Kan meer ’n Bybelstudie begin?
1 Hou jy tans ’n tuisbybelstudie? Indien nie, sal jy dit graag wil doen? Jesus het benadruk dat ons, behalwe om net een keer vir mense te getuig, belangstellendes moet help om geestelik te groei (Joh. 4:39-42). Velddiensrapporte toon egter dat baie verkondigers nog nooit die voorreg gehad het om ’n tuisbybelstudie te hou nie. Sommige wat dit voorheen gedoen het, hou nie nou ’n studie nie.
2 As ons vir ’n Bybelstudie voorberei en dit gereeld hou, sal Jehovah ons pogings seën. Vra diegene in die gemeente wat produktiewe Bybelstudies hou, en hulle sal jou gou vertel van die groot vreugde wat dit verskaf.
3 Die “Kyk”-brosjure wat ons by verlede jaar se streekbyeenkoms ontvang het, is ’n uitstekende hulpmiddel om Bybelstudies te begin. Hoewel die Paradys op aarde-boek ons vernaamste studiepublikasie is, kan ons eerstens ’n goeie grondslag lê deur ’n studie met behulp van hierdie brosjure te hou. Dan kan ons die huisbewoner se belangstelling wek vir ’n breedvoeriger studie in die boek.
HOE OM ’N BYBELSTUDIE TE BEGIN
4 As genoeg belangstelling getoon word, is dit nie nodig om net lektuur te laat en dadelik te vertrek nie. ’n Bybelstudie kan onmiddellik begin word. Dit kan gedoen word deur gekose paragrawe saam te lees en sleuteltekste na te slaan en te bespreek.
5 In sommige gevalle toon die huisbewoner moontlik respek en waardering vir die Bybel hoewel hy nie die lektuuraanbod aanvaar nie. Waar sulke belangstelling bemerk word, kan dit gepas wees om die gesprek voort te sit. Reëlings kan miskien getref word om terug te gaan en die oorspronklike onderwerp verder te bespreek of ’n ander Bybelonderwerp te bespreek. Spesifieke hoofstukke van die Genootskap se publikasies, asook dele van die Redenering-boek, verskaf ’n skat van kennis vir sulke Bybelgesprekke. Later van tyd kan ons moontlik na ’n publikasie oorgaan en ’n formele studiereëling voorstel.
6 Het ons daarna gestreef om, benewens die geleenthede in die veldbediening, Bybelstudies met bure, medewerkers of familielede te begin? Ons het dit moontlik voorheen gedoen, maar het ons dit onlangs probeer? Vrae en bekommernisse van werkmaats, skoolmaats en onderwysers kan geleidelik tot Bybelbesprekings en -studies ontwikkel word, ’n Duidelike, bondige en bemoedigende Skriftuurlike antwoord kan die waarde van die Bybel toelig. Die studie kan tydens etenstyd, na werk, na skool of wanneer dit ook al gerieflik is, gehou word om die individu te help om geestelik vooruitgang te maak.
7 Voorbereiding is noodsaaklik. Maak seker dat jy die materiaal wat jy gaan bespreek duidelik in gedagte het wanneer jy ’n herbesoek doen. Wanneer jy vir die besoek voorberei, sal dit goed wees om te dink hoe elke bespreking kan bydra tot jou doelwit om ’n tuisbybelstudie te begin.
8 Handelinge 20:35 help ons om te besef dat dit groot vreugde en geluk verskaf om wat ons het met ander te deel. ’n Tuisbybelstudie bied ’n uitstekende geleentheid om daardie vreugde te smaak. Laat ons ons dit ten doel stel om aan hierdie diens deel te neem.