Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w05 2/15 bl. 28-31
  • Vergelyk jy jou met ander?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vergelyk jy jou met ander?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom en wanneer ons dalk vergelykings tref
  • Vergelykings wat tot mededinging lei
  • Selfevaluering en ’n gevoel van tevredenheid
  • Stry teen afguns
  • Gepaste vergelykings
  • Bevorder vrede deur teen afguns te stry
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Waarom word ek altyd met ander vergelyk?
    Ontwaak!—2007
  • ’n Eienskap wat ons verstand kan vergiftig—Afguns
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Sleutels tot ’n gelukkige lewe
    Ontwaak!—2014
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
w05 2/15 bl. 28-31

Vergelyk jy jou met ander?

WIE van ons het nog nie iemand ontmoet wat mooier is as ons, blykbaar gewilder is, dinge vinniger begryp, of beter punte op skool kry nie? Dalk geniet ander beter gesondheid of het hulle ’n bevredigender werk, is hulle suksesvoller of lyk dit asof hulle meer vriende het. Hulle het moontlik meer besittings, meer geld, ’n nuwer motor of dit lyk dalk net asof hulle gelukkiger is. Vergelyk ons ons met ander wanneer ons sulke dinge sien? Is dit onvermydelik om vergelykings te tref? Waarom sal ’n Christen dit wil vermy? En hoe kan ons tevrede wees sonder om ons met enigiemand te vergelyk?

Waarom en wanneer ons dalk vergelykings tref

Een rede waarom mense hulle moontlik met ander vergelyk, is dat dit hulle help om hulle gevoel van eiewaarde te behou of te verbeter. Mense voel dikwels tevrede wanneer hulle sien dat hulle net so suksesvol is soos hulle portuurs. Nog ’n rede is dat vergelykings moontlik pogings is om onsekerheid omtrent onsself te verminder, om te verstaan wat ons vermoëns en beperkings is. Ons sien wat ander bereik het. As hulle in baie opsigte soos ons is en sekere doelwitte bereik het, voel ons moontlik dat ons soortgelyke doelwitte kan bereik.

Vergelykings word meestal getref tussen mense wat baie in gemeen het—wat dieselfde geslag, naastenby ewe oud en op gelyke sosiale vlak is en mekaar ken. Ons sal minder geneig wees om ons met iemand anders te vergelyk as die oënskynlike verskil groot is. Met ander woorde, die gemiddelde tienermeisie sal haar eerder met haar skoolmaats vergelyk as met ’n topmodel, en die model sal haar waarskynlik nie met die tiener vergelyk nie.

Op watter gebiede tref mense vergelykings? Enige besitting of eienskap waaraan ’n gemeenskap waarde heg—of dit nou intelligensie, skoonheid, rykdom of klere is—kan die grondslag vir vergelykings wees. Maar ons tref gewoonlik vergelykings oor dinge waarin ons belangstel. Byvoorbeeld, ons sal waarskynlik nie afgunstig wees op die grootte van ’n seëlversameling van een van ons kennisse as ons nie juis daarin belangstel om seëls te versamel nie.

Vergelykings lok ’n groot verskeidenheid reaksies uit, wat wissel van tevredenheid tot depressie, van bewondering en ’n begeerte om iemand na te boots tot ongemak of vyandigheid. Sommige van hierdie emosies is skadelik en is strydig met Christelike eienskappe.

Vergelykings wat tot mededinging lei

Baie wat daarna streef om “wenners” te wees wanneer hulle hulle met ander vergelyk, openbaar ’n gees van mededinging. Hulle wil beter wees as ander en is nie tevrede totdat hulle voel dat hulle wel beter is nie. Dit is nie lekker om in die geselskap van sulke mense te wees nie. Vriendskappe en verhoudings met hulle is gespanne. Sulke mense het nie net ’n gebrek aan nederigheid nie, maar hulle pas gewoonlik nie die Bybelraad toe om hulle medemens lief te hê nie, aangesien hulle gesindheid maklik gevoelens van minderwaardigheid en vernedering in ander kan wek.—Matteus 18:1-5; Johannes 13:34, 35.

Mense word in sekere sin seergemaak wanneer ander hulle laat voel dat hulle “’n mislukking” is. Volgens een skrywer “is ons mislukkings baie pynliker wanneer dit lyk asof mense wat in dieselfde situasie is as ons, die besittings verkry het wat ons graag wil hê”. ’n Gees van mededinging wek derhalwe afguns, gegriefdheid en misnoeë teenoor iemand weens sy besittings, voorspoed, posisie, goeie naam, die voordele wat hy geniet, ensovoorts. Dit lei tot verdere mededinging—’n bose kringloop. Om ‘wedywering met mekaar aan te wakker’, word in die Bybel veroordeel.—Galasiërs 5:26.

Deur die prestasies van mededingers te verkleineer, probeer afgunstige mense hulle eie beskadigde selfbeeld red. Sulke reaksies lyk dalk nie na iets ernstigs nie, maar as dit nie geïdentifiseer en reggestel word nie, kan dit tot kwaadwillige oortreding lei. Beskou twee Bybelverslae waarin afguns ’n rol gespeel het.

Terwyl Isak onder die Filistyne gewoon het, is hy geseën met “kuddes skape en troppe beeste en ’n groot groep knegte . . . , sodat die Filistyne afgunstig op hom geword het”. Gevolglik het hulle al die putte toegestop wat deur Isak se vader Abraham gegrawe is, en hulle koning het Isak gevra om die omgewing te verlaat (Genesis 26:1-3, 12-16). Hulle afguns het hulle venynig en vernielsugtig gemaak. Hulle kon dit eenvoudig nie langer verdra om te sien hoe voorspoedig Isak in hulle midde was nie.

Eeue later het Dawid hom op die slagveld onderskei. Sy heldedade is deur die vroue van Israel geprys, wat gesing het: “Saul het sy duisende verslaan, en Dawid sy tienduisende.” Hoewel Saul ook geprys is, het hy daardie vergelyking as vernederend beskou, en afguns het in sy hart posgevat. Van toe af het hy kwade gevoelens teenoor Dawid gekoester. Hy het kort voor lank die eerste van talle pogings aangewend om Dawid dood te maak. Watter goddeloosheid kan tog uit afguns voortspruit!—1 Samuel 18:6-11.

As dit dus gevoelens soos afguns of ’n gees van mededinging by ons wek wanneer ons ons met ander vergelyk—met hulle prestasies of die voordele wat hulle geniet—moet ons oppas! Dit is negatiewe emosies, wat in stryd is met God se denke. Maar voordat ons ondersoek hoe ons sulke gesindhede kan weerstaan, kan ons kyk na iets anders wat tot vergelykings aanleiding gee.

Selfevaluering en ’n gevoel van tevredenheid

‘Is ek intelligent, aantreklik, bekwaam, fisies gesond, dwing ek respek af, is ek maklik om lief te hê? En tot watter mate?’ Ons staan selde voor ’n spieël en vra sulke vrae. Maar volgens een skrywer “kom sulke vrae dikwels by ons op, en ons gee stilswyend antwoorde daarop wat min of meer bevredigend is”. Iemand wat nie seker is van sy potensiaal nie, sal dalk oor hierdie dinge nadink sonder enige gevoel van mededinging of sweem van afguns. Hy evalueer homself eenvoudig. Daar is nie noodwendig iets daarmee verkeerd nie. Maar die regte manier om dit te doen, is om ons nie met ander te vergelyk nie.

Ons het verskillende vermoëns, wat van ’n verskeidenheid faktore afhang. Daar sal altyd mense wees wat skynbaar beter vaar as ons. Daarom moet ons nie met afguns na hulle kyk nie, maar eerder ons prestasies teen God se regverdige standaarde meet, wat veilige riglyne voorsien van wat reg en goed is. Jehovah stel belang in wat ons as individue is. Hy hoef ons nie met enigiemand te vergelyk nie. Die apostel Paulus raai ons aan: “Laat elkeen sy eie werk op die proef stel, en dan sal hy net met betrekking tot homself rede tot vreugde hê, en nie in vergelyking met die ander persoon nie.”—Galasiërs 6:4.

Stry teen afguns

Omdat alle mense onvolmaak is, sal dit moontlik kragtige en voortgesette inspanning verg om teen afguns te stry. Dit is een ding om te weet dat die Skrif vir ons sê: “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar”, maar dit is heeltemal iets anders om dit te doen. Paulus het sy eie neiging om te sondig, erken. Om daarteen te stry, moes hy ‘sy liggaam kasty en dit as ’n slaaf lei’ (Romeine 12:10; 1 Korintiërs 9:27). Vir ons beteken dit dalk dat ons ’n mededingende gesindheid moet weerstaan en dit met ’n positiewe gesindheid moet vervang. Ons moet bid en Jehovah vra om ons te help “om nie meer van [onsself] te dink as wat dit nodig is om te dink nie”.—Romeine 12:3.

Bybelstudie en bepeinsing is ook nuttig. Dink byvoorbeeld aan die toekomstige Paradys wat God belowe. Dan sal almal vrede, goeie gesondheid, volop voedsel, gemaklike huise en bevredigende werk hê (Psalm 46:8, 9; 72:7, 8, 16; Jesaja 65:21-23). Sal enigiemand die drang hê om mee te ding? Beslis nie. Daar sal geen rede wees om dit te doen nie. Jehovah het ons weliswaar nie elke besonderheid gegee oor hoe die lewe dan sal wees nie, maar dit is redelik om te veronderstel dat almal belangstellings en vaardighede sal kan ontwikkel waarvan hulle hou. Die een sal dalk sterrekunde bestudeer, die ander pragtige materiaal maak. Waarom sal die een afgunstig wees op die ander? Die bedrywighede van ons vriende sal ’n aansporing wees, nie ’n rede om gegriefd te voel nie. Sulke gevoelens sal iets van die verlede wees.

As dit die lewe is wat ons begeer, moet ons dan nie daarna strewe om nou dieselfde gesindheid aan te kweek nie? Ons geniet alreeds ’n geestelike paradys, wat vry is van baie van die probleme van die wêreld om ons. Aangesien daar nie ’n gees van mededinging in God se nuwe wêreld gaan wees nie, is daar werklik goeie rede om dit nou te vermy.

Is dit dan verkeerd om ons met ander te vergelyk? Of is daar tye dat dit dalk gepas sal wees?

Gepaste vergelykings

Vergelykings het mense al dikwels verbitterd of terneergedruk gemaak, maar dit hoef nie altyd die geval te wees nie. Let op die apostel Paulus se raad in dié verband: ‘Wees navolgers van dié wat deur geloof en geduld die beloftes beërf’ (Hebreërs 6:12). Om eienskappe soos dié van Jehovah se getroue knegte van die ou tyd te probeer aankweek, kan lonend wees. Dit kan weliswaar ’n paar vergelykings behels. Maar dit kan ons help om voorbeelde te vind wat ons kan navolg sowel as gebiede waarop ons moet verbeter.

Dink aan Jonatan. In sekere sin het hy rede gehad om afgunstig te wees. As die oudste seun van koning Saul van Israel was daar dalk ’n tyd toe Jonatan verwag het om koning te word, maar Jehovah het die jong Dawid gekies, ’n man wat sowat 30 jaar jonger was as hy. Jonatan het nie ’n wrok gekoester nie, maar het hom eerder onderskei as ’n onselfsugtige vriend van Dawid wat hom as Jehovah se aangewese koning ondersteun het. Jonatan was waarlik ’n geestelike man (1 Samuel 19:1-4). In teenstelling met sy vader, wat Dawid as ’n mededinger beskou het, het Jonatan besef dat dit Jehovah is wat sake rig, en hy het hom aan Sy wil onderwerp; hy het hom nie met Dawid vergelyk en gevra: “Waarom Dawid en nie ek nie?”

Tussen mede-Christene behoort ons nooit bedreig te voel, asof ander ons wil uitstof en ons plek wil inneem nie. Wedywering is ongepas. Volwasse Christene word deur samewerking, eenheid en liefde gekenmerk, nie deur mededinging nie. “Liefde is afguns se groot vyand”, sê die sosioloog Francesco Alberoni. “As ons lief is vir iemand, wil ons hê wat goed is vir hom, en ons is gelukkig wanneer hy suksesvol en gelukkig is.” As iemand anders in die Christengemeente dus vir ’n sekere voorreg gekies word, sal dit liefdevol wees om daarmee tevrede te wees. Dit is hoe Jonatan was. Soos hy, sal ons geseën word as ons diegene ondersteun wat getrou dien in verantwoordelike posisies in Jehovah se organisasie.

Die uitstekende voorbeeld van mede-Christene kan tereg bewonder word. As ons ons op ’n gebalanseerde manier met hulle vergelyk, kan dit ons aanmoedig om hulle geloof op ’n heilsame wyse na te volg (Hebreërs 13:7). Maar as ons nie versigtig is nie, kan navolging in mededinging verander. As ons voel dat iemand vir wie ons bewondering het, beter as ons vaar en ons hom dan probeer swartsmeer of kritiseer, sal dit beteken dat navolging in afguns ontaard het.

Geen onvolmaakte mens kan ’n volmaakte voorbeeld stel nie. Daarom sê die Skrif: “Word dan navolgers van God, as geliefde kinders.” Dit sê ook: “Christus het vir julle gely en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (Efesiërs 5:1, 2; 1 Petrus 2:21). Jehovah en Jesus se eienskappe—hulle liefde, hartlikheid, empatie en nederigheid—is wat ons moet probeer navolg. Ons moet tyd neem om ons teen hulle eienskappe, voornemens en handelswyses te meet. So ’n vergelyking kan ons lewens verryk en betroubare leiding, stabiliteit en veiligheid voorsien, en dit kan ons help om ryp Christenmans en -vroue te word (Efesiërs 4:13). As ons ons daarop toespits om ons bes te doen om hulle volmaakte voorbeeld na te volg, sal ons beslis minder geneig wees om ons met ander mense te vergelyk.

[Prent op bladsy 28, 29]

Koning Salomo het afgunstig geraak op Dawid

[Prent op bladsy 31]

Jonatan het die jonger Dawid nooit as ’n mededinger beskou nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel