Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 6/91 bl. 3-4
  • Begin studies in Die mensdom se soeke na God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Begin studies in Die mensdom se soeke na God
  • Ons Koninkryksbediening—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HOE OM ’N STUDIE TE BEGIN
  • BEPAAL INDIVIDUELE BEHOEFTES
  • BEREIK MENSE VAN NIE-CHRISTELIKE GODSDIENSTE
  • Gaan terug met die doel om ’n Bybelstudie te begin
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Die mensdom se soeke na God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Die mensdom moet nou na God soek
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Getuig vir “alle soorte mense”
    Ons Koninkryksbediening—1998
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1991
km 6/91 bl. 3-4

Begin studies in Die mensdom se soeke na God

1 Jesus het gesê: “Die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” (Mark. 13:10). Dit het beteken dat sy dissipels met mense van baie verskillende tale, kulture en godsdiensagtergronde in aanraking sou kom. Dit het ook beteken dat sy hedendaagse dissipels, Jehovah se Getuies, die taak sou hê om alle soorte mense te onderrig.

2 Ons nuwe boek Die mensdom se soeke na God sal ongetwyfeld nog talle opregtes van hart help om die ware God, Jehovah, te vind en sy weg van waarheid aan te neem (Joh. 4:21-24). Hoe kan ons Bybelstudies in hierdie boek begin?

HOE OM ’N STUDIE TE BEGIN

3 Jy het moontlik gedurende die eerste besoek die grondslag vir ’n Bybelstudie gelê toe jy uitgevind het wat die persoon se kerkverband is. Tydens daardie eerste besoek het jy waarskynlik die huisbewoner se aandag op ’n sekere hoofstuk of paragraaf gevestig. Daardie selfde gedagte kan dan, of tydens ’n latere besoek, as ’n afspringplek gebruik word vir ’n gesprek wat tot ’n studie kan lei. As jy die vrae onderaan die bladsy gebruik, het jy ’n grondslag waarop jy iemand se gedagtes kan prikkel en ’n gesprek kan begin. Ons stel natuurlik nie daarin belang om ’n geskil uit te lok nie, maar eerder in ’n beredeneerde bespreking van die materiaal. Of ons nou voor in die boek of in enige ander hoofstuk begin, dit moet ons oogmerk wees om die persoon se aandag eindelik op hoofstukke 10, 15 en 16 te vestig. Waarom?

4 Die soeke na die ware God moet onvermydelik deur Christus gedoen word. Jesus het gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). Hoofstuk 10 gee ’n duidelike antwoord op die vraag: “Was Jesus die weg na God?” Dit verskaf bewyse dat Jesus die Seun van God is en dit verduidelik hoe ons weet dat hy nie ’n mitologiese karakter is nie, hoe profesieë voorspel het dat hy sou kom, waarom sy vroeë dissipels in hom geglo het as die weg na God en hoe ons weet dat hy God se goedkeuring weggedra het (Joh. 6:44, 65). Hoofstukke 15 en 16 handel oor “’n Terugkeer tot die ware God” en “Die ware God en jou toekoms”.

BEPAAL INDIVIDUELE BEHOEFTES

5 Ná etlike studies sal ons moontlik ’n meer basiese Bybelpublikasie wil gebruik, soos die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Aangesien die vernaamste oogmerk van die boek Die mensdom se soeke na God is om mense van baie verskillende agtergronde na die ware God te trek, sal nie elke hoofstuk by alle mense byval vind nie. Ons moet weet hoe om ons aanbod en studiereëling by elkeen se individuele behoeftes aan te pas.—1 Kor. 9:19-22.

6 Byvoorbeeld, ons het moontlik die boek by iemand gelaat wat sê dat hy ’n Christen is. Nou kan die vraag vir die herbesoek wees: “Waarom is daar so baie godsdienste wat beweer dat hulle Christelik is?” Hoofstuk 11 oor afvalligheid en hoofstuk 13 oor die Hervorming kan dus die grondslag lê om ’n studie te begin. Wanneer die persoon leer hoe die Christendom ontstaan het, sal ons hom help om oor die Bybel se leerstellings te redeneer in teenstelling met die Christendom se afvallige leerstellings. Ons hoop die waarheid sal daardie persoon se verstand vrymaak sodat hy of sy ’n verhouding met Jehovah God kan opbou (Joh. 8:31, 32). Dan kan die studie in hoofstukke 15 en 16 of in die Paradys op aarde-boek voortgesit word.

BEREIK MENSE VAN NIE-CHRISTELIKE GODSDIENSTE

7 Wanneer ons met mense van ander gelowe studeer, moet ons altyd Christelike liefde en takt aan die dag lê. Paulus het dit beklemtoon toe hy geskryf het: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kol. 4:6). Vir Hindoes kan ons probeer om die studie op bladsy 372 onder die onderhofie “’n Beloofde nuwe wêreld” te begin. Sit die studie dan voort in hoofstuk 5 oor Hindoeïsme. Die sleutel tot sukses is om die individu se behoeftes te ken.—Vergelyk Handelinge 17:22, 23.

8 Takt is veral nodig wanneer ’n mens met Moslems praat. Hulle sal ongetwyfeld belangstel in hoofstuk 12 oor die Islām. Waar daardie onderwerp bespreek word, is daar Bybeltekste ter vergelyking in die vrae, hoofsaaklik van paragraaf 23 af. Ons spreek tot die rede in ooreenstemming met die Bybel se uitnodiging: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE.”—Jes. 1:18; 1 Pet. 3:15.

9 Probeer mense van verskillende godsdienste help om die ware God te soek. Onthou, hoewel ons plant en natmaak, dit is per slot van rekening God wat ‘die saad van die waarheid laat groei’ as die grond reg is.—1 Kor. 3:6, 7; Matt. 13:18-23.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel