Terug skool toe
1 In Januarie gaan ons jongmense terug skool toe vir ’n nuwe skooljaar. Daar is aangename dinge om na uit te sien, maar daar is ook ’n paar sake wat kommer kan wek. Baie jongmense sal ander onderwysers kry, nuwe vakke kies en in noue kontak kom met leerlinge wat hulle nie ken nie. Ons jongmense wil skoolowerhede hulle samewerking gee en vriendelik wees teenoor die ander leerlinge, maar hulle moet onthou om op hulle hoede te wees vir enigiets wat hulle geestelik skade kan berokken.—1 Kor. 15:33.
2 Dit is van groot belang vir Getuiekinders en -jongmense om die verderflike invloed van die wêreld te vermy, waarvan die onderwysstelsels vandag in baie lande deurtrek is. Christene, jonk en oud, moet moedig die wêreldse standaarde en denke verwerp wat nou in verband met sedelike kwessies bevorder word, en hulle moet ‘op hulle hoede bly’ deur Jehovah se Woord te raadpleeg en daardeur gerig te word (Ps. 119:9, NW). Besorgde ouers moet weet wat die skool se leerplan insluit sodat hulle hulle kinders gepaste leiding kan gee. As die onderrigting op skool of elders in stryd is met die heiligheid en reinheid wat van Jehovah se knegte vereis word, moet dit vermy word.—1 Pet. 1:15, 16.
3 Kwessies ontstaan ook dikwels oor nasionalistiese seremonies, godsdienstige vakansiedae, sportbedrywighede, godsdiensonderrig of sosiale geleenthede. Die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies help jong Christene om hierdie probleme die hoof te bied. As jy nie ’n persoonlike eksemplaar het nie, kan jy dit in die Watchtower Library op CD-ROM kry. Daarbenewens kan jy die Opvoeding-brosjure en die Jongmense vra- en Redenering-boeke gebruik. Potensiële probleme kan oorkom word of tot ’n minimum beperk word wanneer die ouers van jong kinders die inisiatief neem om vir onderwysers ’n eksemplaar van die Opvoeding-brosjure te gee. Hulle kan verduidelik dat dit die onderwyser sal help om ons oortuigings en beginsels beter te verstaan. As hierdie inligting aan die onderwyser beskikbaar gestel word, kan dit baie help om ’n gees van samewerking te skep.
4 Daarbenewens sal dit goed wees as Christenleerlinge ’n persoonlike eksemplaar van die Skool-brosjure, die Jongmense vra-boek en die Opvoeding-brosjure by hulle skoolboeke hou. Daar is dikwels geleenthede om te getuig vir ander leerlinge wat vrae vra wanneer ons oortuigings ter sprake kom. Getuiekinders moet ook te alle tye hulle “Advance Medical Directive/Release”-kaart of “Identity Card” by hulle hê, wat op datum moet wees en behoorlik onderteken is. Diegene wat hierdie raad toepas, sal beslis wees soos die ‘skrander mens wat die onheil sien en hom verberg’.—Spr. 22:3.