Vraebus
◼ Waarom moet ons ons velddiensbedrywighede elke maand stiptelik rapporteer?
Ons almal voel bly wanneer ons hoor van goeie dinge wat bereik word met die verkondiging van die Koninkryksboodskap. (Sien Spreuke 25:25.) Handelinge 2:41 sê dat daar op Pinksterdag, ná Petrus se besielende toespraak, ‘omtrent drieduisend siele bygevoeg is’. ’n Rukkie later het daardie getal tot “omtrent vyfduisend” gegroei (Hand. 4:4). Hoe verkwikkend moes daardie verslae tog nie vir die eerste-eeuse Christene gewees het nie! Ons reageer vandag op dieselfde manier wanneer ons bemoedigende verslae ontvang. Ons is verheug wanneer ons hoor van die sukses wat ons broers geniet in die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus.
Aangesien dit baie tyd en inspanning verg om sulke verslae saam te stel, is die samewerking van elke Koninkryksverkondiger noodsaaklik. Gee jy pligsgetrou elke maand jou rapport stiptelik in?
Verslae oor vermeerderings bring ons baie vreugde mee. Daarbenewens help verslae die Genootskap om die vooruitgang van die wêreldwye werk te monitor. Besluite moet geneem word oor waar daar moontlik nog hulp nodig is of oor die soort en hoeveelheid lektuur wat gedruk moet word. Ouer manne in elke gemeente gebruik velddiensrapporte om vas te stel waar daar verbeter kan word. Goeie rapporte is opbouend en motiveer ons almal om ons eie bediening te ondersoek vir moontlike verbeterings.
Alle verkondigers moet besef dat hulle individueel daarvoor verantwoordelik is om stiptelik elke maand ’n velddiensrapport in te gee. Gemeentelike Boekstudiehouers is in ’n goeie posisie om die verkondigers aan hierdie verantwoordelikheid te herinner, aangesien hulle ook daarop let om diegene persoonlik te help wat dit dalk moeilik vind om gereeld elke maand aan die velddiens deel te neem. Hierdie herinnering kan elke maand by die laaste boekstudie of op ’n ander gepaste tyd gegee word. As daar nie ’n geleentheid is om velddiensrapporte by die Koninkryksaal in te gee nie, kan die Gemeentelike Boekstudiehouer dit bymekaarmaak en seker maak dat dit betyds vir die sekretaris gegee word sodat dit by die gemeente se gereelde maandelikse rapport aan die Genootskap ingesluit kan word.
Ons ywer om getrou ons velddiensbedrywighede stiptelik te rapporteer, maak die las ligter vir diegene wat vir ons geestelike welsyn verantwoordelik is.