Bevorder groei deur betekenisvolle herbesoeke
1 Om diegene te help wat belangstelling getoon het, is dit noodsaaklik dat ons hulle van geestelike voedsel bly voorsien deur gereeld na hulle toe terug te gaan. Ons besoeke sal hulle progressief help om geestelik te groei (1 Kor. 3:6-9). Maar as ons wil hê dat ons besoeke betekenisvol moet wees, moet ons voorberei met daardie persoon in gedagte.
2 Herbesoeke waar ons ’n traktaat gelaat het: Ons het moontlik tydens ons eerste besoek die Vreedsame nuwe wêreld-traktaat by die huisbewoner gelaat.
Nadat ons kortliks hersien het wat ons bespreek het, kan ons iets vra soos:
◼ “Watter regering kan hierdie veranderinge teweegbring? [Laat die huisbewoner antwoord.] Jy sal ongetwyfeld ook onder sulke toestande wil lewe. Hoe kan ons persoonlik sulke toestande geniet?” Dan kan jy die materiaal onder die tussenhofie “Hoe dit vir jou moontlik is” bespreek. Vestig die aandag op hoofstuk 15 van die Paradys op aarde-boek met die opskrif “Hoe om ’n onderdaan van God se regering te word”. Ons kan die eerste twee paragrawe bespreek en dan vra: “Watter uitwerking behoort dit op ons te hê wanneer ons van God leer?” Reëlings kan getref word om die vraag tydens die volgende besoek te beantwoord en die hoofstuk verder te bespreek.
3 Wanneer ons teruggaan na diegene by wie ons die boek “Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe” gelaat het, kan ons sê:
◼ “Toe ek laas hier was, het ons die talle probleme bespreek wat die mensdom in die gesig staar en ook wat God belowe om daaromtrent te doen. Maar waarom het God lyding so lank toegelaat? Die interessante antwoord kan gevind word in hoofstuk 11 van die boek wat ek by jou gelaat het.” Vra die huisbewoner om sy boek te kry as dit byderhand is. Nadat ons ’n paar paragrawe bespreek het, kan ons vra: “Dink jy dit sal ooit moontlik wees om op ’n aarde te woon sonder enige goddeloosheid en waar mense ewige lewe onder ’n regverdige regering kan geniet?” Sê vir die huisbewoner dat jy graag die volgende week sal wil terugkom en die antwoorde op hierdie vrae in hoofstuk 1, “Ewige lewe is nie net ’n droom nie”, wil bespreek.
4 Herbesoeke waar ons tydskrifte gelaat het: As jy ’n spesifieke artikel gekies het waarin die huisbewoner belanggestel het, kan jy, wanneer jy teruggaan, verdere punte uit die artikel bespreek deur jou kommentare te beperk tot een sleutelteks en die materiaal waarin dit bespreek word. As daar verdere belangstelling is, kan die nut van die tydskriftebespreek word. Ons kan ook die huisbewoner se aandag op die volgende nommer van die tydskrif vestig as dit ’n artikel bevat wat dieselfde onderwerp bespreek. Andersins kan ons die aandag vestig op materiaal in die Paradys op aarde-boek wat oor daardie onderwerp handel en reëlings tref om dit tydens ons volgende besoek te bespreek.
5 As ons persoonlike belangstelling toon deur betekenisvolle herbesoeke te doen, sal dit ons liefde vir mense en vir Jehovah openbaar (Joh. 13:34, 35). Laat ons voortgaan om die geestelike groei van die mense in ons gebied te bevorder deur gereeld betekenisvolle herbesoeke te doen.