Kan jy jou rooster aanpas?
1. Waarom moet ons ons rooster aanpas om aan die predikingswerk deel te neem?
1 As ware Christene het ons die uitnodiging aanvaar om “vissers van mense” te wees (Matt. 4:19). Soos letterlike vissermanne sal ons waarskynlik beter resultate behaal in ons werk as vissers van mense as ons tyd opsysit om vir hulle te getuig wanneer hulle gevind kan word. Laat in die middag en vroeg in die aand is meer mense tuis. Dan is hulle dikwels meer ontspanne en moontlik gewilliger om besoekers te ontvang. Kan jy jou rooster aanpas om gedurende hierdie tye aan die predikingswerk deel te neem?—1 Kor. 9:23.
2. Wat is van die maniere waarop ons meer mense met die goeie nuus kan bereik?
2 Aandgetuieniswerk: Wanneer ons vooruitbeplan om in die aand aan die predikingswerk deel te neem, sal ons moontlik meer mense met die goeie nuus bereik (Spr. 21:5). Jongmense kan miskien ná skool daaraan deelneem. Ander kan dit dalk ná werk doen. Party boekstudiegroepe kan reël om voor die weeklikse studie ’n uur lank velddiens te doen.
3. Aan watter aspekte van die getuieniswerk kan jy laat in die middag en vroeg in die aand in julle gebied deelneem?
3 Wanneer ons laat in die middag en vroeg in die aand van huis tot huis getuig, praat ons dalk met mense wat nie gewoonlik tuis is nie. In baie gebiede kan ’n mens ook in die aand straatwerk doen en aan ander aspekte van die openbare getuieniswerk deelneem. En baie vind dat aande ’n uitstekende tyd is om herbesoeke te doen en Bybelstudies te begin.
4. Waarom is dit belangrik om onderskeidingsvermoë te gebruik en bedagsaam te wees wanneer ons aandgetuieniswerk doen?
4 Onderskeidingsvermoë is nodig: Goeie oordeel is nodig wanneer ons aandgetuieniswerk doen. Dit is gewoonlik beter om ons getuieniswerk tot die vroeë aandure te beperk as om besoek af te lê wanneer die huisbewoners dalk gereedmaak om te gaan slaap (Fil. 4:5). Wanneer jy aan die deur klop, moet jy staan waar jy gesien kan word en jou duidelik identifiseer. Sê dadelik wat die doel van jou besoek is. Wanneer jou besoek ongeleë is, soos wanneer ’n gesin eet, moet jy aanbied om op ’n ander tyd terug te kom. Wees altyd bedagsaam.—Matt. 7:12.
5. Hoe kan ons moontlike gevare vermy terwyl ons getuig?
5 Ons moet ook bewus wees van moontlike gevare. As jy in die skemer of ná donker getuig, sal dit verstandig wees om twee-twee of in groepe te werk. Bly in goed verligte strate waar jy nie afgesonder is nie. Getuig slegs op plekke waar jy veilig voel. Vermy gebiede wat ná donker dalk nie veilig is nie.—Spr. 22:3.
6. Watter ander voordeel hou dit in om laat in die middag en vroeg in die aand te getuig?
6 As ons laat in die middag en vroeg in die aand getuig, bied dit ons dalk die geleentheid om saam met hulp- en gewone pioniers velddiens te doen (Rom. 1:12). Kan jy jou rooster aanpas om aan hierdie aspek van die diens deel te neem?