Het jy geweet?
Waarom het Jesus in gebed Jehovah as “Abba, Vader” aangespreek?
Die Aramese woord ʼab·baʼʹ kan “die vader” of “o Vader” beteken. Op elkeen van die drie plekke waar die uitdrukking in die Skrif verskyn, is dit deel van ’n gebed en word dit met verwysing na die hemelse Vader, Jehovah, gebruik. Wat is die betekenis van hierdie woord?
The International Standard Bible Encyclopedia sê: “In die omgangstaal van Jesus se tyd is ʼabbāʼ hoofsaaklik deur kinders as ’n uitdrukking van informele intimiteit en respek teenoor hulle vaders gebruik.” Dit was ’n liefdevolle aanspreekvorm en van die eerste woorde wat ’n kind geleer het. Jesus het die uitdrukking in ’n besonder vurige gebed tot sy Vader gebruik. In die tuin van Getsemane, net ure voor sy dood, het Jesus Jehovah in sy gebed met die woorde “Abba, Vader,” aangespreek.—Markus 14:36.
“ʼAbbāʼ as ’n aanspreekvorm vir God is uiters ongewoon in die Joodse letterkunde van die Grieks-Romeinse tyd, waarskynlik omdat dit oneerbiedig sou klink om hierdie familiêre aanspreekvorm teenoor God te gebruik”, sê die bogenoemde naslaanwerk verder. Maar “Jesus se . . . gebruik van hierdie uitdrukking in gebed is ’n indirekte bevestiging van Sy merkwaardige bewering dat Hy intimiteit met God geniet”. Die ander twee gevalle van “Abba” in die Skrif—albei in die geskrifte van die apostel Paulus—toon dat eerste-eeuse Christene dit ook in hulle gebede gebruik het.—Romeine 8:15; Galasiërs 4:6.
Waarom is ’n deel van die Bybel in Grieks geskryf?
Die apostel Paulus het gesê dat “die heilige verklarings van God” aan die Jode toevertrou is (Romeine 3:1, 2). Die eerste deel van die Bybel is dus hoofsaaklik in Hebreeus, die Jode se taal, geskryf. Maar die Christelike Geskrifte is in Grieks geskryf.a Waarom?
In die vierde eeu v.G.J. het die soldate wat onder Aleksander die Grote gedien het, verskeie dialekte gepraat van klassieke Grieks, wat weens vermenging besig was om in Koine, of gewone Grieks, te verander. Aleksander se verowerings het daartoe bygedra dat Koine die internasionale taal van daardie tyd geword het. Teen die tyd van daardie verowerings was die Jode wyd en syd versprei. Baie het nooit na Palestina teruggekeer ná hulle ballingskap in Babilon, wat eeue tevore geëindig het nie. Gevolglik het baie van die Jode hulle kennis van suiwer Hebreeus verloor en Grieks begin gebruik (Handelinge 6:1). Om hulle te help, is die Septuagint, ’n vertaling van die Hebreeuse Geskrifte in Koine, of gewone Grieks, voortgebring.
Die Dictionnaire de la Bible meld dat geen ander taal “die ryk woordeskat, die veelsydigheid en die universele en internasionale karakter van Grieks” gehad het nie. Weens sy omvattende en presiese woordeskat, uitvoerige grammatika en sy werkwoorde wat subtiele nuanses van betekenis raak beskryf het, was dit “’n taal wat hom geleen het tot kommunikasie, tot sirkulasie, tot die wye verspreiding van idees—net die taal wat die Christelike godsdiens nodig gehad het”. Is dit dan nie gepas dat die Christelike boodskap in Grieks op skrif gestel is nie?
[Voetnoot]
a Kort dele van die Hebreeuse Geskrifte is in Aramees geskryf. Die Evangelie van Matteus is blykbaar eers in Hebreeus geskryf en toe moontlik deur Matteus self in Grieks vertaal.
[Prent op bladsy 13]
’n Fragment van ’n manuskrip van die Griekse Septuagint
[Erkenning]
Courtesy of Israel Antiquities Authority