Gebruik spesiale artikels op doeltreffend wyse
1 Tydskrifverspreiding neem voortdurend toe. Die produksiesyfer van 394 899 446 tydskrifte in 1979 het in 1987 tot 585 369 060 gespring, ’n vermeerdering van byna 50 persent, of 190 469 614 meer tydskrifte in 1987 as in 1979! En meer as 1 135 585 000 eksemplare van Die Wagtoring en Ontwaak! is in die afgelope twee jaar gedruk.
2 Met die gebruik van volle kleur sedert April 1987 het die voorkoms van Die Wagtoring en Ontwaak! treffend verbeter. Het jy dit waardeer? Talle het en hulle het dit vir ons gesê. Die vraag is: Kan ons ons tydskrifte selfs op doeltreffender wyse gebruik?
3 Ten einde jou te help om dit te doen, gaan Ons Koninkryksbediening vooruit spesiale artikels of artikels wat dalk van spesiale belang vir spesifieke mense in julle gebied sal wees, aankondig. Wenke oor wie hierdie artikels interessant sal vind, sal gegee word. As verkondigers ekstra eksemplare verlang, moet dit onmiddellik bestel word.
4 Die Ontwaak! van 8 September bespreek byvoorbeeld die onderwerp ‘Ouers—Julle het ook huiswerk!’ Die artikels behoort by alle onderwysers en lede van skoolrade byval te vind, omdat die artikels klem lê op die verantwoordelikhede van ouers om die skoolstelsel hulle samewerking te gee in die opvoeding van hulle kinders. Elke ouer kan ook by die inligting baat vind. Gevolglik wil julle gemeente dalk ekstra eksemplare bestel.
5 Die Ontwaak! van 8 Oktober sal ’n breedvoerige bespreking oor die siekte Vigs bevat, wat vir talle mense, waaronder diegene in die mediese veld, van groot belang sal wees. En die Ontwaak! van 22 Oktober bespreek die kwessie van egskeiding en kindervoogdyskap. Jy kan dalk ’n eksemplaar by elke prokureur en gesinsraadgewer in julle gebied laat.
6 Ekstra tydskrifte moenie ter elfder ure bestel word nie. Die diensopsiener kan help om dit te voorkom deur die gemeente se behoeftes vooraf te bepaal en bestellings sonder versuim in te stuur.