Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w10 2/1 bl. 18-20
  • Die Bybel verander lewens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Bybel verander lewens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Die Bybel verander lewens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
w10 2/1 bl. 18-20

Die Bybel verander lewens

WAT het ’n Rastafariër beweeg om sy rastalokke af te sny en sy vooroordeel teen wit mense te bowe te kom? En wat het ’n gewelddadige jong man wat vir dwelmhandelaars geld ingevorder het, gehelp om sy lewenswyse te verander? Kyk na wat hierdie persone sê.

‘Ek het selfs my vooroordeel te bowe gekom.’—HAFENI NGHAMA

OUDERDOM: 34

GEBOORTELAND: ZAMBIË

GESKIEDENIS: RASTAFARIËR

MY VERLEDE: Ek is in ’n vlugtelingkamp in Zambië gebore. My ma het gedurende ’n tyd van oorlog uit Namibië gevlug en by die Suidwes-Afrikaanse Volksorganisasie (SWAPO) aangesluit. Hierdie organisasie het teen die Suid-Afrikaanse regime geveg wat destyds oor Namibië regeer het.

Gedurende die eerste 15 jaar van my lewe het ek in verskeie vlugtelingkampe gebly. Jongmense in die SWAPO-kampe is opgelei om voorstanders van die vryheidsbeweging te wees. Ons is polities geïndoktrineer en is geleer om wit mense te haat.

Toe ek 11 was, wou ek as ’n Christen aangeneem word in ’n kerk in die kamp wat ’n mengsel van Rooms-Katolieke, Lutherane, Anglikane en ander was. Die predikant met wie ek gepraat het, het my afgeraai om dit te doen. Van toe af het ek ateïstiese opvattings aangeneem. Maar op 15-jarige ouderdom het ek by die Rastafariese beweging aangesluit weens my liefde vir reggae en my begeerte om party van die onregte wat swart mense in Afrika aangedoen is, ongedaan te maak. Ek het rastalokke laat groei, dagga gerook, opgehou om vleis te eet en vryheid vir swart mense voorgestaan. Ek het egter nie my onsedelike lewenswyse verander of opgehou om na gewelddadige rolprente te kyk nie. En ek het aangehou om vulgêre taal te gebruik.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: In 1995, toe ek omtrent 20 was, het ek ernstig begin nadink oor wat ek met my lewe wil doen. Ek het al die Rastafariese publikasies wat ek in die hande kon kry, bestudeer. Party het na die Bybel verwys, maar die verduidelikings het nie vir my sin gemaak nie. Ek het dus besluit om self die Bybel te lees.

’n Rastafariese vriend het later vir my ’n Bybelstudiehulp gegee wat deur Jehovah se Getuies uitgegee is. Ek het hierdie publikasie op my eie saam met die Bybel bestudeer. Later het ek Jehovah se Getuies ontmoet en verder saam met hulle die Bybel gestudeer.

Met groot inspanning het ek opgehou rook en my strawwe drinkery stopgesit (2 Korintiërs 7:1). Ek het my voorkoms verbeter, my rastalokke afgesny, opgehou om na pornografie en gewelddadige rolprente te kyk en nie meer vulgêre taal gebruik nie (Efesiërs 5:3, 4). Uiteindelik het ek selfs my vooroordeel teen wit mense te bowe gekom (Handelinge 10:34, 35). Om hierdie veranderinge te maak, moes ek ontslae raak van musiek wat rassisme bevorder en ophou om met my voormalige vriende te assosieer, wat my probeer beïnvloed het om na my ou lewenswyse terug te keer.

Nadat ek hierdie veranderinge aangebring het, het ek na ’n Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gesoek en gevra om by die godsdiens aan te sluit. ’n Bybelstudie is met my gehou. Toe ek besluit het om as een van Jehovah se Getuies gedoop te word, was my familie nie gelukkig nie. My ma het gesê dat ek enige ander “Christelike” godsdiens kon kies, solank dit nie Jehovah se Getuies is nie. Een van my ooms, wat ’n vooraanstaande lid van die regering was, het my gedurig gekritiseer omdat ek besluit het om met die Getuies te assosieer.

Maar toe ek geleer het hoe Jesus mense behandel het en daarna sy raad toegepas het, het dit my gehelp om teenstand en bespotting die hoof te bied. Toe ek die Getuies se leringe met die Bybel vergelyk het, het dit my oortuig dat ek die ware godsdiens gevind het. Hulle gehoorsaam byvoorbeeld die Bybel se bevel om vir ander te getuig (Matteus 28:19, 20; Handelinge 15:14). En hulle raak nie betrokke by die politiek nie.—Psalm 146:3, 4; Johannes 15:17, 18.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Toe ek geleer het om volgens Bybelstandaarde te lewe, het dit my op praktiese maniere gehelp. Byvoorbeeld, omdat ek opgehou het om dagga te rook, mors ek nie meer elke maand honderde rande nie. Ek kry ook nie meer hallusinasies nie, en my geestes- en fisiese gesondheid het verbeter.

Ek geniet nou die doelgerigte en sinvolle lewe waarna ek al van jongs af smag. En die heel belangrikste is dat ek nou voel dat ek nader aan God kon kom.—Jakobus 4:8.

“Ek het geleer om my woede te beteuel.”—MARTINO PEDRETTI

OUDERDOM: 43

GEBOORTELAND: AUSTRALIË

GESKIEDENIS: DWELMHANDELAAR

MY VERLEDE: My gesin het dikwels getrek terwyl ek grootgeword het. Ek het in klein dorpies, ’n groot stad en vir ’n rukkie op ’n sendingstasie vir Australiese inboorlinge in die Agterveld gewoon. Ek het aangename herinneringe van daardie tyd saam met my neefs, niggies en ooms—ons het visgevang, gejag, boemerangs gemaak en ander dinge uitgekerf.

My pa was ’n bokser en het my begin leer hoe om te veg toe ek nog baie jonk was. Geweld het vir my ’n lewenswyse geword. Gedurende my tienerjare het ek baie tyd in kroeë deurgebring en gedrink. Ek en my vriende het altyd skoorgesoek. Ons het ’n groep van 20 of meer mense met messe en bofbalkolwe aangeval.

Ek het geld gemaak deur dwelms en goedere wat dokwerkers gesteel het, te verkoop. Ek het ook vir dwelmhandelaars geld ingevorder en haelgewere en pistole gebruik om mense namens hulle te intimideer. My doel was om ’n huurmoordenaar te word. My leuse was: Maak dood of word doodgemaak.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET Ek het van Jehovah se Getuies gehoor terwyl ek grootgeword het. Ek onthou dat ek, toe ek in my vroeë 20’s was, my ma gevra het of sy weet waar daar enige Getuies is. Twee dae later het ’n Getuie genaamd Dixon aan my deur geklop. Nadat ons ’n ruk lank gesels het, het hy my na ’n vergadering van Jehovah se Getuies genooi. Ek het na daardie vergadering gegaan en woon nou al meer as 20 jaar lank hierdie vergaderinge by. Die Getuies kon elke vraag wat ek gehad het, uit die Bybel beantwoord.

Ek het dit geniet om te leer dat Jehovah in individue belangstel, selfs goddeloses (2 Petrus 3:9). Ek het geleer dat hy ’n liefdevolle Vader is wat vir my sal sorg, selfs as niemand anders dit doen nie. Ek was ook verlig om te leer dat hy my sondes sal vergewe as ek my weë verander. Die Bybelverse in Efesiërs 4:22-24 het ’n groot uitwerking op my gehad. Hierdie Skrifgedeelte het my aangespoor om “die ou persoonlikheid [af te lê]” en my “met die nuwe persoonlikheid [te] beklee, wat na God se wil . . . geskep is”.

Dit het tyd geneem om my lewenswyse te verander. Deur die week het ek nie aan dwelms geraak nie, maar wanneer ek oor die naweek saam met my vriende was, het ek geswig. Ek het besef dat ek van my vriende af sal moet wegkom as ek my lewe wil verander, en daarom het ek besluit om na ’n ander staat te trek. ’n Paar vriende het aangebied om my op my reis te vergesel, en ek het ingestem. Gedurende die reis het hulle begin dagga rook en ook vir my daarvan aangebied. Ek het vir hulle gesê dat ek daardie gewoontes nou laat staan het, en ons paaie het by die grens geskei. Ek het later uitgevind dat my vriende kort daarna ’n afgesaagde haelgeweer gebruik het om ’n bank te beroof.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Toe ek my assosiasie met daardie vriende beëindig het, het ek dit baie makliker gevind om die nodige veranderinge in my lewe aan te bring. In 1989 het ek ’n gedoopte Getuie geword. Nadat ek gedoop is, het ook my suster, my ma en my pa Jehovah begin dien.

Ek is nou 17 jaar lank getroud en het drie pragtige kinders. Ek het geleer om my woede te beteuel, selfs wanneer iemand my uittart. En ek het geleer om mense van alle ‘stamme, rasse en tale’ lief te hê (Openbaring 7:9). Ek voel dat Jesus se woorde in my geval waar is. Hy het gesê: “As julle in my woord bly, is julle werklik my dissipels, en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:31, 32.

[Lokteks op bladsy 19]

Om veranderinge te maak, moes ek ontslae raak van musiek wat rassisme bevorder

[Lokteks op bladsy 20]

Ek en my vriende het altyd skoorgesoek. Ons het ’n groep van 20 of meer mense met messe en bofbalkolwe aangeval

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel