Bied die goeie nuus aan—Deur publikasies verstandig te gebruik
1 Die spesiale byeenkomsdagprogram vir die 1991-diensjaar het ’n bespreking bevat oor “Ons bediening—nie alledaags nie, maar heilig”. Dit het beklemtoon dat ons werk heilig is en nie as vanselfsprekend aanvaar moet word nie. Aangesien die gebruik van gedrukte lektuur ’n integrerende deel van ons bediening uitmaak, moet dit ook met respek behandel word. Elkeen van ons kan die diep eerbied wat ons voel, demonstreer deur ons publikasies verstandig te gebruik.
2 Die Genootskap het gedurende die 1990-diensjaar 678 miljoen tydskrifte en meer as 51 miljoen Bybels en boeke gedruk om in die wêreldwye veld te gebruik. Dit verteenwoordig ’n ontsaglike uitgawe aan toegewyde middele, onder andere tyd, energie en geld. Die verenigde pogings van baie vrywilligerwerkers het tot gevolg dat lektuur van goeie gehalte vir persoonlike gebruik sowel as vir verspreiding in die velddiens gedruk word. Op watter maniere kan ons ons hartgrondige waardering vir ons lektuur toon terwyl ons die Koninkryksboodskap aan opregtes van hart verkondig?
3 Persoonlike en gesinstudie: Die apostel Paulus sê in Romeine 2:21: “Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself nie?” As ons die tyd afstaan om ons Bybelse lektuur te lees, te bestudeer en dit biddend te bepeins, toon ons persoonlik hoe hoog ons Jehovah se tydige voorsienings van geestelike voedsel deur sy diensknegklas op prys stel (Luk. 12:42). As ons op hoogte van geopenbaarde waarhede bly, of dit nou deur persoonlike of deur gesinstudie is, stel dit ons in staat om groot eerbied aan te kweek vir alles wat Jehovah aan ons sorg toevertrou het. Kinders moet ook behoorlik opgelei word om hulle lektuur te waardeer en dit op te pas en nie daarin te krap of dit te ontsier nie. Daarbenewens moet ons lektuur só bêre dat dit skoon en netjies bly vir wanneer ons dit in die velddiens gaan gebruik.
4 Vermy vermorsing: As ons wil hê dat ons lektuur werklik nuttig moet wees, moet ons dit in die hande van waarheidsoekers kry, dit wil sê, diegene wat werklik in ons boodskap en werk belangstel (Matt. 10:11). Ons moet dus nie lektuur voor die voet weggee aan diegene wat nie werklik waardering vir die Bybel se boodskap toon nie. Dit is ook vermorsing as ons toelaat dat tydskrifte, boeke of ander lektuur tuis ophoop.
5 Aangesien die tydskrifte datums op het, het ons ’n beperkte tyd om dit as nuwe nommers aan te bied. Ons moet dus ’n doelbewuste poging aanwend om aan die bediening deel te neem en hierdie tydskrifte aan belangstellendes beskikbaar te stel. As ons vind dat ons tydskrifte steeds ophoop, sal dit miskien goed wees om ons rooster te verander sodat ons meer tyd aan tydskrifwerk bestee. Of as dit nie redelikerwys gedoen kan word nie, moet ons ons bestelling verander. As ons hierdie wenke volg, toon ons dat ons getroue bedienaars van God se veelvuldige genade is.—1 Kor. 4:2; 1 Pet. 4:10, 11; vergelyk Lukas 16:1, 10.
6 Jehovah het ’n baie groot verantwoordelikheid en werk aan sy toegewyde volk “toevertrou”, onder andere “besittings” waaroor sy getroue “dienskneg” toesig het (2 Tim. 1:12; Luk. 12:42-44, 48b; 1 Tim. 6:20). Laat ons, met groot waardering vir ons voorregte in God se diens, aanhou om ons publikasies verstandig te gebruik om die goeie nuus vir ander aan te bied.