Stel ’n voorbeeld in goeie werke
1. Waarom moet ons veral op ons gedrag let terwyl ons die streekbyeenkoms bywoon?
1 Wanneer ons in groot getalle by internasionale of streekbyeenkomste bymekaarkom, sien omstanders veral hoe ons optree en ander behandel. Elkeen van ons moet derhalwe spesiale aandag skenk aan die Bybel se vermaning: “[Wees] gesond van verstand . . . , terwyl jy in alles ’n voorbeeld van goeie werke stel” (Tit. 2:6, 7). Dit sal moontlik ekstra inspanning verg om ‘uit persoonlike belangstelling nie ’n oog op net ons eie sake te hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander’ (Fil. 2:4). Kom ons bespreek ’n paar gebiede waarop ons hierdie raad kan toepas by ons komende “Gee God heerlikheid”-streekbyeenkoms.
2. Wat moet ons in gedagte hou wat reëlings vir huisvesting betref?
2 Huisvesting: Die Huisvestingsafdeling het baie maande daaraan bestee om voldoende verblyfplek te kry. Ons het ’n uitstekende geleentheid om goeie werke te openbaar wanneer ons reëlings vir huisvesting tref. Moet asseblief nie meer huisvesting bespreek as wat jy nodig sal hê nie, hetsy jy in ’n hotel, gastehuis, karavaanpark of privaat woning tuisgaan. Indien dit vereis word, moet die verlangde deposito vooruitbetaal word. Dit word veral hoog op prys gestel as ons gedurende besige aankoms- en vertrektye die vrugte van God se gees openbaar.—Gal. 5:22, 23.
3. Hoe kan ons by ons verblyfplek ‘goed doen aan almal’?
3 Ons persoonlike belangstelling in ander moet gesien word in die manier waarop ons van enige komplimentêre ontbytreëlings gebruik maak. Dit is nie gepas om voedsel wat vir gaste voorsien word, na die byeenkomsterrein te neem nie. Wanneer ons pligsgetrou by die reëls bly en bedagsaamheid teenoor personeel toon deur die gebruiklike fooitjie te gee, word dit grootliks waardeer. Op hierdie maniere ‘doen ons goed aan almal’ en gee ons ’n goeie getuienis aan ander.—Gal. 6:10.
4, 5. Hoe kan kinders lof aan Jehovah bring, en watter verantwoordelikheid het ouers?
4 Ouers en kinders: In ’n wêreld waar soveel jongmense ongemanierd is, is ons kinders opvallend anders, en dit bring lof aan Jehovah en sy organisasie. Daar het egter al probleme ontstaan wanneer kinders nie behoorlike toesig gehad het nie (Spr. 29:15). Ouers moenie hulle kinders sonder toesig laat by hulle verblyfplek, onder meer by die swembad en ontspanningsgeriewe, of by die byeenkomsterrein nie.
5 Party ouers het dit nuttig gevind om voor die byeenkoms met hulle kinders te hersien watter soort gedrag van hulle verwag word (Ef. 6:4). Hulle help hulle kinders om te verstaan dat ware Christelike liefde ‘hom nie onwelvoeglik gedra nie’ en ook nie ‘sy eie belang soek nie’ (1 Kor. 13:5). Die byeenkoms is ’n tyd wat opsygesit is om deur Jehovah geleer te word, en kinders sowel as volwassenes kan respek vir hierdie reëling toon deur by die byeenkomsterrein en op ander plekke goeie gedrag te handhaaf.—Jes. 54:13.
6. Watter uitwerking kan ons goeie gedrag op ander hê?
6 Ons goeie gedrag kan ’n groot rol daarin speel om wanopvattings uit die weg te ruim en mense na ware aanbidding toe aan te trek (Matt. 5:16; 1 Pet. 2:12). Mag almal met wie ons by ons byeenkoms in aanraking kom, ’n gunstige getuienis ontvang deur die manier waarop ons optree en hulle behandel. Sodoende sal ons “’n voorbeeld van goeie werke stel” en Jehovah verheerlik.—Tit. 2:7.
[Venster op bladsy 4]
Wees bedagsaam teenoor ander
▪ Moenie meer huisvesting bespreek as wat jy nodig sal hê nie
▪ Wees geduldig tydens aankoms- en vertrektye
▪ Moenie ontbytreëlings misbruik nie
▪ Hou behoorlik toesig oor julle kinders
▪ Gee ’n gepaste fooitjie