Hoe daar op heidense fondamente gebou word
EEN van die talle indrukwekkende monumente wat deur toeriste in Rome, Italië, besoek word, is die Panteon. Hierdie meesterstuk van Romeinse argitektuur is een van die min geboue daar wat van antieke tye af so te sê onveranderd gebly het. Agrippa het ongeveer 27 v.G.J. daaraan begin bou, en dit is ongeveer 120 G.J. deur Hadrianus herbou. Een merkwaardige kenmerk van hierdie gebou is sy ontsaglike koepel wat 43 meter in deursnee is en eers in moderne tye in wydte oortref is. Die Panteon was oorspronklik ’n heidense tempel, ’n “plek vir alle gode”, wat die betekenis van die oorspronklike Griekse woord is. Vandag word dit nog as ’n Rooms-Katolieke kerk beskou. Hoe was so ’n verbasende verandering moontlik?
In 609 G.J. het pous Bonifacius IV hierdie tempel, wat lank in onbruik was, as ’n “Christelike” kerk hertoegewy. Op daardie tydstip is dit die naam Kerk van die Santa Maria Rotunda gegee. Volgens ’n artikel wat in 1900 in die Italiaanse Jesuïete tydskrif La Civiltà Cattolica gepubliseer is, het Bonifacius spesifiek in gedagte gehad dat dit gebruik moes word om “al die martelaars van die Christelike sfeer, of eerder, al die heiliges, maar allereers die Maagdelike Moeder van God, saam te verheerlik”. Die name wat die Rooms-Katolieke Kerk die Panteon vandag gegee het—Santa Maria ad Martyres of anders Santa Maria Rotunda—weerspieël daardie onskriftuurlike oogmerk.—Vergelyk Handelinge 14:8-15.
Om die Panteon vir sy nuwe doel aan te pas, “moes baie min gedoen word”, sê dieselfde artikel verder. “Bonifacius het die eenvoudige en liberale reëls gevolg wat reeds vasgestel is deur St. Gregorius die Grote [pous Gregorius I], sy voorganger, ’n maestro en voorbeeld in die omskepping van heidense tempels sodat dit in Christelike aanbidding gebruik kan word.” Wat was hierdie reëls?
In 601 G.J. het Gregorius ’n brief gestuur aan ’n sendeling wat op pad was na die heidense Brittanje waarin hy hierdie instruksie gegee het: “Die tempels van die afgode in die genoemde land moet nie afgebreek word nie; maar slegs die afgode wat in hulle is . . . As die genoemde tempels goed gebou is, moet hulle verander word sodat duiwels nie meer daar aanbid word nie maar die ware God daar gedien word.” Gregorius het gemeen dat heidense mense meer geneig sou wees om hulle voormalige tempels te besoek as hulle gesien het dat dit nie beskadig is nie. Hoewel heidene voorheen “baie beeste as offerandes aan die duiwels doodgemaak het”, het die pous geskryf, het hy nou gehoop dat “hulle nie meer diere aan die duiwel sou offer nie, maar dit sou doodmaak sodat hulle dit self tot eer van God kan geniet”.
Rooms-Katolisisme het ook heidense aanbidding “teëgewerk” deur kerke wat aan “Christenbeskermhere” toegewy is naby voormalige tempels op te rig. Eertydse vieringe is aangeneem en ’n “Christelike” betekenis gegee. Soos La Civiltà Cattolica dit stel: “Alle geleerdes weet vandag dat party gebruike en godsdiensvieringe van die vroeë Christene nou verbonde was aan sekere heidense gebruike. Die gebruike was te kosbaar vir die mense, gewoontes te diep gewortel en verweef in die openbare en privaat lewe van die antieke wêreld. Die goedhartige en wyse moederkerk het nie geglo dat sy dit moes uitroei nie; deur dit eerder in ’n Christelike sin te verander, dit tot ’n nuwe status te verhef en nuwe lewe te gee, het sy op kragtige en tog sagaardige wyse daaroor geseëvier, sodat sy sonder opskudding vir haarself die siele van die volksmassa sowel as die hoër stand kon verwerf.”
Een welbekende voorbeeld van ’n heidense fees wat aangeneem is, is natuurlik Kersfees. Vyf-en-twintig Desember was in werklikheid die dag waarop die eertydse Romeine die dies natalis Solis Invicti, dit wil sê “die geboortedag van die onoorwinlike son” gevier het.
In haar begeerte om heidense harte te wen, het die kerk derhalwe nie aan die waarheid vasgehou nie. Sy het die gebruik van sinkretisme, die aanneming van heidense opvattings en gebruike “wat die volksmassa na aan die hart gelê het”, geregverdig. Die gevolg was ’n valse, afvallige kerk, wat ver afgedwaal het van die leringe van die ware Christelike godsdiens. In hierdie lig gesien, is dit dalk nie so verbasend dat ’n voormalige Romeinse tempel aan “alle gode”—die Panteon—’n Rooms-Katolieke kerk geword het wat aan Maria en al die “heiliges” toegewy is nie.
Maar dit behoort voor die hand liggend te wees dat die hertoewyding van ’n tempel of die hernoeming van ’n viering nie genoeg is om die “aanbidding van duiwels na die diens van die ware God” te verander nie. “Watter ooreenkoms het God se tempel met afgode?” het die apostel Paulus gevra. “‘Gaan dus onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is aan te raak’; ‘en ek sal julle inneem’. ‘En ek sal vir julle ’n vader wees, en julle sal vir my seuns en dogters wees’, sê Jehovah die Almagtige.”—2 Korintiërs 6:16-18.