Help ander om op die Koninkryksboodskap ag te slaan
1 Ons predikingswerk bied mense die geleentheid om die ‘evangelie van God se Koninkryk’ te hoor (Matt. 24:14). Maar om “die groot verdrukking” te oorleef, moet hulle ook daarop ag slaan en dissipels van Jesus Christus word (Openb. 7:14; Matt. 28:19). Lewens is op die spel! Maak dus seker dat jy teruggaan na diegene wat aanvanklik belangstelling getoon het in een van die aanbiedings wat jy hierdie maand gebruik het.
2 As jy die “Jongmense vra”-boek by die huisbewoner gelaat het, kan jy sê:
◼ “Ek is bly om jou weer te sien. Die vorige keer toe ons gesels het, het ons gepraat oor die probleme wat jongmense ondervind. Ek het ’n publikasie by jou gelaat wat antwoorde voorsien op baie van die vrae wat jongmense het. As jy al tyd gehad het om hierdie puik publikasie te lees, het jy heel waarskynlik gesien hoe prakties en tydig die raad daarin is. Ek wil graag ’n paar minute gebruik om jou te wys watter wonderlike toekoms God belowe het.” Blaai dan na bladsye 306 en 307 en beklemtoon na gelang van die tyd gepaste gedagtes en tekste. Tref reëlings om terug te gaan om die gesprek voort te sit.
3 As jy die traktaat “Sal hierdie wêreld bly voortbestaan?” tydens die eerste besoek by die huisbewoner gelaat het, kan jy iets sê soos:
◼ “Ek is bly om jou vandag tuis te vind. Toe ek jou onlangs besoek het, het ons gepraat oor gebeure wat saam ’n teken uitmaak wat net voor die einde van die wêreld sal plaasvind. [Hersien gepaste aspekte van die teken in Mattheüs 24:3-14.] Is daar enige gebeurtenis wat onlangs in die wêreld of in ons gemeenskap plaasgevind het wat jy dink ’n vervulling van ’n deel van daardie teken kan wees?” Vestig die aandag op ’n artikel in een van die jongste tydskrifte wat die vervulling van party van hierdie Bybelprofesieë uitlig. Bied die twee tydskrifte aan teen ’n bydrae van R1,60. Meld aan die einde van die besoek die titel van die openbare toespraak vir die week, en nooi die huisbewoner uit om dit saam met jou by die Koninkryksaal by te woon.
4 As jy die huisbewoner na die Gedenkmaal genooi het, kan jy sê:
◼ “Toe ek jou die vorige keer besoek het, het ons gepraat oor hoe belangrik Jesus se dood vir die mensdom is. Ek het jou ook genooi om die herdenking van sy dood by te woon, wat op 26 Maart deur Christene wêreldwyd gevier sal word. Ek het vandag gekom om jou daaraan te herinner dat jy na daardie belangrike geleentheid genooi is. [Meld die tyd en plek van die viering.] Dit sal jou dalk help om te besef hoe belangrik die geleentheid is as ons van die seëninge hersien wat spruit uit dít wat Jesus vir die mensdom gedoen het, sowel as die seëninge wat nog moet kom.” Tref, indien moontlik, reëlings om die belangstellende te help om die Gedenkmaal by te woon.
5 As die persoon bloot goedgesind geluister het, kan die volgende doeltreffend wees:
◼ “Ek het ons onlangse gesprek oor die Bybel baie geniet. Ek het teruggekom omdat ek wil hê dat jy die dinge moet geniet wat God aan diegene belowe het wat meer oor hom wil leer.” Lees Johannes 17:3 en verwys dan na die traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld.
6 Mag jou liefde vir die lewe en jou waardering vir die losprys jou beweeg om herbesoeke by belangstellendes te doen. Help hulle om op die opwindende Koninkryksboodskap ag te slaan. Onthou, “die tyd is naby”!—Openb. 1:3.