Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w00 3/1 bl. 25-28
  • Wat het hulle ontdek by Jisreël?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat het hulle ontdek by Jisreël?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Jisreël in die Bybel
  • Wat het argeoloë gevind?
  • Die chronologie van Jisreël
  • Kan ons uitvind wat Jisreël se geskiedenis is?
  • Hy hou stewig vas aan God se regterhand
    Ontwaak!—2009
  • Hy het volhard ondanks ongeregtigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • ’n Goddelose koningin word gestraf
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Bybelgeografie—Is dit akkuraat?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
w00 3/1 bl. 25-28

Wat het hulle ontdek by Jisreël?

DIE terrein van die eertydse stad Jisreël lê al eeue lank verlate. Dit was eens ’n prominente stad in Bybelgeskiedenis. Vandag is dit net ’n puinhoop, sonder sy vorige heerlikheid en bedek met lae grond. In onlangse jare het argeoloë Jisreël se oorblyfsels begin ondersoek. Wat openbaar hierdie ruïnes omtrent die Bybelverslae?

Jisreël in die Bybel

Jisreël was in die oostelike deel van die Jisreëlvallei en in een van die vrugbaarder gebiede in die eertydse land Israel geleë. Reg aan die oorkant van die vallei na die noorde lê die heuwel More waar die Midianiete laer opgeslaan het terwyl hulle hulle gereedgemaak het om rigter Gideon en sy troepe aan te val. Na die oostekant is die fontein Harod aan die voet van die berg Gilboa. Dit was hier waar Jehovah Gideon se leër van duisende tot net 300 manne verminder het om te toon dat hy die vermoë het om sy volk sonder ’n magtige krygsmag te verlos (Rigters 7:1-25; Sagaria 4:6). Op die nabygeleë berg Gilboa is Saul, die eerste koning van Israel, deur die Filistyne verslaan in ’n dramatiese stryd waartydens Jonatan en twee van Saul se ander seuns gesneuwel en Saul selfmoord gepleeg het.—1 Samuel 31:1-5.

Bybelse verwysings na die eertydse stad Jisreël bied treffende kontraste. Dit vertel van die misbruik van mag en die afvalligheid van Israel se heersers en ook van die getrouheid en ywer van Jehovah se knegte. Dit was in Jisreël dat koning Agab—heerser van die noordelike tienstammeryk van Israel in die laaste helfte van die tiende eeu v.G.J.—sy koninklike woning opgerig het, hoewel Samaria die amptelike hoofstad was (1 Konings 21:1). Dit was uit Jisreël wat Jehovah se profeet Elia doodsdreigemente van Agab se uitlandse vrou Isebel gekry het. Sy was woedend omdat Elia die Baälprofete onbevrees tereggestel het ná die toets van ware Godheid wat Elia op die berg Karmel uitgevoer het.—1 Konings 18:36–19:2.

Toe is daar ’n misdaad in Jisreël gepleeg. Nabot die Jisreëliet is vermoor. Koning Agab het Nabot se wingerd begeer. Toe die koning daarop aangedring het dat hy die land moet kry, het Nabot lojaal geantwoord: “Dit is vir my ondenkbaar, vanuit Jehovah se standpunt, om die erfbesitting van my voorvaders aan u te gee.” Hierdie beginselvaste antwoord het Agab baie ontevrede gemaak. Toe koningin Isebel sien hoe stuurs die koning is, het sy ’n skynverhoor gereël waarin Nabot van godslastering beskuldig is. Die onskuldige Nabot is skuldig bevind en gestenig, en die koning het sy wingerd in besit geneem.—1 Konings 21:1-16, NW.

Weens hierdie goddelose daad het Elia geprofeteer: “Die honde sal Isebel eet by die voorskans van Jisreël.” Die profeet het verder verklaar: “Die een wat van Agab in die stad sterwe, hom sal die honde eet . . . Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isebel hom verlei het.” Maar omdat Agab homself verneder het toe Elia Jehovah se oordeel uitgespreek het, het Jehovah verklaar dat hierdie straf nie in Agab se leeftyd sou kom nie (1 Konings 21:23-29). Die Bybelverslag sê verder dat Jehu in die dae van Elia se opvolger, Elisa, as koning van Israel gesalf is. Toe Jehu in Jisreël inry, het hy bevel gegee dat Isebel uit haar paleisvenster gegooi moet word, en sy is deur die perde vertrap. Later is daar gevind dat honde alles behalwe haar skedel, haar voete en haar handpalms opgeëet het (2 Konings 9:30-37). Die laaste Bybelse gebeurtenis wat direk met Jisreël verband hou, het ná die teregstelling van 70 van Agab se seuns plaasgevind. Jehu het hulle hoofde in twee groot hope by Jisreël se stadspoort opgehoop, waarna hy ander vooraanstaande manne en priesters wat by Agab se afvallige heerskappy betrokke was, doodgeslaan het.—2 Konings 10:6-11.

Wat het argeoloë gevind?

In 1990 is ’n gesamentlike projek begin om die terrein van Jisreël op te grawe. Die Instituut vir Argeologie van die Universiteit van Tel Aviv (wat deur David Ussishkin verteenwoordig is) en die Britse Skool vir Argeologie in Jerusalem (wat deur John Woodhead verteenwoordig is) het deelgeneem. Tussen 80 en 100 vrywilligers het sewe seisoene (elke seisoen het ses weke geduur) gedurende die jare van 1990-96 op die terrein gewerk.

Die moderne benadering van argeologie is om die bewyse by ’n terrein volgens hulle eie meriete te beoordeel, sonder verwysing na vooropgestelde idees en teorieë. Vir die argeoloog wat ’n studie van die Bybellande maak, is die skriftuurlike verslag dus nie die hoogste gesag wat die onderwerp betref nie. Alle ander bronne en fisiese bewyse moet ondersoek en versigtig oorweeg word. Maar soos John Woodhead sê, is daar geen antieke geskrewe bewyse aangaande Jisreël buiten ’n paar hoofstukke in die Bybel nie. Die Bybel se verslae en chronologie moet dus deel wees van enige ondersoek. Wat het die argeoloë se pogings aan die lig gebring?

Toe verdedigingswerke en erdewerk opgegrawe is, was dit van die begin af duidelik dat die ruïnes dateer uit die tydperk wat die Ystertyd genoem word, wat dit beslis in die tydperk van die Bybelse Jisreël plaas. Maar namate die opgrawings gevorder het, was daar ’n aantal verrassings. Die eerste was die grootte van die terrein en sy yslike verdedigingswerke. Die argeoloë het ’n terrein verwag met verdedigingswerke wat ooreenkom met dié van eertydse Samaria, die hoofstad van die koninkryk van Israel. Maar hoe verder hulle gegrawe het, hoe duideliker het dit geword dat Jisreël baie groter was. Die stad was sowat 300 meter by 150 meter langs die lengte van sy mure, en die totale oppervlakte binne sy versterkte mure was meer as drie keer so groot soos dié van enige ander stad uit daardie tydperk wat in Israel ontdek is. Dit was omring deur ’n droë grag, sodat die versterkte mure 11 meter van die bopunt tot reg onder was. Volgens professor Ussishkin was hierdie grag ’n unieke kenmerk vir Bybeltye. “Ons vind niks soortgelyks in Israel tot die tyd van die Kruisvaarders nie”, het hy gesê.

Nog ’n onverwagte kenmerk is die feit dat daar nie groot geboue in die middel van die stad was nie. ’n Groot hoeveelheid rooibruin grond wat ingebring is toe die stad gebou is, is gebruik om ’n verhewe plat oppervlak—’n soort groot verhoog—in die ommuurde gedeelte te skep. Die Second Preliminary Report wat die opgrawings by Tel Jisreël bespreek, sê dat hierdie hoë podium ’n bewys kan wees dat Jisreël meer as net ’n koninklike woonplek was. Dit het gesê: “Ons wil graag op die moontlikheid wys dat Jisreël die sentrale militêre basis was vir die koninklike Israelitiese leër gedurende die tyd van die Omridiese [Omri en sy afstammelinge] konings . . . waar die koninklike strydwaens en perderuiters gehou en opgelei is.” Te oordeel na die grootte van hierdie verhewe podium, sowel as die grootte van die ommuurde gebied self, reken Woodhead dat dit ’n soort paradeterrein kon gewees het waar daar gespog is met die krygsmag van die grootste strydwa-mag in die Midde-Ooste destyds.

Die oorblyfsels van die stadspoort wat opgegrawe is, is iets waarin argeoloë veral belangstel. Dit wys dat daar ’n ingang was met ’n poort met ten minste vier kamers. Maar aangesien baie klippe deur die eeue heen van die terrein af weggeneem is, is hulle nie heeltemal seker nie. Woodhead meen die oorblyfsels dui op ’n poort met ses kamers wat soortgelyke afmetings het as dié by Megiddo, Hasor en Geser.a

Die argeologiese bevindings dui op ’n verbasende kort bestaan vir ’n stad wat op militêre sowel as geografiese gebied so ideaal geleë was. Woodhead beklemtoon dat Jisreël as ’n groot versterkte stad net ’n paar dekades lank gebruik is. Dit is in skerp teenstelling met baie ander belangrike Bybelse plekke in Israel, soos Megiddo, Hasor en die hoofstad Samaria, wat herhaaldelik herbou, uitgebrei en gedurende verskillende tydperke bewoon is. Waarom het hierdie ideale terrein so gou in onbruik geraak? Woodhead vermoed dat Agab en sy dinastie byna ’n ekonomiese ineenstorting veroorsaak het weens hulle vermorsing van die nasie se hulpbronne. Dit blyk uit die buitensporige grootte en verdedigingswerke van Jisreël. Die nuwe bewind onder Jehu wou hom waarskynlik distansieer van enige herinnering aan Agab en het derhalwe die stad verlate gelaat.

Al die bewyse wat tot dusver opgegrawe is, bevestig die feit dat die terrein van Jisreël ’n belangrike Israelitiese sentrum gedurende die Ystertyd was. Die grootte en verdedigingswerke daarvan stem ooreen met die beskrywing daarvan in die Bybel as ’n prominente koninklike woning vir Agab en Isebel. Die tekens dat mense net ’n sekere tyd lank daar gewoon het, stem ooreen met die Bybelverslae oor die stad: Dit het gedurende Agab se bewind vinnig bekendheid verwerf en toe het dit, op Jehovah se bevel, klaarblyklik ’n vernederende val gehad toe Jehu “almal [doodgeslaan het] van die huis van Agab wat in Jisreël oor was, en al sy grotes en sy vertroudes en sy priesters, totdat daar niemand van hom oor was wat vrygeraak het nie”.—2 Konings 10:11.

Die chronologie van Jisreël

“Dit is in argeologie so moeilik om ’n presiese grondslag vir datering te kry”, erken John Woodhead. Terwyl argeoloë dus die resultate van die opgrawings van sewe jaar ondersoek, vergelyk hulle dit met bevindings op ander argeologiese terreine. Dit het tot herevaluering en debatte gelei. Waarom? Want sedert die Israelse argeoloog Jigaël Jadin se opgrawings by Megiddo gedurende die 1960’s en vroeë 1970’s het baie in die argeologiese wêreld dit as bevestig beskou dat hy verdedigingswerke en stadspoorte ontdek het wat uit die tydperk van koning Salomo dateer. Nou laat die verdedigingswerke, erdewerk en poorte wat by Jisreël ontdek is party twyfel oor hierdie gevolgtrekkings.

Die erdewerk wat byvoorbeeld by Jisreël gevind is, is dieselfde as dié in die grondlaag by Megiddo wat Jadin met Salomo se bewind verbind het. Die struktuur en afmetings van die poorte van die twee terreine is eenders, indien nie presies dieselfde nie. Woodhead sê: “Al die bewyse plaas die Jisreël-terrein terug in die tydperk van Salomo of skuif die datering van al hierdie kenmerke by die ander terreine [Megiddo en Hasor] aan na die tydperk van Agab.” Aangesien die Bybel die Jisreël-terrein duidelik met die tydperk van Agab verbind, beskou hy dit as redeliker om te aanvaar dat hierdie grondlae die tyd van Agab se heerskappy weerspieël. David Ussishkin stem saam: “Die Bybel sê dat Salomo Megiddo opgebou het—dit sê nie dat hy daardie presiese poorte gebou het nie.”

Kan ons uitvind wat Jisreël se geskiedenis is?

Laat hierdie argeologiese bevindings en die gevolglike debatte twyfel ontstaan oor die Bybel se verslag oor Jisreël of Salomo? Eintlik hou die argeologiese geskil nie veel verband met die Bybelverslag nie. Argeologie ondersoek die geskiedenis op ’n ander grondslag as dié van die Bybelse vertelling. Dit stel ander vrae en beklemtoon iets anders. ’n Mens kan die Bybelstudent en die argeoloog vergelyk met reisigers op min of meer parallelle roetes. Een reisiger ry in die straat en die ander een loop op die sypaadjie. Hulle aandag is gevestig op verskillende dinge en hulle het verskillende belange. En tog is hulle perspektiewe dikwels aanvullend en nie teenstrydig nie. As die twee reisigers se indrukke vergelyk word, kan dit tot fassinerende insigte lei.

Die Bybel bevat ’n geskrewe verslag van gebeure en mense van die ou tyd; argeologie probeer inligting oor hierdie gebeure en mense inwin deur enige leidrade omtrent hulle wat daar nog in die grond gevind kan word te ondersoek. Maar hierdie oorblyfsels is gewoonlik baie onvolledig en kan op verskillende maniere geïnterpreteer word. In hierdie verband sê Amihai Mazar in sy boek Archaeology of the Land of the Bible—10,000−586 B.C.E.: “Argeologiese veldwerk . . . is in ’n groot mate ’n kuns sowel as ’n kombinasie van opleiding en professionele vaardigheid. Geen streng metodiek kan sukses verseker nie, en ekspedisieleiers moet aanpasbaar wees en kreatief dink. Die karakter, talent en gesonde verstand van die argeoloog is net so belangrik soos sy opleiding en die hulpbronne wat vir hom beskikbaar is.”

Argeologie het die bestaan van ’n vername koninklike en militêre sentrum by Jisreël bevestig, ’n sentrum wat ’n verbasende kort tyd bestaan het gedurende die geskiedkundige tydperk wat saamval met Agab se heerskappy—net soos die Bybel vertel. Baie ander gedagteprikkelende vrae het ontstaan wat argeoloë dalk nog in die komende jare gaan bestudeer. Maar die bladsye van God se Woord, die Bybel, gee ons nog steeds ’n duidelike beeld van alles wat gebeur het op ’n manier wat argeoloë nooit kan doen nie.

[Voetnoot]

a Sien die artikel “Die raaisel van die poorte” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1988.

[Prente op bladsy 26]

Argeologiese opgrawings in Jisreël

[Prent op bladsy 28]

’n Kanaänitiese afgod wat by Jisreël gevind is

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel