Ouers wat hulle verbly!
1 As jy ’n jongmens is wat in ’n Christenhuis woon, is daar ’n spesiale manier waarop jy jou ouers gelukkig kan maak. As jy ’n regverdige weg nastreef, sal “jou vader en jou moeder bly wees” (Spr. 23:22-25). Jou ouers wil uiteraard die beste vir jou hê. Niks kan hulle groter vreugde verskaf as om te sien dat jy die waarheid jou eie maak en jou lewe aan Jehovah toewy nie.
2 Jy kan dankbaar wees dat jy ouers het wat in die waarheid is. Hulle het jou van geboorte af gevoed, geklee en ’n tuiste gegee sowel as jou versorg wanneer jy siek was. Wat selfs belangriker is, is dat hulle jou van Jehovah en sy regverdige weë probeer leer het; dit is opleiding wat jou ewige lewe kan verseker (Ef. 6:1-4). Hoe kan jy jou waardering toon?
3 Maak die waarheid jou eie: Jou ouers het jou probeer leer om die waarheid ernstig op te neem, geestelik vordering te maak en na aan Jehovah se organisasie te bly. Jy kan jou waardering hiervoor toon deur belangstelling in die gesinstudie te toon sonder dat jy gedwing moet word. Toon ’n begeerte om vergaderinge by te woon deur self die inisiatief te neem om gereed te maak sodat die gesin betyds kan wees. Sit by jou ouers tydens die vergaderinge en skenk noukeurig aandag deur saam te volg in die publikasies wat bestudeer word. Streef daarna om ’n aandeel aan die vergaderinge te hê deur kommentaar te lewer. Toon dat jy ’n gewillige student op die Teokratiese Bedieningskool is deur toewysings te aanvaar en jou bes te doen om dit uit te voer. Stel jou beskikbaar om met takies by die Koninkryksaal te help, waar jou hulp van nut sal wees. As jy by sulke aktiwiteite betrokke is, kan jy jou hart gerig hou op wat tot jou geestelike welsyn strek.
4 Stel progressiewe doelwitte: Streef daarna om ’n betekenisvolle aandeel aan die velddiens te hê, en toon ’n begeerte om as ’n verkondiger te kwalifiseer. Hou by die weeklikse Bybellees by of, selfs nog beter, lees self die hele Bybel. Neem jou voor dat jy aan die vereistes vir toewyding en doop gaan voldoen. Jou ouers kan jou help om jou leerplan op skool sorgvuldig te beplan, sodat jy opleiding kan ontvang wat jou sal toerus om ’n volle aandeel aan Jehovah se diens te hê. Lê jou daarop toe om die soort reputasie op te bou wat ander sal beweeg om jou vir spesiale voorregte soos die pionierdiens of Betheldiens aan te beveel (Hand. 16:1,2). As jy jou doelwitte bereik, kan dit jou help om ‘seker te maak van wat die belangriker dinge is, sodat jy vervul kan word met regverdige vrugte’.—Fil. 1:10,11.
5 Die jeug is ’n tyd om te leer, om ondervinding op te doen en om die vermoë te ontwikkel om met ander oor die weg te kom. Dit is ’n tyd wanneer jy die lewe kan geniet sonder al die druk en verantwoordelikhede wat met volwassenheid gepaardgaan. Salomo het gesê: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid” (Pred. 11:9). As jy jou dit ten doel stel om Jehovah in jou jeug te dien, sal jy ewige seëninge maai.—1 Kron. 28:9.
6 As jy liewer ‘na regverdigheid streef’ as na “die begeertes wat eie is aan die jeug” sal jy jou ouers van ’n swaar las van kommer en hartseer bevry (2 Tim. 2:22). Jy sal jou eie hart rede tot blydskap gee (Spr. 12:25). Nog belangriker, jy sal jou Skepper, Jehovah God, verbly.—Spr. 27:11.