Ons is die soort wat geloof het
’n Boodskap van vertroosting word in Italië verkondig
JEHOVAH is “die God van alle vertroosting”. Deur te leer om hom na te volg, kan sy knegte “dié wat in enigerlei verdrukking is, . . . vertroos” (2 Korintiërs 1:3, 4; Efesiërs 5:1). Dít is een van die hoofdoelwitte van die predikingswerk wat deur Jehovah se Getuies verrig word.
’n Behoeftige vrou word gehelp
Veral in onlangse jare het armoede, oorlog en die begeerte om ’n beter lewe te vind baie beweeg om na welvarender lande te immigreer. Maar dit is nie maklik om by nuwe omstandighede aan te pas nie. Manjola het saam met mede-Albanese in Borgomanero gewoon. Aangesien sy onwettig in Italië gewoon het, het sy gehuiwer om met Wanda, een van Jehovah se Getuies, te praat. Wanda het nietemin uiteindelik ’n afspraak gemaak met Manjola, wat spoedig groot belangstelling in ’n studie van God se Woord getoon het, selfs al het die verskil in tale dit moeilik gemaak. Maar ná ’n paar besoeke kon Wanda niemand meer tuis vind nie. Wat het gebeur? Wanda het uitgevind dat al die inwoners van daardie huis gevlug het omdat een van hulle—Manjola se kêrel—weens moord deur die polisie gesoek is!
Vier maande later het Wanda Manjola weer raakgeloop. “Sy was bleek en maer en het soos iemand gelyk wat werklik swaarkry”, sê Wanda. Manjola het verduidelik dat haar voormalige kêrel in die tronk was en dat vriende by wie sy aangeklop het om hulp haar geweldig teleurgestel het. Uit wanhoop het sy tot God gebid om haar te help. Toe het sy gedink aan Wanda, wat oor die Bybel gepraat het. Hoe bly was Manjola tog om haar weer te sien!
Haar Bybelstudie is hervat, en weldra het Manjola die Christelike vergaderinge begin bywoon. Sy het daarin geslaag om wetlike toestemming te kry om in Italië te bly. Ná ’n jaar het Manjola ’n gedoopte Getuie geword. Omdat sy deur Goddelike beloftes vertroos is, het sy na Albanië teruggekeer om die Bybel se vertroostende boodskap aan haar landgenote te verkondig.
Getuieniswerk by ’n kamp vir immigrante
Talle Italiaanse gemeentes het reëlings getref om vir immigrante soos Manjola te getuig. ’n Gemeente in Florence het byvoorbeeld reëlings getref om ’n kamp vir immigrante gereeld te besoek. Die inwoners van die kamp—baie van Oos-Europa, Masedonië en Kosowo—het verskillende probleme ondervind. Party het probleme met dwelms of alkohol gehad. Baie het ’n bestaan gemaak deur kleinighede te steel.
Dit was ’n uitdaging om die predikingswerk in hierdie gemeenskap te doen. Maar ’n voltydse evangeliedienaar met die naam Paola het uiteindelik met Jaklina, ’n Masedoniese vrou, in aanraking gekom. Ná ’n paar gesprekke het Jaklina haar vriendin Susanna aangemoedig om die Bybel te ondersoek. Susanna het weer met ander familielede gepraat. Weldra het vyf van die familie ’n gereelde Bybelstudie gehad, Christelike vergaderinge bygewoon en wat hulle geleer het in hulle lewe toegepas. Ondanks die probleme waarmee hulle te kampe het, word hulle vertroos deur Jehovah en sy Woord.
’n Non aanvaar vertroosting van Jehovah
In die dorp Formia het ’n voltydse evangeliedienaar met die naam Assunta met ’n vrou gepraat wat moeilik geloop het. Die vrou was ’n non wat aan ’n godsdiensorde behoort het wat siekes en gestremdes in hospitale en tuis help.
Assunta het vir die non gesê: “Jy ly ook, nie waar nie? Ongelukkig het ons almal met probleme te kampe.” Toe sy dit sê, het die non in trane uitgebars en verduidelik dat sy ernstige gesondheidsprobleme het. Assunta het haar bemoedig en gesê dat die God van die Bybel haar kan vertroos. Die non het die Bybeltydskrifte geneem wat Assunta vir haar aangebied het.
Gedurende hulle volgende gesprek het die non, wie se naam Palmira is, erken dat sy geweldig ly. Sy het lank in ’n instituut gewoon wat deur nonne bestuur is. Toe sy weens gesondheidsredes tydelik moes weggaan, is sy nie toegelaat om terug te keer nie. Palmira het nietemin ’n verpligting teenoor God gevoel weens die geloftes wat sy as ’n non afgelê het. Sy het na genesers gegaan vir “behandeling”, maar dit was vir haar ’n traumatiese ondervinding. Palmira het ingestem om die Bybel te bestudeer, en sy het Christelike vergaderinge ’n jaar lank bygewoon. Toe het sy na ’n ander gebied getrek, en die Getuie het kontak met haar verloor. Twee jaar het verloop voordat Assunta haar weer gevind het. Palmira het groot teenstand van haar familie en die geestelikes ondervind. Sy het nietemin haar Bybelstudie hervat, geestelik vooruitgang gemaak en sy is as een van Jehovah se Getuies gedoop.
Ja, baie word bemoedig deur die boodskap van ‘die God wat vertroosting verskaf’ (Romeine 15:4, 5). Italiaanse Getuies van Jehovah is dus vasbeslote om voort te gaan om God na te volg deur sy wonderlike boodskap van vertroosting aan ander oor te dra.