Bied die goeie nuus aan—In die aand
1 Die Joodse hoëpriester het vir sommige van Jesus Christus se eertydse dissipels gesê: “Julle het Jerusalem met julle leer vervul” (Hand. 5:28). Die broers het klaarblyklik goed in daardie stad getuig, en hulle het hulle ongetwyfeld daarop toegelê om met almal in hulle gebied in aanraking te kom. Hulle het aangehou om daar en op ander plekke ’n kragtige getuienis te gee.—Hand. 8:25.
2 Ons het op baie plekke vandag ons gebied met die leer van die waarheid vervul. Daar is ’n uitstekende toename in verkondigers en ’n ooreenstemmende toename in die aantal gemeentes. Gebiedaanwysings het kleiner geword en gebiede word meer dikwels gedek. Dit het vir ons nodig geword om ons gebied te vergroot om meer mense met die goeie nuus te bereik.
VOORDELE VAN AANDGETUIENISWERK
3 Baie verkondigers het gevind dat hulle hulle gebied as ’t ware kan vergroot deur mense in die aand te besoek. Hulle kan dan met baie huisbewoners praat wat gewoonlik bedags nie tuis is nie. Verkondigers het gesê dat hulle iemand in omtrent elke huis in hulle gebied vind wanneer hulle hulle in die aand besoek. Daar is nie alleen meer mense tuis nie, maar dié wat daar is, is gewoonlik meer ontspanne en gewillig om na ons boodskap te luister. Kringopsieners kon ook baie gemeentes help om reëlings vir aandgetuieniswerk te tref. Alle verkondigers word aangemoedig om hierdie gereelde Woensdagaandreëling gedurende die kringopsiener se besoek te ondersteun.
4 Het jy al probeer om in die aand in jou gebied te getuig? Selfs wanneer die son gedurende die wintermaande vroeër ondergaan, kan ons die vroeë aandure vir die getuieniswerk van huis tot huis gebruik. Gedurende die somer het ons die geleentheid om ’n bietjie langer as gewoonlik uit te bly. ’n Gedeelte van die aand kan gebruik word vir huis-tot-huisgetuieniswerk of om mense wat voorheen nie tuis was nie te besoek. Dan kan ons miskien later die aand herbesoeke doen of ’n Bybelstudie gaan hou. Ons moet natuurlik die gees van ’n gesonde verstand en goeie oordeel aan die dag lê, veral wanneer ons in gebiede getuig waar dit dalk nie na sononder veilig is nie.
WEES BEDAGSAAM
5 Ons moet ’n paar basiese dinge in gedagte hou as ons welslae in die aandgetuieniswerk wil behaal. Aangesien mense in sommige gebiede byvoorbeeld dalk bang is wanneer onverwagte besoekers in die aand daar opdaag, moet ons hartlik en vriendelik wees wanneer ons ons voorstel en onmiddellik die doel van ons besoek verduidelik. As ons toon dat ons werklik oor die huisbewoners se welsyn besorg is, sal hulle heel waarskynlik meer op hulle gemak voel en moontlik openhartiger wees.
6 In sommige gebiede het huisbewoners stappe gedoen om hulleself te beveilig. Dit sal dalk verg dat ons ’n interkom moet gebruik, of die huisbewoner sal dalk met ons praat sonder om die deur oop te maak of ons deur ’n loergaatjie wil sien. As ons die huisbewoner se reëlings respekteer, sal hy moontlik geredeliker luister na die waarhede wat ons aan hom wil meedeel.
7 Baie gemeentes het reëlings vir groepgetuieniswerk vir een of meer aande gedurende die week. Dit gee verkondigers wat voltydse sekulêre werk het meer geleentheid om aan die bediening deel te neem en selfs saam met verkondigers te werk met wie hulle vanweë uiteenlopende werkroosters nog nooit voorheen gewerk het nie. Aandgetuieniswerk het sommige verkondigers in staat gestel om meer tyd aan die velddiens af te staan, en dit het weer daartoe gelei dat hulle bekwamer geword het om die goeie nuus aan ander te verkondig. Baie Bybelstudies is ook begin omdat mense besoek is wat nog nie voorheen na Jehovah se Getuies geluister het nie.
8 Is dit vir jou moontlik om aan die aandgetuieniswerk deel te neem en hierdie bykomende geleentheid te hê om “die werk van ’n evangelis” te doen? (2 Tim. 4:5). As meer van ons ja op daardie vraag kan antwoord, sal ons ons miskien ook beter van ons taak kwyt om ons gebied met die waarheid te vervul.