Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w03 7/15 bl. 24-28
  • Ugarit—eertydse stad in die skaduwee van Baäl

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ugarit—eertydse stad in die skaduwee van Baäl
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waar paaie gekruis het
  • Die verlede word opgegrawe
  • ’n Skat van inskripsies
  • Godsdiens in die stad van Baäl
  • ’n Skans teen heidense godsdiens
  • Vergelykings met Bybeltekste
  • Bybelse grondslag?
  • Baälaanbidding—die stryd om die Israeliete se harte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Is alle vorme van aanbidding vir God aanneemlik?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Hy het rein aanbidding verdedig
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Het jy geweet?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
w03 7/15 bl. 24-28

Ugarit—Eertydse stad in die skaduwee van Baäl

IN DIE jaar 1928 het die ploeg van ’n Siriese plaasboer ’n klip getref wat bo-op ’n graf gelê het waarin daar antieke erdewerk was. Hy sou hom nooit kon indink hoe waardevol sy ontdekking was nie. ’n Franse span argeoloë onder leiding van Claude Schaeffer het van die toevallige ontdekking gehoor en die daaropvolgende jaar na die terrein gereis.

Kort voor lank is ’n inskripsie gevind wat die span in staat gestel het om die ruïnes te identifiseer wat hulle met hulle troffels oopgegrawe het. Dit was Ugarit, “een van die vernaamste antieke stede van die Nabye Ooste”. Die skrywer Barry Hoberman het selfs gesê: “Geen argeologiese vonds, nie eens dié van die Dooie See-rolle, het so ’n groot impak op ons begrip van die Bybel gehad nie.”—The Atlantic Monthly.

Waar paaie gekruis het

Ugarit, wat ontdek is in ’n heuwel bekend as die Ras Sjamra, langs die Mediterreense kus van hedendaagse noordelike Sirië, was ’n florerende kosmopolitaanse stad in die tweede millennium v.G.J. Die gebied daarvan het gestrek oor ongeveer 60 kilometer van die berg Casius in die noorde tot by Tell Sukas in die suide en 30 tot 45 kilometer van die Middellandse See in die weste tot by die Orontes-vallei in die ooste.

Veeboerdery het in Ugarit se gematigde klimaat gefloreer. Die gebied het produkte opgelewer soos graan, olyfolie, wyn en hout—’n produk wat baie skaars was in Mesopotamië en Egipte. Wat meer is, die stad se ligging by die kruising van strategiese handelsroetes het dit een van die eerste groot internasionale hawestede gemaak. In Ugarit het handelaars van Anatolië, Babilon, die Egeïese See, Egipte en ander dele van die Midde-Ooste handel gedryf in metale, landbouprodukte en ’n magdom ander produkte wat plaaslik vervaardig is.

Ondanks sy materiële voorspoed was Ugarit altyd ’n onderhorige koninkryk. Die stad was in die noordelikste gebied van die Egiptiese Ryk totdat dit in die 14de eeu v.G.J. by die sekulêre Hetitiese Ryk ingelyf is. Ugarit was onder verpligting om heffing te betaal en troepe te voorsien aan die heersende mag. Toe invallende “Seevolke”a Anatolië (Sentraal-Turkye) en noordelike Sirië begin plunder het, is Ugarit se troepe en vloot deur die Hetiete opgeroep. Gevolglik is Ugarit sonder verdediging gelaat en is dit omstreeks 1200 v.G.J. heeltemal vernietig.

Die verlede word opgegrawe

Ná die vernietiging van Ugarit het net ’n groot puinheuwel oorgebly wat ongeveer 20 meter hoog is en meer as 25 hektaar beslaan. Slegs ’n sesde van hierdie gebied is al opgegrawe. Onder die ruïnes het argeoloë die oorblyfsels gevind van ’n kolossale paleiskompleks met byna honderd vertrekke en binneplase en wat sowat 10 000 vierkante meter beslaan. Die kompleks het lopende water, badkamers en ’n rioolstelsel gehad. Meubels is met inlegwerk van goud, lasuursteen en ivoor versier. Ivoorpanele met ingewikkelde snywerk is gevind. ’n Ommuurde tuin en versonke poel het tot die prag van die paleis bygedra.

In die stad en die omringende gebied was daar oral tempels van Baäl en Dagan.b Hierdie tempeltorings, wat dalk 20 meter hoog was, het ’n klein voorportaal gehad wat gelei het na ’n binnekamer waarin daar ’n beeld van die god was. ’n Trap het na ’n terras gelei waar die koning tydens verskeie seremonies waargeneem het. Snags of gedurende storms is bakens heel moontlik bo-op die tempels aangesteek om skepe veilig in die hawe in te lei. Matrose wat hulle veilige tuiskoms aan die stormgod Baäl-Hadad toegeskryf het, het ongetwyfeld die 17 klipankers wat in sy heiligdom gevind is, as dankoffers gebring.

’n Skat van inskripsies

Duisende kleitablette is in die ruïnes van Ugarit ontdek. Ekonomiese, wetlike, diplomatieke en administratiewe tekste is in agt tale gevind, wat in vyf soorte skrif geskryf is. Schaeffer se span het inskripsies gevind in ’n taal wat tot nog toe onbekend is—en Ugarities genoem is. Dit gebruik 30 spykerskriftekens en is een van die oudste alfabette wat nog ontdek is.

Ugaritiese dokumente dek nie net alledaagse sake nie, maar bevat ook literêre tekste wat nuwe insig gee in die godsdiensidees en gebruike van daardie tyd. Die godsdiens van Ugarit het blykbaar groot ooreenkomste gehad met dié van die naburige Kanaäniete. Volgens Roland de Vaux is hierdie tekste “’n redelik akkurate weerspieëling van die beskawing in die land Kanaän net voordat die Israeliete dit verower het”.

Godsdiens in die stad van Baäl

In die Ras Sjamra-tekste word daar van meer as 200 gode en godinne melding gemaak. Die hoofgod was El, wat die vader van die gode en die mens genoem is. En die stormgod Baäl-Hadad was “die ruiter van die wolke” en “die here van die aarde”. El word uitgebeeld as ’n wyse ou man met ’n wit baard en wat ver verwyderd is van die mens. Daarenteen is Baäl ’n sterk en ambisieuse godheid wat oor die gode en die mensdom wil heers.

Die tekste wat ontdek is, is waarskynlik gedurende godsdiensfeeste, soos die nuwe jaar of die oestyd, voorgedra. Maar dit is nie duidelik wat die presiese uitlegging daarvan is nie. In een gedig oor ’n geskil aangaande heerskappy verslaan Baäl El se gunstelingseun, die seegod Jam. Hierdie oorwinning het Ugarit se matrose dalk die vertroue gegee dat Baäl hulle op see sou beskerm. In ’n tweegeveg met Mot word Baäl oorwin en daal hy af na die onderwêreld. ’n Droogte volg en menslike bedrywighede kom tot ’n stilstand. Baäl se vrou en suster Anat—godin van liefde en oorlog—maak Mot dood en wek Baäl op. Baäl vermoor al die seuns van El se vrou, Athirat (Asjera) en herwin die troon. Maar Mot keer sewe jaar later terug.

Party vertolk hierdie gedig as ’n simbool van die jaarlikse kringloop van die seisoene waartydens lewegewende reën deur die versengende hitte van die somer oorwin word en in die herfs terugkeer. Ander dink dat die kringloop van sewe jaar verband hou met vrees vir hongersnood en droogte. In albei gevalle is dit as onontbeerlik vir sukses in mensestrewes beskou dat Baäl die magtigste bly. Die geleerde Peter Craigie sê: “Die doelwit van Baäl se godsdiens was om sy oppermag te verseker; sy aanbidders het geglo dat die oeste en vee, wat so noodsaaklik was vir die mens se voortbestaan, slegs sou floreer terwyl hy die oppermag het.”

’n Skans teen heidense godsdiens

Die tekste wat opgegrawe is, toon duidelik hoe verdorwe die Ugaritiese godsdiens was. The Illustrated Bible Dictionary sê: “Die tekste toon die verlagende gevolge wat die aanbidding van hierdie godhede gehad het; met hulle klem op oorlog, heilige prostitusie, erotiese liefde en die gevolglike maatskaplike agteruitgang.” De Vaux sê: “Wanneer ’n mens hierdie gedigte lees, kan jy die weersin verstaan wat ware aanbidders van Jahweh en die groot profete in hierdie aanbidding gehad het.” Die Wet wat God die eertydse nasie Israel gegee het, was ’n skans teen sulke valse godsdienste.

Waarsêery, astrologie en die toorkuns is algemeen beoefen in Ugarit. Tekens en voortekens is nie net in die hemelliggame gesoek nie, maar ook in misvormde fetusse en die ingewande van geslagte diere. “Daar is geglo dat die god aan wie ’n dier tydens ’n ritueel geoffer is, hom met die dier verenig het, en dat die god se gees een geword het met die dier se gees”, het die geskiedkundige Jacqueline Gachet gesê. “Gevolglik was dit moontlik om, met behulp van die tekens wat op hierdie organe gesien kon word, vrye toegang tot die gees van die godhede te hê wat ’n positiewe of negatiewe antwoord kon gee op ’n vraag oor toekomstige gebeure of oor wat iemand te doen staan in ’n spesifieke situasie” (Le pays d’Ougarit autour de 1200 av.J.C.). In teenstelling hiermee moes die Israeliete sulke gebruike verwerp.—Deuteronomium 18:9-14.

Die Mosaïese Wet het bestialiteit onomwonde verbied (Levitikus 18:23). Hoe is hierdie gebruik in Ugarit beskou? In die tekste wat ontdek is, het Baäl geslagsomgang met ’n vers gehad. “As daar aangevoer word dat Baäl hiervoor die vorm van ’n bul aangeneem het”, het die argeoloog Cyrus Gordon genoem, “kan dieselfde nie gesê word van sy priesters wat sy mitologiese lewe nagedoen het nie.”

Die Israeliete is beveel: “Julle mag geen snye in julle vlees maak vir ’n afgestorwe siel nie” (Levitikus 19:28). Met Baäl se dood het El egter “sy vlees met ’n mes gesny en insnydings met ’n skeermes gemaak; hy het sy wange en ken gesny”. Rituele insnydings was blykbaar ’n gebruik onder Baälaanbidders.—1 Konings 18:28.

Volgens ’n Ugaritiese gedig was dit glo deel van ’n algemene vrugbaarheidsritus in Kanaänitiese godsdiens om ’n boklam in melk te kook. Maar in die Mosaïese Wet is die Israeliete beveel: “Jy mag ’n boklam nie in sy moeder se melk kook nie.”—Eksodus 23:19.

Vergelykings met Bybeltekste

Ugaritiese tekste is eers hoofsaaklik met behulp van Bybelse Hebreeus vertaal. Peter Craigie sê: “Daar is baie woorde in die Hebreeuse teks gebruik waarvan die betekenis onduidelik en soms onbekend is; vertalers voor die 20ste eeu het op verskillende maniere die moontlike betekenis daarvan geraai. Maar wanneer dieselfde woorde in die Ugaritiese teks verskyn, word die betekenis duideliker.”

Byvoorbeeld, ’n Hebreeuse woord wat in Jesaja 3:18 gebruik word, word oor die algemeen met “hoofbande” vertaal. ’n Soortgelyke Ugaritiese grondwoord verwys na die son sowel as die songodin. Hieruit kan afgelei word dat die vroue van Jerusalem wat in Jesaja se profesie genoem word, dalk klein sonhangertjies sowel as “maanvormige sierade” ter ere van Kanaänitiese gode gedra het.

In Spreuke 26:23 in die Masoretiese teks word “gloeiende lippe en ’n goddelose hart” vergelyk met ’n erdekruik wat met “silwerskuim” bedek is. Volgens ’n Ugaritiese grondwoord kan die vergelyking met “soos glasuur op ’n potskerf” vertaal word. Die Nuwe Wêreld-vertaling gee hierdie spreuk gepas soos volg weer: “Soos silwerglasuur waarmee ’n erdeskerf oorgetrek is, is vurige lippe tesame met ’n slegte hart.”

Bybelse grondslag?

’n Ondersoek van die Ras Sjamra-tekste het party geleerdes laat beweer dat sekere Bybelgedeeltes aanpassings van Ugaritiese gedigte is. André Caquot, ’n lid van die Franse Instituut, sê dat “die grondslag van die Kanaänitiese kultuur ook die grondslag van Israel se godsdiens” was.

Mitchell Dahood van die Pouslike Bybelinstituut in Rome sê aangaande Psalm 29: “Hierdie psalm is ’n Jahwistiese aanpassing van ’n ouer Kanaänitiese gesang aan die stormgod Baäl . . . Feitlik elke woord in die psalm kan nou in ouer Kanaänitiese tekste gevind word.” Is so ’n gevolgtrekking gegrond? Beslis nie!

Redeliker geleerdes erken dat ooreenkomste oordryf is. Ander het gekritiseer wat hulle pan-Ugaritisme noem. “Geen enkele Ugaritiese teks kom ten volle ooreen met Psalm 29 nie”, sê die teoloog Garry Brantley. “Die bewering dat Psalm 29 (of enige ander Bybelteks) ’n aanpassing van ’n heidense mite is, het geen bewysgrond nie.”

Is die feit dat daar ooreenkomste is wat beeldspraak, digterlike parallelle en stylkenmerke betref, ’n bewys dat dit ’n aanpassing is? Nee, want sulke ooreenkomste kan verwag word. The Encyclopedia of Religion sê: “Die rede vir hierdie ooreenkoms in vorm en inhoud hou verband met kultuur: al was daar opmerkenswaardige verskille tussen Ugarit en Israel wat die geografie en die tydsaspek betref, was hulle deel van ’n groter kulturele geheel wat ’n gemeenskaplike digterlike en godsdienstige woordeskat gehad het.” Garry Brantley kom dus tot hierdie gevolgtrekking: “Dit is onjuiste teksuitlegging om heidense opvattings in Bybelse teks te dwing bloot omdat daar taalooreenkomste is.”

Laastens moet daar genoem word dat enige ooreenkoms wat daar dalk tussen die Ras Sjamra-tekste en die Bybel bestaan, bloot letterkundig van aard is, nie geestelik nie. “Die etiese en sedelike verhewenheid in die Bybel word [nie] in Ugarit gevind nie”, sê die argeoloog Cyrus Gordon. Trouens, die verskille oortref verreweg enige ooreenkomste.

Ugaritiese studies sal Bybelstudente heel waarskynlik steeds help om die kulturele, geskiedkundige en godsdiensmilieu van Bybelskrywers en van die Hebreeuse nasie oor die algemeen te verstaan. Verdere ondersoek van die Ras Sjamra-tekste kan ook nuwe lig werp op die begrip van eertydse Hebreeus. Maar die argeologiese vonds by Ugarit bring bowenal die verskil tussen die verlagende aanbidding van Baäl en die rein aanbidding van Jehovah duidelik na vore.

[Voetnote]

a Die “Seevolke” word oor die algemeen beskou as seevaarders van die Mediterreense eilande en kuslande. Die Filistyne was moontlik een van hulle.—Amos 9:7.

b Hoewel daar verskillende menings is, beskou sommige die tempel van Dagan as die tempel van El. Roland de Vaux, ’n Franse geleerde en professor aan die Universiteit van Jerusalem se Fakulteit van Bybelstudies, beweer dat Dagan—die Dagon van Rigters 16:23 en 1 Samuel 5:1-5—El se eintlike naam is. The Encyclopedia of Religion sê dat “Dagan [moontlik] in sekere sin geassosieer is met of deel was van [El]”. In die Ras Sjamra-tekste word Baäl die seun van Dagan genoem, maar dit is onseker wat “seun” hier beteken.

[Lokteks op bladsy 25]

Argeologiese ontdekkings by Ugarit het ons begrip van die Skrif vergroot

[Kaart/Prente op bladsy 24, 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Hetitiese Ryk in die 14de eeu v.G.J.

MIDDELLANDSE SEE

Eufraat

BERG CASIUS (JEBEL EL-AGRA)

Ugarit (Ras Sjamra)

Tell Sukas

Orontes

SIRIË

EGIPTE

[Erkennings]

Standbeeld van Baäl en beker in die vorm van ’n dier se kop: Musée du Louvre, Paris; skildery van die koninklike paleis: © D. Héron-Hugé pour “Le Monde de la Bible”

[Prent op bladsy 25]

Oorblyfsels van die ingang tot die paleis

[Prent op bladsy 26]

’n Mitologiese Ugaritiese gedig kan die agtergrond voorsien vir Eksodus 23:19

[Erkenning]

Musée du Louvre, Paris

[Prente op bladsy 27]

Gedenksteen van Baäl

Goue bak waarop ’n jagtoneel uitgebeeld word

Ivoordeksel van ’n kosmetiese kissie waarop ’n vrugbaarheidsgodin uitgebeeld word

[Erkenning]

Al die prente: Musée du Louvre, Paris

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel