Keer terug na almal wat ’n mate van belangstelling toon
1 Baie van ons is vandag in die waarheid omdat iemand ons gunstige reaksie op die Koninkryksboodskap opgelet het en geduldig teruggekeer het—dalk etlike kere—om daardie belangstelling verder te ontwikkel. Ons moet ook pligsgetrou terugkeer na almal wat ’n mate van belangstelling toon. Herbesoeke is in werklikheid deel van ons opdrag om ‘dissipels te maak’.—Matt. 28:19, 20.
2 Wees op die uitkyk na belangstelling: Al aanvaar ’n persoon nie lektuur nie, kan sy gesigsuitdrukking, stemtoon of woordkeuse toon dat hy ’n mate van waardering het vir die Koninkryksboodskap. Op grond hiervan kan ons ’n herbesoek doen. Een broer het vyf weke ná mekaar ’n persoon besoek sonder om lektuur te laat. Tydens die sesde besoek het die persoon lektuur aanvaar, en ’n Bybelstudie is uiteindelik begin.
3 Keer so gou as moontlik terug as jy belangstelling vind, dalk ’n paar dae later. Moenie “die bose” die geleentheid gee om weg te ruk wat in die persoon se hart gesaai is nie (Matt. 13:19). Maak seker dat jy jou woord hou as jy reëlings getref het om op ’n spesifieke tyd terug te keer.—Matt. 5:37.
4 In straatwerk: Probeer jy die belangstelling verder ontwikkel wat jy tydens straatwerk of informele getuieniswerk vind? Jy kan aan die einde van julle gesprek sê: “Ek het ons gesprek geniet. Waar kan ek met jou in verbinding tree sodat ons weer kan gesels?” Wanneer dit gepas is, kan party verkondigers besluit om hulle telefoonnommer vir die belangstellende te gee of vra of hulle telefoonnommers kan uitruil. As mense jou gereeld op dieselfde plek in straatwerk sien, sal hulle dalk nie so huiwerig wees om jou hulle telefoonnommer of adres te gee nie. Selfs as hulle weier om hulle kontakbesonderhede vir jou te gee, kan jy nog steeds hulle belangstelling verder probeer ontwikkel wanneer jy hulle weer op straat sien.
5 Dit maak ons bly wanneer ons sien hoe plante wat ons natgegooi en versorg het, floreer. Net so kan ons baie vreugde daaruit put om herbesoeke te doen en mense te help om geestelike vooruitgang te maak (1 Kor. 3:6). Stel dit jou ten doel om terug te keer na almal wat ’n mate van belangstelling toon.