Jongmense wat as ligte skyn
1. Hoe dui die Bybel aan dat Christene sou uitstaan, en hoe is daardie woorde vandag op jong Christene van toepassing?
1 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld” (Matt. 5:14, 16). Hulle sou uitstaan soos ’n stad op ’n heuwel wat in die sonlig glinster. Vandag is daar baie jong Christene wat deur hulle onberispelike gedrag en ywerige getuieniswerk “as ligte in die wêreld skyn”.—Fil. 2:15; Mal. 3:18.
2. Wat is van die maniere waarop jy vir onderwysers en klasmaats kan getuig?
2 By die skool: Hoe kan jy by die skool getuig? Party jongmense maak gebruik van die geleentheid om tydens klasbesprekings te getuig oor onderwerpe soos dwelms, evolusie en die Nazi-slagting—om net ’n paar te noem. Een suster moes ’n opstel oor terrorisme skryf, en sy het dit gebruik om ’n getuienis te gee oor God se Koninkryk as die ware hoop vir die mensdom. Die onderwyser was beïndruk deur die weldeurdagte verslag, en dit het die weg gebaan vir ’n verdere getuienis.
3. Hoe kan jy deur jou gedrag jou lig by die skool laat skyn?
3 ’n Ander manier om as ’n lig te skyn, is deur jou gedrag sowel as jou beskeie kleredrag en persoonsversorging (1 Kor. 4:9; 1 Tim. 2:9). Wanneer leerlinge en onderwysers sien dat jou gedrag anders is, sal van hulle dalk aangetrokke voel tot die waarheid en jou die geleentheid gee om hulle van Bybelwaarhede te vertel (1 Pet. 2:12; 3:1, 2). Dit is dalk nie maklik om godvrugtige gedrag te openbaar nie, maar Jehovah sal jou ryklik seën (1 Pet. 3:16, 17; 4:14). Jy kan belangstelling in die goeie nuus wek deur Bybellektuur gedurende pouses te lees of dit êrens neer te sit waar ander dit kan sien.
4. Wat is van die voordele om by die skool te getuig?
4 As jy jou lig by die skool laat skyn, versterk dit jou geloof en help dit jou om trots te wees op jou diens aan Jehovah (Jer. 9:24). Dit is ook ’n beskerming. Een suster het gesê: “Een voordeel wat dit inhou om oor my geloof te praat, is dat leerlinge nie druk op my probeer uitoefen om dinge te doen wat in stryd is met wat die Bybel sê nie.”
5. (a) Hoe brei party jongmense hulle bediening uit? (b) Wat is jou geestelike doelwitte?
5 Uitgebreide diens: Nog ’n manier waarop baie jongmense as ligte skyn, is deur hulle bediening uit te brei. Nadat een broer skool klaargemaak het, het hy verhuis na waar meer Koninkryksverkondigers nodig was. Hy was deel van ’n klein gemeente wat net een ouer man gehad het. “Ek geniet dit gate uit om hier te wees”, het hy aan ’n vriend geskryf. “Die bediening is so verkwikkend! Ons praat omtrent 20 minute by elke deur omdat mense alles wil hoor wat jy hulle kan vertel.” Hy het bygevoeg: “Ek wens net dat elke jongmens so iets kan doen en dieselfde gevoelens kan ervaar. Daar is niks beters as om Jehovah met alles wat ons het, te dien nie.”
6. Wat waardeer jy omtrent die jongmense in julle gemeente?
6 Hoe trots is ons tog op julle jongmense wat as ligte in die wêreld skyn! (1 Tess. 2:20). Terwyl jy Jehovah met jou hele hart, siel, verstand en krag dien, sal jy “in hierdie tyd honderdvoudig [maai] en in die komende stelsel van dinge, die ewige lewe”.—Mark. 10:29, 30; 12:30.