Werk jy met ’n doel?
1 Jehovah is ’n doelgerigte God (Jes. 55:10, 11). Ons word aangespoor om hom na te volg (Ef. 5:1). Dit behoort veral te geld vir die manier waarop ons ons bediening uitvoer. Daarom is dit gepas om te vra: “Werk jy met ’n doel?”
2 Jou predikingswerk van deur tot deur, informele getuieniswerk en die verspreiding van lektuur is alles deel van ’n doelgerigte bediening. Maar onthou dat ons opdrag nie net die predikingswerk behels nie, maar ook dissipelmaakwerk (Matt. 28:19, 20). Nadat ons saadjies van Koninkrykswaarheid gesaai het, moet ons teruggaan om hulle nat te gooi en gereeld te versorg, terwyl ons op Jehovah vertrou om die vermeerdering te bring (1 Kor. 3:6). Ons moet pligsgetrou herbesoeke doen en Bybelstudies begin.
3 Brei jou bediening uit: Dit is altyd ’n lekker gevoel as jy kan terugkyk op wat jy in die velddiens verrig het en vir jouself kan sê: “Ek het my doel bereik.” Paulus het ons in 2 Timoteus 4:5 aangespoor: “Voer jou bediening ten volle uit.” Dit sluit in dat jy groter pogings aanwend om terug te gaan na al die belangstellendes wat jy vind. Sit ’n spesifieke tyd opsy in jou weeklikse diensrooster om herbesoeke te doen. Werk met die doel om Bybelstudies te begin met mense wat regverdiggesind is. Wanneer jy aan die bediening deelneem, moet dít jou doel wees.
4 Vra verkondigers hoe hulle gevoel het toe hulle sien hoe hulle Bybelstudente by ’n byeenkoms gedoop word. Hulle was verheug, moontlik net soveel soos diegene wat gedoop is. Hulle het ’n groot doel bereik! Een dissipelmaker het haar soos volg uitgedruk: “Om dissipels te maak, beteken om meer lowers van Jehovah te maak. Dit beteken lewe vir diegene wat die waarheid aanneem. Ek geniet dit vreeslik om die waarheid aan ander te leer—dit is so wonderlik! . . . Baie van diegene wat Jehovah leer liefkry het, het dierbare vriende van my geword.”
5 Stel jou voor dat jy iemand help om ’n toegewyde kneg van Jehovah te word! Wat ’n vreugde tog! Wanneer ons in die bediening met ’n doel werk, bring dit hierdie vrugte voort.—Kol. 4:17.