenaamd enige voorwendsel moet waag of hom moet aanmatig om dit te verwerp nie”. Hoewel die Vulgaat meer as eenduisend jaar vroeër voltooi is, was dít en die vertaler daarvan, Hieronimus, lank die middelpunt van ’n geskil. Wie was Hieronimus? Waarom was hy en sy Bybelvertaling omstrede? Hoe beïnvloed sy werk Bybelvertaling vandag?
Die opleiding van ’n geleerde
Hieronimus se Latynse naam was Eusebius Hieronymus. Hy is ongeveer 346 G.J. in Stridon, in die Romeinse provinsie Dalmasië, gebore naby die hedendaagse grens tussen Italië en Slowenië.a Sy ouers was redelik welgesteld, en hy het op ’n vroeë ouderdom die voordele van geld ondervind toe hy ’n opvoeding in Rome ontvang het onder die beroemde grammatikus Donatus. Hieronimus was ’n begaafde student in grammatika, retorika en filosofie. Gedurende hierdie tydperk het hy ook Grieks begin studeer.
Nadat Hieronimus Rome in 366 G.J. verlaat het, het hy rondgedwaal en eindelik in Aquileia, Italië, beland waar hy aan die konsep van asketisme bekend gestel is. Hy en ’n groep vriende is beïndruk deur hierdie beskouings oor uiterste selfverloëning en het die volgende paar jaar ’n asketiese lewenswyse gevolg.
In 373 G.J. het ’n onverklaarde steurnis veroorsaak dat die groep uitmekaar is. Hieronimus was ontnugter en het ooswaarts deur Bitinië, Galasië en Silisië geswerf en eindelik in Antiogië, Sirië, aangekom.
Die lang reis het hom aangetas. Hieronimus was uitgeput en het in swak gesondheid verkeer en het byna aan koors gesterf. “Ag, as die Here Jesus Christus my net in ’n oogwink na jou toe kon neem”, het hy in ’n brief vir ’n vriend geskryf. “My arme liggaam, wat swak is selfs wanneer ek gesond is, is geknak.”
Asof siekte, eensaamheid en innerlike konflik nie genoeg was nie, het Hieronimus kort daarna voor nog ’n krisis te staan gekom—’n geestelike krisis. In ’n droom het hy gesien hoe hy “voor die regterstoel [van God] gesleep word”. Toe hy gevra is om homself te identifiseer, het Hieronimus gesê: “Ek is ’n Christen.” Maar die een op die regterstoel het skerp geantwoord: “Jy lieg, jy is ’n volgeling van Cicero en nie van Christus nie.”
Tot op daardie stadium het Hieronimus se leergierigheid hoofsaaklik gedraai om die bestudering van heidense klassieke werke in plaas van om God se Woord. “Ek is gemartel”, het hy gesê, “deur die vuur van die gewete.” In die hoop dat hy sake kon regstel, het Hieronimus in sy droom plegtig belowe: “Here, as ek ooit weer wêreldse boeke besit, of as ek dit ooit weer lees, het ek U verloën.”
Hieronimus het later aangevoer dat hy nie aanspreeklik gehou kon word vir ’n gelofte wat in ’n droom afgelê is nie. Hy was nogtans vasbeslote om sy gelofte—ten minste in beginsel—na te kom. Hieronimus het Antiogië dus verlaat en in afsondering in Chalcis in die Siriese woestyn gaan woon. Hy het soos ’n kluisenaar gelewe en hom verdiep in ’n studie van die Bybel en teologiese lektuur. Hieronimus het gesê: “Ek het die boeke van God met ’n ywer gelees wat groter is as wat ek voorheen vir die boeke van mense gehad het.” Hy het ook die plaaslike Siriese taal geleer en Hebreeus begin studeer met die hulp van ’n Jood wat tot die Christelike godsdiens bekeer is.
Die Pous se opdrag
Nadat hy ongeveer vyf jaar lank ’n kloosterlike lewe gelei het, het Hieronimus na Antiogië teruggekeer om sy studies voort te sit. Maar met sy aankoms het hy gevind dat die kerk baie verdeeld was. Trouens, terwyl hy nog in die woestyn was, het Hieronimus vir pous Damasus raad gevra en gesê: “Die kerk is in drie faksies geskeur, en elkeen van hierdie faksies wil my graag aan hulle kant kry.”
Mettertyd het Hieronimus besluit om aan te sluit by Paulinus, een van die drie mans wat aanspraak gemaak het op die titel biskop van Antiogië. Hieronimus het ingestem om deur Paulinus georden te word op twee voorwaardes. Eerstens wou hy vry wees om sy kloosterlike ambisies na te streef. En tweedens het hy daarop aangedring dat hy vrygestel word van enige priesterlike verpligtinge om ’n bepaalde kerk te bedien.
In 381 G.J. het Hieronimus Paulinus na die Konsilie van Konstantinopel vergesel en daarna saam met hom na Rome toe gegaan. Pous Damasus het gou Hieronimus se geleerdheid en taalkundige vaardighede raakgesien. Binne ’n jaar is Hieronimus verhef tot die vername posisie van privaat sekretaris van Damasus.
As sekretaris het Hieronimus nie weggeskram van omstredenheid nie. Inteendeel, dit het gelyk of hy dit aangetrek het. Hy het byvoorbeeld in die weelderige pouslike hof aangehou om soos ’n askeet te lewe. Daarbenewens het Hieronimus ’n hele aantal vyande gemaak deur sy streng lewenswyse te bevorder en deur die wêreldse, uitspattige lewenstyl van die geestelikes te veroordeel.
Hieronimus het egter, ten spyte van diegene wat hom gekritiseer het, die volle ondersteuning van pous Damasus ontvang. Die pous het goeie rede gehad om Hieronimus aan te moedig om sy Bybelnavorsing voort te sit. Op daardie tydstip was daar verskeie Latynse vertalings van die Bybel in gebruik. Baie van hulle is sonder veel sorg vertaal en het opvallende foute bevat. Nog iets waaroor Damasus bekommerd was, was die feit dat taal die Oostelike en Westelike ryke van die kerk verdeel het. Min mense in die Ooste was Latyn magtig; nog minder in die Weste was Grieks magtig.
Pous Damasus was derhalwe gretig om ’n hersiene Latynse vertaling van die Evangelies te kry. Damasus wou ’n vertaling hê wat die oorspronklike Grieks akkuraat sou weergee en tog treffende en duidelike Latyn gebruik. Hieronimus was een van die min geleerdes wat so ’n vertaling kon doen. Omdat hy vlot was in Grieks, Latyn en Siries en ’n basiese kennis van Hebreeus gehad het, was hy ten volle bevoeg vir die werk. Hieronimus het dus in opdrag van Damasus ’n projek aangepak wat meer as die volgende 20 jaar van sy lewe in beslag sou neem.
Die geskil verskerp
Hoewel Hieronimus baie vinnig gewerk het aan die vertaling van die Evangelies het hy ’n duidelike, wetenskaplike tegniek geopenbaar. Deur al die Griekse manuskripte wat toe beskikbaar was met mekaar te vergelyk, het hy verbeteringe in die styl sowel as in die inhoud van die Latynse teks aangebring, ten einde dit meer in ooreenstemming met die Griekse teks te bring.
Hieronimus se vertaling van die vier Evangelies, asook sy Latynse hersiening van die Psalms, wat op die Griekse Septuagint-teks gebaseer is, is oor die algemeen goed ontvang. Daar was nietemin nog steeds diegene wat sy werk gekritiseer het. “Sekere veragtelike skepsele”, het Hieronimus geskryf, “het my opsetlik aangeval met die aanklag dat ek dele van die evangelies probeer verbeter het, teen die gesag van die mense van die ou tyd en die mening van die hele wêreld.” Sulke veroordelings is verskerp ná die dood van pous Damasus in 384 G.J. Aangesien Hieronimus glad nie ’n goeie verhouding met die nuwe pous gehad het nie, het hy besluit om Rome te verlaat. Hieronimus het weer eens na die ooste vertrek.
Die opleiding van ’n Hebreeuse geleerde
In 386 G.J. het Hieronimus hom in Betlehem gevestig, waar hy vir die res van sy lewe sou bly. Hy is vergesel deur ’n klein groepie getroue volgelinge, waaronder Paula, ’n welgestelde vrou uit die adel in Rome. Paula het die asketiese lewenswyse aangeneem as gevolg van Hieronimus se predikingswerk. Met haar geldelike steun is ’n klooster onder Hieronimus se leiding opgerig. Daar het hy sy akademiese werk voortgesit en die grootste taak van sy hele lewe voltooi.
Die feit dat Hieronimus in Palestina gewoon het, het hom die geleentheid gegee om sy kennis van Hebreeus te verbeter. Hy het verskeie Joodse leermeesters betaal om hom te help om van die moeiliker aspekte van die taal te verstaan. Maar selfs met ’n leermeester was dit nie maklik nie. Aangaande een onderrigter, Baraninas van Tiberias, het Hieronimus gesê: “Watter moeite en onkoste het ek nie aangegaan om Baraninas te kry om my onder die sluier van die nag te leer nie.” Waarom het hulle gedurende die nag gestudeer? Omdat Baraninas bang was vir wat die Joodse gemeenskap van sy omgang met ’n “Christen” sou dink!
In Hieronimus se tyd het Jode dikwels Hebreeussprekende nie-Jode bespot omdat hulle nie die keelklanke behoorlik kon uitspreek nie. En tog kon Hieronimus ná baie inspanning hierdie klanke bemeester. Hieronimus het ook ’n groot aantal Hebreeuse woorde in Latyn getranslitereer. Hierdie stap het hom nie net gehelp om die woorde te onthou nie, maar het ook die Hebreeuse uitspraak van daardie tyd bewaar.
Hieronimus se grootste geskil
Dit is nie duidelik hoeveel van die Bybel pous Damasus wou hê Hieronimus moes vertaal nie. Maar daar is min twyfel oor hoe Hieronimus die saak beskou het. Hieronimus was baie doelgerig en vasberade. Sy brandende begeerte was om iets te lewer wat “vir die Kerk bruikbaar sou wees en waardig sou wees om na te laat”. Hy het dus besluit om ’n hersiene Latynse vertaling van die hele Bybel te voorsien.
Wat die Hebreeuse Geskrifte betref, was Hieronimus van voorneme om sy werk op die Septuagint te baseer. Baie het geglo dat hierdie Griekse weergawe van die Hebreeuse Geskrifte, wat oorspronklik in die derde eeu v.G.J. vertaal is, direk deur God geïnspireer is. Die Septuagint is dus deur baie Griekssprekende Christene van daardie tyd gebruik.
Maar namate Hieronimus met sy werk gevorder het, het hy verskille tussen die Griekse manuskripte gevind, soortgelyk aan dié wat hy in die Latynse manuskripte teëgekom het. Hieronimus se frustrasie het toegeneem. Uiteindelik het hy tot die gevolgtrekking gekom dat hy die Griekse manuskripte, waaronder die hooggeagte Septuagint, sou moes ignoreer en direk na die oorspronklike Hebreeuse teks moes gaan.
Hierdie besluit het protes uitgelok. Hieronimus is deur party ’n vervalser van die teks genoem, iemand wat God ontheilig en die tradisies van die kerk ten gunste van die Jode oorboord gooi. Selfs Augustinus—die kerk se vernaamste teoloog in daardie tyd—het by Hieronimus gepleit om terug te keer na die Septuagint-teks en gesê: “As jou vertaling deur baie meer mense in baie kerke gelees word, sal dit ’n ernstige saak wees as verskille ontstaan tussen die Latynse Kerke en die Griekse Kerke wanneer die Skrif gelees word.”
Ja, Augustinus was bang dat die kerk dalk sou skeur as die Westerse kerke Hieronimus se Latynse teks—wat op die Hebreeuse teks gebaseer is—gebruik terwyl die Griekse kerke van die Ooste nog die Septuagint-vertaling gebruik.b Daarbenewens het Augustinus bedenkinge daaroor uitgespreek om die Septuagint opsy te sit ten gunste van ’n vertaling wat net Hieronimus kon verdedig.
Hoe het Hieronimus gereageer op al hierdie teenstand? Getrou aan sy aard het Hieronimus sy kritici geïgnoreer. Hy het voortgegaan om direk uit die Hebreeus te vertaal, en teen die jaar 405 G.J. het hy sy Latynse Bybel voltooi. Jare later is sy vertaling die Vulgaat genoem, wat verwys na ’n algemeen aanvaarde vertaling (die Latynse vulgatus beteken “gewoon, dit wat algemeen is”).
Prestasies wat nog lank ’n invloed sou hê
Hieronimus se vertaling van die Hebreeuse Geskrifte was baie meer as net ’n hersiening van ’n bestaande teks. Dit het Bybelstudie en -vertaling vir toekomstige geslagte verander. “Die Vulgaat”, het die geskiedskrywer Will Durant gesê, “bly die grootste en invloedrykste letterkundige prestasie van die vierde eeu.”
Hoewel Hieronimus ’n skerp tong en ’n twisgierige geaardheid gehad het, het hy manalleen Bybelnavorsing weer na die geïnspireerde Hebreeuse teks teruggebring. Hy het met fyn waarneming antieke Hebreeuse en Griekse manuskripte wat vandag nie meer vir ons beskikbaar is nie, bestudeer en vergelyk. Sy werk het ook dié van die Joodse Masorete voorafgegaan. Die Vulgaat is dus ’n waardevolle verwysing om alternatiewe vertalings van Bybeltekste mee te vergelyk.
Sonder om sy uiterste gedrag of godsdiensbeskouings te vergoelik, kan liefhebbers van God se Woord die ywerige pogings waardeer van hierdie omstrede baanbreker op die gebied van Bybelvertaling. En ja, Hieronimus het sy doel bereik—hy het iets gelewer wat “waardig sou wees om na te laat”.
[Voetnote]
a Nie alle geskiedkundiges stem saam oor die datums en die volgorde van gebeure in Hieronimus se lewe nie.
b Soos sake verloop het, het Hieronimus se vertaling die basiese Bybel vir die Westelike Christendom geword, terwyl die Septuagint vandag nog in die Oostelike Christendom gebruik word.
[Prent op bladsy 28]
Standbeeld van Hieronimus in Betlehem
[Erkenning]
Garo Nalbandian
[Foto-erkennings op bladsy 26]
Links bo, Hebreeuse manuskrip: Met vergunning van: The Shrine of the Book, Israel Museum, Jerusalem; Links onder, Siriese manuskrip: Gereproduseer met die vriendelike vergunning van: The Trustees of the Chester Beatty Library, Dublin; Middel bo, Griekse manuskrip: Met vergunning van: Israel Antiquities Authority