Die predikingswerk in ’n wêreld wat voortdurend verander
1 Hoe gou verander dinge tog nie! ’n Natuurramp, ’n ekonomiese krisis, ’n politieke omwenteling of ’n opspraakwekkende tragedie kan oornag iets word wat mense se gesprekke oorheers. Maar mense se aandag kan net so gou weer deur iets anders in beslag geneem word (Hand. 17:21; 1 Kor. 7:31). Hoe kan ons, in hierdie wêreld wat voortdurend verander, mense se aandag boei sodat ons die Koninkryksboodskap aan hulle kan oordra?
2 Bepaal waaroor ander bekommerd is: Een manier waarop ons mense se aandag kan boei, is deur na aktuele gebeure te verwys. Toe Jesus sy toehoorders by een geleentheid aangespoor het om ernstig oor hulle verhouding met God te dink, het hy verwys na onlangse tragedies wat nog vars in hulle gedagtes was (Luk. 13:1-5). Ons kan eweneens ’n onlangse nuusberig of plaaslike kwessie wat die lewe van mense in ons gebied raak, by ons aanbieding van die goeie nuus insluit. Wanneer ons egter sulke sake bespreek, moet ons versigtig wees om nie kant te kies in politieke of maatskaplike kwessies nie.—Joh. 17:16.
3 Hoe kan ons bepaal waaroor mense op die huidige oomblik dink? Die beste manier is dalk om bloot ’n vraag te vra en dan te luister (Matt. 12:34). Belangstelling in mense sal ons beweeg om ander se beskouing in ag te neem en hulle taktvol verder uit te vra. ’n Terloopse opmerking deur ’n huisbewoner kan aandui waaroor baie mense in die gebied besorg is en kan die geleentheid skep om ’n getuienis te gee.
4 Hoe om ’n aanbieding voor te berei: In ons voorbereiding vir velddiens in ’n wêreld wat voortdurend verander, kan ons van die Redenering-boek gebruik maak. Nuttige wenke oor hoe om aktuele gebeure by ons aanbieding in te sluit, word op bladsye 9-10, onder “Aktuele sake”, en op bladsy 13, onder “Misdadigheid en veiligheid”, gegee. Soortgelyke inligting kan gevind word in Ons Koninkryksbediening vir September 2000, bladsy 3. Maak seker dat jy ’n gepaste teks insluit in die aanbieding wat jy voorberei.
5 Wanneer ons sien hoe die dinge waaroor mense in ons gebied besorg is, voortdurend verander, moet ons ons aanbieding van die goeie nuus daarvolgens aanpas. Sodoende sal ons met mense praat oor dinge wat hulle na aan die hart lê. Op dié manier help ons baie meer mense om die Een te leer ken wie se eienskappe en standaarde onveranderlik is.—Jak. 1:17.