Hoe kan ek ’n horende oor vind?
1 In die stad Filippi het “’n sekere vrou met die naam Lidia, ’n purperverkoopster, . . . geluister, en Jehovah het haar hart wyd oopgemaak om aandag te skenk aan die dinge wat deur Paulus gespreek is” (Hand. 16:14). Wat leer ons uit hierdie verslag? Dat wanneer iemand luister dit die weg vir hom baan om die waarheid te leer. Ons sukses met die verkondiging van die Koninkryksboodskap hang hoofsaaklik af van die huisbewoner se gewilligheid om te luister. As ons eers ’n horende oor gevind het, is dit relatief maklik om ons boodskap oor te dra. Maar dit kan ’n uitdaging wees om iemand sover te kry om te luister. Wat kan ons doen?
2 Voordat ons in die veld uitgaan, moet ons aandag skenk aan ons voorkoms en die toerusting wat ons gaan gebruik. Waarom? Mense is meer geneig om na iemand te luister wat ’n waardige voorkoms het. Is ons smaakvol dog beskeie geklee? Hoewel slordigheid dalk in die wêreld gewild is, vermy ons sulke traak-my-nieagtigheid omdat ons bedienaars is wat God se Koninkryk verteenwoordig. Ons skoon en netjiese voorkoms is ’n verdere gunstige getuienis vir die Koninkryksboodskap wat ons verkondig.
3 Wees vriendelik en eerbiedig: Ten spyte van vandag se veranderende gesindhede het baie mense steeds respek vir die Bybel, en hulle sal gunstig reageer op ’n eerbiedige en vriendelike gesprek oor dit wat die Bybel leer. ’n Hartlike, vriendelike glimlag kan die huisbewoner gerusstel en die weg baan tot ’n aangename bespreking. Ons opregtheid en goeie maniere moet ook in ons spraak en gedrag weerspieël word, wat insluit dat ons eerbiedig luister na die opmerkings van die huisbewoner.
4 Ons doel is om die Bybel se hoop aan ander te verkondig. Met dit in gedagte moet ons sorg dat ons gesprekke aangenaam is, en nie vyandig of uitdagend nie. Dit is glad nie nodig om tyd te mors met ’n persoon wat duidelik teen ons werk gekant is nie (2 Tim. 2:23-25). Ons het ’n groot verskeidenheid aanmoedigende en tydige aanbiedings in Ons Koninkryksbediening en die Redenering-boek waaruit ons kan kies. Ons moet hierdie aanbiedings natuurlik goed voorberei sodat ons op ’n hartlike en oortuigende manier kan praat.—1 Pet. 3:15.
5 Min huisbewoners kan ná ons besoek presies onthou wat ons gesê het. Maar hulle kan feitlik almal die manier onthou waarop dit gesê is. Ons moet nooit die krag van goedheid en vriendelikheid onderskat nie. Daar is ongetwyfeld talle skaapgeaarde mense in ons gebied wat, net soos Lidia in die eerste eeu, graag na die waarheid sal luister. As ons noukeurig aandag skenk aan ons voorkoms en spraak, kan dit opregte mense aanspoor om na God se Woord te luister en dit gunstig te ontvang.—Mark. 4:20.