Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w04 8/1 bl. 19-23
  • Jehovah se krag het ons onderskraag

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se krag het ons onderskraag
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ken enigiemand die antwoord?
  • Die begin van vervolging
  • Die vervolging word hewiger
  • Ek volg my man
  • Van tronk tot tronk
  • Herenig met my gesin
  • My hoop het ondanks beproewinge sterk gebly
    Ontwaak!—2002
  • Geloof tydens beproewinge in Slowakye
    Ontwaak!—2002
  • Ek Het Geleer Om Op Jehovah Te Vertrou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Van politieke aktivis tot neutrale Christen
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
w04 8/1 bl. 19-23

Lewensverhaal

Jehovah se krag het ons onderskraag

SOOS VERTEL DEUR ERZSÉBET HAFFNER

“Ek sal nie toelaat dat hulle jou deporteer nie”, het Tibor Haffner gesê toe hy hoor dat ek beveel is om Tsjeggo-Slowakye te verlaat. Toe het hy bygevoeg: “As jy instem, sal ek met jou trou, en jy sal vir altyd by my bly.”

OP 29 Januarie 1938, net ’n paar weke ná daardie onverwagte huweliksaanbod, is ek met Tibor, die Christenbroer wat aanvanklik vir my gesin getuig het, getroud. Dit was nie ’n maklike besluit nie. Ek het so pas 18 geword, en as ’n voltydse bedienaar van Jehovah se Getuies wou ek graag my jeugdige jare uitsluitlik aan God se diens wy. Ek het gehuil. Ek het gebid. Eers nadat ek bedaar het, het ek besef dat dit nie net weens goedhartigheid was dat Tibor hierdie voorstel gemaak het nie, en ek het gevoel dat ek graag my lewe sou wou deurbring saam met hierdie man wat my opreg liefgehad het.

Maar waarom is ek met deportasie gedreig? Ek het immers in ’n land gewoon wat trots was op sy demokratiese stelsel en godsdiensvryheid. Wel, ek dink ek moet julle dalk eers meer van my agtergrond vertel.

Ek is op 26 Desember 1919 gebore vir Grieks-Katolieke ouers in die dorpie Sajószentpéter, Hongarye, sowat 160 kilometer oos van Boedapest. Ongelukkig is my pa oorlede voordat ek hom geken het. Kort voor lank het my ma met ’n wewenaar getrou wat vier kinders gehad het, en ons het verhuis na Lučenec, ’n pragtige stad in die destydse Tsjeggo-Slowakye. In daardie jare was dit nie maklik om deel van ’n stiefgesin te wees nie. As die jongste van vyf kinders het ek soos ’n vyfde wiel aan die wa gevoel. Ons het finansieel gesukkel, en ek het nie net min materiële dinge gekry nie, maar ook minder as die normale ouerlike aandag en liefde.

Ken enigiemand die antwoord?

Toe ek 16 was, het ek met ernstige vrae geworstel. Ek het die geskiedenis van die Eerste Wêreldoorlog met groot belangstelling gelees, en ek was verstom oor al die bloedvergieting tussen beskaafde nasies wat beweer het dat hulle Christene is. Wat meer is, ek kon sien dat militarisme oral aan die toeneem was. Hierdie dinge het glad nie ooreengestem met wat ek in die kerk oor naasteliefde geleer het nie.

Ek het dus na ’n Rooms-Katolieke priester gegaan en hom gevra: “Watter gebod moet vir ons as Christene bindend wees—om oorlog toe te gaan en ons naaste dood te maak of om hulle lief te hê?” Verontwaardig oor my vraag het hy geantwoord dat hy mense leer wat die owerheid hom beveel. Iets soortgelyks het gebeur toe ek ’n Calvinistiese leraar besoek het, en daarna ’n Joodse rabbi. Ek het geen antwoord gekry nie, net verbasing oor my ongewone vraag. Uiteindelik het ek na ’n Lutherse predikant gegaan. Hy het kwaad geword, maar voordat ek daar weg is, het hy gesê: “As jy regtig iets daaroor wil weet, moet jy Jehovah se Getuies vra.”

Ek het die Getuies probeer vind, maar kon hulle nie opspoor nie. Toe ek ’n paar dae later van die werk af huis toe kom, het ek gesien dat die deur half oopstaan. ’n Aantreklike jong man het vir my ma uit die Bybel gelees. Ek het onmiddellik gedink: ‘Dit moet een van Jehovah se Getuies wees!’ Ons het hierdie man, Tibor Haffner, ingenooi en ek het my vrae herhaal. Hy het nie in sy eie woorde geantwoord nie, maar het my eerder gewys wat die Bybel sê oor die kenmerk van ware Christene sowel as oor die tye waarin ons leef.—Johannes 13:34, 35; 2 Timoteus 3:1-5.

Binne ’n paar maande, voordat ek 17 geword het, is ek gedoop. Ek wou hê dat almal hierdie kosbare waarhede moes hoor wat ek met soveel moeite gevind het. Ek het voltyds aan die predikingswerk begin deelneem, iets wat gedurende die laat 1930’s nogal moeilik was in Tsjeggo-Slowakye. Al was ons werk amptelik geregistreer, het ons hewige teenkanting op aanstigting van die geestelikes verduur.

Die begin van vervolging

Eendag, laat in 1937, het ek en ’n ander Christensuster in ’n dorpie naby Lučenec getuig. Ons is weldra gearresteer en tronk toe geneem. “Julle gaan hier sterf”, het die wag gesê terwyl hy ons seldeur hard toegeslaan het.

Teen die aand het ons vier selmaats bygekry. Ons het hulle begin vertroos en vir hulle getuig. Hulle het kalmer geword, en ons het die hele nag deur oor Bybelwaarhede met hulle gesels.

Sesuur die oggend het die wag my uit die sel geroep. Ek het vir my vriendin gesê: “Ons sal mekaar weer sien in God se Koninkryk.” Ek het haar gevra om vir my familie te vertel wat gebeur het as sy dit oorleef. Ek het in my hart gebid en saam met die wag gegaan. Hy het my na sy woonstel op die gevangenisterrein geneem. “Ek het ’n paar vrae om jou te vra, meisie”, het hy gesê. “Gisteraand het jy gesê dat God se naam Jehovah is. Kan jy dit vir my in die Bybel wys?” Hoe verbaas en verlig was ek tog! Hy het sy Bybel gebring, en ek het hom en sy vrou die naam Jehovah gewys. Hy het baie ander vrae gevra oor die onderwerpe wat ons gedurende die nag met die vier vroue bespreek het. Hy was tevrede met die antwoorde en het sy vrou gevra om vir my en my vriendin ontbyt te maak.

’n Paar dae later is ons vrygelaat, maar ’n regter het beslis dat ek Tsjeggo-Slowakye moet verlaat omdat ek ’n Hongaarse burger is. Dit was ná hierdie voorval dat Tibor Haffner my gevra het om sy vrou te word. Ons het getrou, en ek het by sy ouers ingetrek.

Die vervolging word hewiger

Ons het as ’n egpaar voortgegaan met die predikingswerk, hoewel Tibor ook organisatoriese werk gehad het om te doen. Net ’n paar dae voordat Hongaarse soldate ons stad in November 1938 binnegeval het, is ons seun, Tibor jr., gebore. In Europa was die Tweede Wêreldoorlog aan die broei. ’n Groot deel van Tsjeggo-Slowakye is deur Hongarye oorgeneem, wat gelei het tot groter vervolging vir Jehovah se Getuies wat in die geannekseerde gebiede gewoon het.

Op 10 Oktober 1942 het Tibor na Debrecen gegaan om ’n paar broers te ontmoet. Dié keer het hy egter nie teruggekom nie. Later het hy my vertel wat gebeur het. In plaas van die broers was daar polisiemanne in gewone klere op die brug waar die ontmoeting sou plaasvind. Hulle het my man en Pál Nagypál, die laastes om daar aan te kom, ingewag. Die polisie het hulle na die polisiekantoor geneem en hulle kaal voete met knuppels geslaan totdat hulle as gevolg van die pyn hulle bewussyn verloor het.

Toe is hulle beveel om hulle stewels aan te trek en op te staan. Ten spyte van die pyn is hulle gedwing om na die treinstasie te loop. Die polisie het nog ’n man gebring wie se kop so verbind was dat hy skaars kon sien. Dit was broer András Pilling, wat ook na die ontmoetingsplek gekom het. My man is per trein geneem na Alag, naby Boedapest, waar hulle in aanhouding moes bly. Een van die wagte wat Tibor se stukkende voete gesien het, het sarkasties gesê: “Party mense kan darem maar baie wreed wees! Moenie bekommerd wees nie, ons sal jou genees.” Twee ander wagte het Tibor toe op sy voete begin slaan, sodat die bloed oral gespat het. Ná ’n paar minute het hy sy bewussyn verloor.

Die volgende maand is Tibor en meer as 60 ander broers en susters verhoor. Broers András Bartha, Dénes Faluvégi en János Konrád is tot die galg veroordeel. Broer András Pilling is tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis en my man is 12 jaar gevangenisstraf opgelê. Hulle misdaad? Die aanklaer het hulle van hoogverraad, weiering om militêre diens te doen, spioenasie en laster teen die allerheiligste kerk aangekla. Die doodsvonnisse is later na lewenslange gevangenisstraf verander.

Ek volg my man

Twee dae nadat Tibor weg is na die vergadering in Debrecen, was ek voor sesuur die oggend besig om ons klere te stryk. Skielik was daar ’n harde klop aan die deur. ‘Hulle is hier’, het ek gedink. Ses polisiemanne het ingestap en vir my gesê dat hulle toestemming het om die huis te deursoek. Almal in die huis is gearresteer en na die polisiekantoor geneem, selfs ons driejarige seuntjie. Daardie selfde dag is ons oorgeplaas na ’n tronk in Pétervására, Hongarye.

Ná ons aankoms het ek koors ontwikkel en is ek van die ander gevangenes geskei. Toe ek herstel het, het twee soldate in my sel oor my gestry. “Ons moet haar skiet! Ek sal haar skiet!” het een gesê. Maar die ander een wou eers vasstel of ek gesond is. Ek het by hulle gepleit om my lewe te spaar. Hulle het my sel uiteindelik verlaat, en ek het Jehovah gedank dat hy my gehelp het.

Die wagte het ’n spesiale ondervragingsmetode gehad. Hulle het my beveel om op my maag op die vloer te lê en het sokkies in my mond gestop, my hande en voete vasgebind en my met ’n sweep geslaan totdat die bloed geloop het. Hulle het net opgehou wanneer een van die soldate gesê het dat hy moeg is. Hulle het my gevra wie my man sou ontmoet op die dag toe hy in hegtenis geneem is. Ek het nie vir hulle gesê nie; gevolglik het hulle drie dae lank aangehou om my te slaan. Op die vierde dag is ek toegelaat om my seuntjie na my ma toe te neem. In die yskoue weer het ek my seuntjie op my seer rug gedra en 13 kilometer ver gestap na die stasie toe. Van daar af het ek ’n trein huis toe gehaal, maar ek moes daardie selfde dag terug wees by die kamp.

Ek is tot ses jaar gevonnis en na ’n tronk in Boedapest gestuur. Toe ek daar aankom, het ek gehoor dat Tibor ook daar is. Hoe verheug was ons tog toe ons toestemming gekry het om met mekaar te praat, al was dit net vir ’n paar minute deur ’n ysterheining! Ons albei kon Jehovah se liefde aanvoel en is versterk deur hierdie kosbare oomblikke. Voordat ons mekaar weer sou sien, het ons albei verskriklike beproewinge deurgemaak en dikwels ternouernood aan die dood ontkom.

Van tronk tot tronk

Sowat 80 van ons susters is in een sel gestop. Ons het gesmag na geestelike voedsel, maar dit het onmoontlik gelyk om enigiets by die tronk in te smokkel. Sou ons iets kon kry wat reeds binne die tronk was? Kom ek vertel julle wat ons gedoen het. Ek het aangebied om sokkies te stop vir die klerke van die tronk. In een van die sokkies het ek ’n stukkie papier gesit waarop ek die katalogusnommer gevra het van die Bybel in die tronk se biblioteek. Om enige agterdog te voorkom, het ek nog twee boektitels bygesit.

Die volgende dag het ek nog ’n hoop sokkies van die klerke gekry. In een van hulle was die antwoord. Toe het ek hierdie nommers vir ’n wag gegee en die boeke aangevra. Hoe verheug was ons tog toe ons die boeke, waaronder die Bybel, ontvang het! Die res van die boeke het ons elke week omgeruil, maar die Bybel het ons gehou. Wanneer die wag ons daaroor gevra het, het ons altyd gesê: “Dis ’n dik boek, en almal wil dit lees.” Op hierdie manier kon ons die Bybel lees.

Eendag het ’n offisier my na sy kantoor toe genooi. Hy het ongewoon vriendelik voorgekom.

“Mev. Haffner, ek het goeie nuus vir jou”, het hy gesê. “Jy kan huis toe gaan. Miskien môre. Selfs vandag as daar ’n trein is.”

“Dit sal wonderlik wees”, het ek geantwoord.

“Natuurlik sal dit”, het hy gesê. “Jy het ’n kind, en ek is seker dat jy hom wil grootmaak.” Toe het hy bygevoeg: “Teken net hierdie brief.”

“Wat is dit?” het ek gevra.

“Moenie jou daaroor bekommer nie”, het hy nadruklik gesê. “Teken net, en jy kan gaan.” Toe het hy vir my gesê: “Sodra jy by die huis kom, kan jy doen net wat jy wil. Maar nou moet jy teken dat jy nie meer een van Jehovah se Getuies is nie.”

Ek het teruggetree en met beslistheid geweier.

“Dan sal jy hier sterf!” het hy woedend geskreeu en my weggestuur.

In Mei 1943 is ek na ’n ander tronk in Boedapest oorgeplaas en later na die dorpie Márianosztra, waar ons in ’n klooster met omtrent 70 nonne gebly het. Ondanks honger en ander ontberinge was ons gretig om hulle van ons hoop te vertel. Een van die nonne het opreg belanggestel in ons boodskap en gesê: “Dis wonderlik. Ek het nog nooit so iets gehoor nie. Vertel my asseblief meer.” Ons het haar van die nuwe wêreld vertel en die wonderlike lewe wat daar sal wees. Terwyl ons gesels het, het die kloostermoeder daar aangekom. Die non wat belangstelling getoon het, is onmiddellik weggeneem, haar klere is van haar afgestroop en sy is wreed met ’n sweep geslaan. Toe ons haar weer sien, het sy gepleit: “Vra Jehovah asseblief om my te bevry en my hier weg te neem. Ek wil een van julle wees.”

Ons volgende bestemming was ’n ou tronk in Komárom, ’n stad langs die Donau-rivier, sowat 80 kilometer wes van Boedapest. Die lewensomstandighede was haglik. Soos etlike ander susters, het ek tifus gekry, en dit het my baie siek gemaak; ek het bloed opgegooi en baie swak geword. Ons het nie medisyne gehad nie, en ek het gedink dat dit die einde was. Maar toe het die offisiere iemand gesoek wat kantoorwerk kon doen. Die susters het mý naam genoem. Gevolglik is ek medisyne gegee en het ek herstel.

Herenig met my gesin

Toe die Sowjetleër uit die ooste in aantog was, is ons gedwing om na die weste te gaan. Om al die afgryslike dinge te beskryf wat ons deurgemaak het, sal ’n lang storie wees. Ek was verskeie kere na aan die dood, maar danksy Jehovah se beskermende hand het ek behoue gebly. Toe die oorlog tot ’n einde gekom het, was ons in die Tsjeggiese stad Tábor, sowat 80 kilometer van Praag af. Eers ná drie weke, op 30 Mei 1945, het ek en my skoonsuster Magdalena by ons huis in Lučenec aangekom.

Ek kon my skoonma en my geliefde seun, Tibor, op ’n afstand in die agterplaas sien. My oë het vol trane geskiet en ek het uitgeroep: “Tibike!” Hy het gehardloop en in my arms gespring. “Mamma sal nie weer weggaan nie, né?” Dit was die eerste woorde wat hy vir my gesê het, en ek sal dit nooit vergeet nie.

Jehovah het ook barmhartigheid aan my man, Tibor, bewys. Van die tronk in Boedapest is hy na die strafkamp in Bor gestuur saam met omtrent 160 ander broers. Hulle was dikwels baie na aan die dood, maar as ’n groep het hulle behoue gebly. Tibor het op 8 April 1945 teruggekeer huis toe, sowat ’n maand voor my.

Ná die oorlog het ons nog steeds Jehovah se krag nodig gehad om al die beproewinge te verduur wat die volgende 40 jaar onder die Kommunistiese bewind in Tsjeggo-Slowakye oor ons gekom het. Tibor is weer tot ’n lang tronkstraf gevonnis, en ek moes alleen na ons seun omsien. Ná sy vrylating het Tibor as ’n reisende opsiener gedien. Gedurende die 40 jaar van Kommunisme het ons van elke geleentheid gebruik gemaak om ander van ons geloof te vertel. Ons het baie mense gehelp om die waarheid te leer. Hulle het dus ons geestelike kinders geword.

Hoe wonderlik was dit tog toe ons in 1989 godsdiensvryheid gekry het! Die volgende jaar het ons die eerste streekbyeenkoms in ’n baie lank tyd in ons land bygewoon. Toe ons duisende van ons broers en susters sien wat dekades lank hulle onkreukbaarheid gehandhaaf het, het ons geweet dat Jehovah vir hulle almal ’n groot bron van krag was.

My geliefde man, Tibor, het op 14 Oktober 1993 getrou aan God gesterf, en ek woon nou naby my seun in Žilina, Slowakye. My fisiese krag is maar min, maar my gees is sterk met die krag wat Jehovah gee. Ek glo vas dat ek met sy krag enige beproewinge in hierdie ou stelsel kan verduur. Ook sien ek uit na die tyd wanneer ek, deur Jehovah se onverdiende goedhartigheid, vir ewig sal kan lewe.

[Prent op bladsy 20]

My seun Tibor jr. (toe hy 4 was) wat ek moes agterlaat

[Prent op bladsy 21]

Tibor sr. saam met ander broers in Bor

[Prent op bladsy 22]

Saam met Tibor en Magdalena, my skoonsuster, in 1947 in Brno

[Prente op bladsy 23]

Ek was verskeie kere na aan die dood, maar danksy Jehovah se beskermende hand het ek behoue gebly

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel