Leer jou kinders om Jehovah te dien
1 Let veral op die jong broers en susters om jou in die Koninkryksaal wat so mooi tot die gees van die gemeente bydra. Is ons nie dankbaar dat hulle gedurende hulle jeug aan hulle Groot Skepper dink nie? (Pred. 12:1). Sulke voorbeeldige jong manne en vroue is waarskynlik die vrug van baie opleiding en harde werk, en ons hoef net hulle ouers te vra om te weet dat dit die geval is. Wat verg dit egter om ’n seun of ’n dogter volgens die regte weg groot te maak?—Spr. 22:6.
2 Elke gesinshoof moet natuurlik gereeld ’n gesinstudie hou waarby die kinders betrokke is. Dit is een manier waarop hy in ’n geestelike opsig vir ‘sy eie mense’ sorg (1 Tim. 5:8). ’n Poging moet aangewend word om selfs die kleintjies te betrek deur af en toe ’n eenvoudige vraag te stel oor ’n gedagte wat hulle kan verstaan. ’n Ouer kan tot een uur per week rapporteer wanneer hy of sy met ontoegewyde kinders studeer. (Kyk omAF bl. 104 par. 1.) Maar dit verg klaarblyklik meer as ’n weeklikse Bybelstudie om ons kinders te leer. Jy moet elke dag Bybelbeginsels by hulle inskerp en waardering vir Jehovah en sy Seun opbou. Dit verg baie tyd en inspanning van albei Godvresende ouers. Hoewel hierdie tyd nie as velddiens getel word nie, dra dit alles ongetwyfeld daartoe by dat ons God se goedkeuring wegdra en die ewige lewe verkry.—Deut. 6:6, 7; Ef. 6:4.
GEE SPESIALE HULP
3 Hoewel dit noodsaaklik is dat ons ons kinders die “begin van die prediking” leer, is daar tye wanneer kinders spesiale hulp nodig het weens omstandighede wat in hulle lewens ontstaan. (Vergelyk Hebreërs 6:1, 2.) Wanneer kinders by die skool, in julle buurt of selfs in die gemeente met moeilike situasies, probleme en toetse te kampe het, moet ouers vir hulle benewens hulle gesinstudie bykomende geestelike hulp en opleiding gee. Hierdie studie kan soms aangepas word om ’n bepaalde probleem te bespreek. Byvoorbeeld: Gestel daar word by die skool druk op ’n kind uitgeoefen om die vlag tydens seremonies te salueer. Daar is uitstekende materiaal wat ouers kan gebruik in hoofstuk 34 van die boek Luister na die Groot Onderwyser, asook verhaal 77 in My boek met Bybelverhale of die inligting op bladsye 12-16 van die Skool-brosjure. Of jong kinders wil dalk graag by die skool aan verjaarsdag- of feesdagpartytjies deelneem. Bespreek gerus hoofstuk 30 in die Groot Onderwyser-boek of bladsye 17-21 van die Skool-brosjure met hulle. Hierdie publikasies is veral nuttig om mee te onderrig en om ‘uit te skep’ wat in die hart van jongmense is.—Spr. 20:5; wAF82 15/1, ble. 13, 14 [w81 1/11, bl. 14]; gAF81 8/8 bl. 10 [g81 8/4 bl. 10].
4 Ouer kinders en tienderjariges vind dikwels skoolsport en ander buitemuurse bedrywighede baie aanloklik. As dit ’n probleem word, kan julle die uitstekende materiaal in hoofstuk 16 van die boek Jou jeug—Hoe om dit ten beste te benut gebruik. Daar is ook nuttige inligting op bladsye 22 en 23 van die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies. Die losbandige atmosfeer wat vandag heers, bring ook vir ons kinders toetse met betrekking tot sterk drank, dwelms en geslagsonsedelikheid. Het julle as ouers al die inisiatief geneem om hoofstukke 14, 15 en 18 in die Jeug-boek met julle kinders te bespreek? Hierdie onderwerpe word ook in die Skool-brosjure gedek.
5 Ons wil sekerlik almal hê dat ons kinders Jehovah moet dien. Hulle moet ’n verhouding met Jehovah opbou wat hulle deur hierdie swaar tye en tot in God se nuwe stelsel sal onderskraag. Jehovah se organisasie het liefdevol vir ons waardevolle hulpmiddele hiervoor verskaf. Maak ten volle gebruik van die Skool-brosjure, die Groot Onderwyser-, Bybelverhale- en Jeug-boek om jou kind die opleiding te gee wat hy of sy nodig het. Mag julle dan vind dat “hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie”.—Spr. 22:6.