STUDIEARTIKEL 12
LIED 119 Ons moet geloof hê
Ons laat ons deur geloof lei
“Ons laat ons deur geloof lei, nie deur wat ons sien nie.” – 2 KOR. 5:7.
FOKUS
Hoe om ons deur geloof te laat lei wanneer ons belangrike besluite maak.
1. Hoekom kon die apostel Paulus tevrede voel toe hy teruggekyk het op sy lewe?
OP EEN stadium het die apostel Paulus geweet dat hy binnekort doodgemaak sou word, maar hy het alle rede gehad om tevrede te voel met sy lewe. Toe hy teruggekyk het op sy lewe, kon hy sê: “Ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou” (2 Tim. 4:6-8). Paulus het wyse besluite in sy Christelike bediening gemaak, en hy was seker dat hy Jehovah se goedkeuring gehad het. Ons wil ook goeie besluite maak en God se goedkeuring hê. Hoe kan ons dit doen?
2. Wat beteken dit om deur geloof gelei te word?
2 Paulus het die volgende oor homself en ander getroue Christene gesê: “Ons laat ons deur geloof lei, nie deur wat ons sien nie” (2 Kor. 5:7). Wat het Paulus bedoel? Wanneer iemand hom net laat lei deur wat hy sien, maak hy besluite wat net gebaseer is op wat hy met sy fisiese sintuie kan sien, hoor en voel. Maar wanneer iemand hom deur geloof laat lei, maak hy besluite wat gebaseer is op sy vertroue in Jehovah God. Sy dade wys dat hy oortuig is dat God hom sal beloon, dat hy sal baat vind as hy Jehovah se raad in Sy Woord volg. – Ps. 119:66; Heb. 11:6.
3. Hoe vind ons daarby baat as ons deur geloof gelei word? (2 Korintiërs 4:18)
3 Ons almal moet natuurlik partykeer besluite maak wat gebaseer is op wat ons sien, hoor en voel. Maar ons sal waarskynlik probleme hê wanneer ons belangrike besluite maak wat net gebaseer is op wat ons sien of hoor. Hoekom? Ons fisiese sintuie kan ons soms mislei. Selfs wanneer dit nie gebeur nie, sal ons dalk op die ou end God se wil of raad ignoreer as ons net deur wat ons sien, gelei word (Pred. 11:9; Matt. 24:37-39). Maar wanneer ons deur geloof gelei word, sal ons waarskynlik besluite maak wat “vir die Here aanvaarbaar is” (Ef. 5:10). As ons God se raad volg, sal ons innerlike vrede hê en sal ons regtig gelukkig wees (Ps. 16:8, 9; Jes. 48:17, 18). En as ons aanhou om deur geloof gelei te word, sal ons vir ewig lewe. – Lees 2 Korintiërs 4:18.
4. Hoe kan ’n persoon bepaal of hy deur geloof of deur wat hy sien, gelei word?
4 Hoe weet ons of ons deur geloof of deur wat ons sien, gelei word? Dit kom basies hierop neer: Watter faktore lei ons besluite? Word ons gelei net deur die dinge wat ons kan sien? Of word ons gelei deur ons vertroue in en raad van Jehovah? Kom ons bespreek hoe ons kan aanhou om deur geloof gelei te word op drie belangrike gebiede: wanneer ons ’n werk kies, wanneer ons ’n huweliksmaat kies en wanneer ons teokratiese riglyne ontvang. Vir elkeen sal ons faktore bespreek wat ons moet oorweeg sodat ons goeie besluite kan maak.
WANNEER ONS ’N WERK KIES
5. Waaraan moet ons dink wanneer ons kies watter werk ons sal doen?
5 Ons almal wil natuurlik graag in ons eie behoeftes en dié van ons familie voorsien (Pred. 7:12; 1 Tim. 5:8). Party werke betaal goed. Dit stel dalk ’n werknemer in staat om vir sy daaglikse uitgawes te betaal en om iets weg te sit vir die toekoms. Met ander werke is die betaling dalk meer beperk, en dit stel die werker net in staat om in sy gesin se basiese behoeftes te voorsien. Wanneer ons kies watter soort werk ons sal doen, dink ons natuurlik aan hoeveel geld ons sal verdien. Maar iemand word dalk hoofsaaklik gelei deur wat hy sien, as dit die enigste faktor is wat hy in ag neem.
6. Hoe kan ons deur geloof gelei word wanneer ons ’n werk kies? (Hebreërs 13:5)
6 As ons deur geloof gelei word, sal ons ook dink aan hoe die werk ons vriendskap met Jehovah kan affekteer. Ons kan onsself vra: ‘Sal die werk vereis dat ek dinge moet doen wat Jehovah haat?’ (Spr. 6:16-19). ‘Sal dit inmeng met my aanbidding en my dalk vir lang periodes van my familie af wegneem?’ (Fil. 1:10). As die antwoord op sulke vrae ja is, sal dit wys wees om nie die werk te aanvaar nie, al is dit moeilik om werk te kry. Omdat ons deur geloof gelei word, maak ons besluite wat wys dat ons oortuig is dat Jehovah op die een of ander manier in ons behoeftes sal voorsien. – Matt. 6:33; lees Hebreërs 13:5.
7-8. Hoe is een broer in Suid-Amerika deur geloof gelei? (Sien ook prent.)
7 Let op hoe Javier,a ’n broer in Suid-Amerika, gesien het hoe belangrik dit is om deur geloof gelei te word. Hy sê: “Ek het aansoek gedoen vir ’n werk waar ek dubbel my salaris sou verdien en wat ek baie sou geniet.” Maar Javier wou baie graag pionier. Hy sê verder: “Ek het ’n onderhoud vir die werk gehad met die nasionale bestuurder. Voor die onderhoud het ek Jehovah gevra om my te help omdat ek seker was dat Hy geweet het wat die beste vir my is. Ek wou professioneel vordering maak, maar ek wou nie hierdie werk hê as dit my nie sou help om my geestelike doelwitte te bereik nie.”
8 Javier vertel: “Gedurende die onderhoud het die bestuurder vir my gesê dat ek gereeld oortyd sal moet werk. Ek het vriendelik verduidelik dat ek dit nie kan doen nie as gevolg van my bediening.” Javier het toe die aanbod van die hand gewys. Twee weke later het hy begin pionier. En later daardie jaar het hy ’n deeltydse werk gekry. Hy sê: “Jehovah het my gebede verhoor en vir my ’n werk gegee wat by my pionierrooster pas. Ek is regtig gelukkig om ’n werk te hê wat my toelaat om meer tyd te hê om Jehovah en my broers te dien.”
As jy ’n bevordering by die werk aangebied word, sou jou keuse wys dat jy oortuig is dat Jehovah weet wat die beste vir jou is? (Sien paragraaf 7-8)
9. Wat leer jy uit Trésor se ondervinding?
9 Sê nou ons besef dat ons huidige werk ons nie toelaat om deur geloof gelei te word nie? Kyk na die ondervinding van Trésor, van Kongo. Hy vertel: “My nuwe werk was die kans van ’n leeftyd. Ek het drie keer meer verdien as wat ek voorheen verdien het, en mense het baie respek vir my gehad.” Maar Trésor het vergaderinge gereeld misgeloop omdat hy oortyd gewerk het. Daar was ook druk op hom geplaas om oneerlike aktiwiteite weg te steek. Trésor wou bedank, maar hy was bekommerd dat hy nie ’n ander werk sou kry nie. Wat het hom gehelp? Hy sê: “Habakuk 3:17-19 het my gehelp om te verstaan dat Jehovah op die een of ander manier vir my sou sorg, al verloor ek my inkomste. Daarom het ek bedank.” Hy verduidelik: “Baie werkgewers dink dat iemand enige iets, insluitende hulle gesinslewe en geestelike aktiwiteite, sal opoffer vir ’n goed betaalde werk. Ek is bly dat ek my verhouding met Jehovah en met my gesin beskerm het. ’n Jaar later het Jehovah my gehelp om ’n goeie werk te kry wat my in staat stel om in my behoeftes te voorsien en om meer tyd vir Christelike aktiwiteite te hê. Wanneer ons Jehovah eerste stel, sal ons dalk vir ’n tyd lank finansieel sukkel, maar Jehovah sal vir ons sorg.” Ja, as ons op Jehovah se raad en beloftes vertrou, sal ons aanhou om deur geloof gelei te word, en hy sal ons seën.
WANNEER ONS ’N HUWELIKSMAAT KIES
10. Wat kan veroorsaak dat ons gelei word deur wat ons sien, wanneer ons ’n huweliksmaat kies?
10 Die huwelik is ’n geskenk van Jehovah, en dit is normaal om te wil trou. Wanneer ’n suster ’n potensiële huweliksmaat oorweeg, dink sy dalk aan ’n broer se persoonlikheid, voorkoms, reputasie, finansiële situasie, gesinsverantwoordelikhede sowel as hoe hy haar laat voel.b Hierdie faktore is belangrik. Maar as sy net aan hierdie dinge dink, word sy dalk gelei deur wat sy sien.
11. Hoe kan ons deur geloof gelei word wanneer ons ’n huweliksmaat kies? (1 Korintiërs 7:39)
11 Jehovah is baie trots op ons broers en susters wat sy raad volg wanneer hulle ’n huweliksmaat kies! Byvoorbeeld, hulle is gehoorsaam aan die raad om te wag totdat hulle verby “die bloei van die jeug” is voordat hulle ’n romantiese verhouding begin (1 Kor. 7:36). Hulle maak veral seker dat die potensiële huweliksmaat die eienskappe het wat Jehovah sê ’n goeie man of ’n goeie vrou moet hê (Spr. 31:10-13, 26-28; Ef. 5:33; 1 Tim. 5:8). As iemand wat nie ’n Getuie is nie, romantiese belangstelling in hulle toon, is hulle gehoorsaam aan die raad om “net in die Here” te trou, soos dit sê in 1 Korintiërs 7:39. (Lees.) Hulle hou aan om deur geloof gelei te word met die vertroue dat Jehovah beter as enige iemand anders in hulle emosionele behoeftes kan voorsien. – Ps. 55:22.
12. Wat leer jy uit Rosa se voorbeeld?
12 Kyk na die voorbeeld van Rosa, ’n pionier in Colombia. As gevolg van haar werk was sy herhaaldelik in kontak met ’n nie-Getuieman wat in haar begin belangstel het. Rosa het van hom gehou. Sy sê: “Hy het soos ’n baie goeie man gelyk. Hy het mense in sy gemeenskap gehelp en het ’n gesonde lewenstyl gehad. Ek het gehou van hoe hy my behandel het. Hy het gehad wat ek in ’n man wou hê behalwe vir die feit dat hy nie ’n Getuie was nie.” Sy sê verder: “Dit was moeilik om vir hom nee te sê omdat dit iets is wat ek emosioneel wou hê. Op daardie stadium het ek ’n bietjie eensaam gevoel, en ek wou graag trou, maar ek kon nie iemand in die waarheid vind nie.” Maar Rosa het nie net gefokus op wat sy kon sien nie. Sy het gedink aan hoe hierdie besluit haar vriendskap met Jehovah sou raak. Daarom het sy alle kontak met die man verbreek en besig gebly met teokratiese aktiwiteite. Kort daarna is sy genooi om die Skool vir Koninkrykspredikers by te woon, en sy dien nou as ’n spesiale pionier. Rosa sê: “Jehovah het my hart met soveel geluk gevul.” Al is dit dalk nie maklik om deur geloof gelei te word in dinge wat ons so na aan die hart lê nie, is dit altyd die moeite werd.
WANNEER ONS TEOKRATIESE RIGLYNE ONTVANG
13. Wat kan veroorsaak dat ons gelei word deur wat ons sien, wanneer ons teokratiese riglyne ontvang?
13 Ons ontvang dikwels teokratiese riglyne – van ons plaaslike ouermanne, die kringopsiener, die takkantoor of die Bestuursliggaam – wat ons in ons aanbidding lei. Maar sê nou ons verstaan soms nie die rede vir die riglyne wat ons ontvang nie? Ons sien dalk net die negatiewe uitwerking wat die riglyne op ons kan hê. Ons begin dalk selfs fokus op die onvolmaakthede van die broers wat die riglyne gegee het.
14. Wat sal ons help om deur geloof gelei te word wanneer ons teokratiese riglyne ontvang? (Hebreërs 13:17)
14 Wanneer ons deur geloof gelei word, vertrou ons dat Jehovah in beheer is en dat hy ons omstandighede verstaan. As gevolg daarvan is ons vinnig om te gehoorsaam, en ons doen dit met ’n positiewe gesindheid. (Lees Hebreërs 13:17.) Ons besef dat ons gehoorsaamheid bydra tot die eenheid van ons gemeente (Ef. 4:2, 3). Al is die broers wat die leiding neem onvolmaak, vertrou ons dat Jehovah ons gehoorsaamheid sal seën (1 Sam. 15:22). Op die regte tyd sal hy enige iets regstel as dit regtig nodig is. – Miga 7:7.
15-16. Wat het ’n broer gehelp om deur geloof gelei te word, al het hy getwyfel oor die riglyne wat hy ontvang het? (Sien ook prent.)
15 Kyk na ’n ondervinding wat beklemtoon hoe dit ons help as ons deur geloof gelei word. In Peru praat baie mense inheemse tale, al word Spaans oor die algemeen gepraat. Een van hierdie tale is Quechua. Vir ’n hele paar jaar het Quechua-sprekende broers en susters in die gebied gesoek na mense wat Quechua praat. Maar om te voldoen aan die regering se regulasies, is aanpassings gemaak aan die manier hoe hulle mense bereik (Rom. 13:1). As gevolg daarvan het party gewonder of dit ’n negatiewe uitwerking op die werk in die gebied sou hê. Omdat die broers gehoorsaam was aan die riglyne, het Jehovah hulle pogings geseën om baie Quechua-sprekende mense te vind.
16 Kevin, ’n ouerman in ’n Quechua-sprekende gemeente, was een van dié wat bekommerd was. Hy verduidelik: “Ek het gedink: ‘Hoe gaan ons nou mense vind wat Quechua praat?’” Wat het Kevin gedoen? Hy sê: “Ek het aan Spreuke 3:5 gedink. En ek het aan Moses gedink. Hy moes die Israeliete uit Egipte lei na ’n plek wat soos ’n doodloopstraat gelyk het en wat hulle ’n maklike teiken vir die Egiptenare sou maak. Maar hy was gehoorsaam, en Jehovah het sy gehoorsaamheid op ’n indrukwekkende manier geseën” (Eks. 14:1, 2, 9-11, 21, 22). Kevin was bereid om sy bediening aan te pas. Wat was die gevolg? Hy sê: “Ek was verstom deur hoe Jehovah ons geseën het. Voorheen het ons baie in die bediening geloop en soms net een of twee Quechua-sprekende mense gevind. Nou fokus ons op gebiede waar daar baie mense is wat Quechua praat. As gevolg daarvan het ons meer gesprekke, herbesoeke en Bybelstudies. En meer mense woon ons vergaderinge by.” Ja, wanneer ons deur geloof gelei word, word ons altyd deur Jehovah beloon.
Broers het gevind dat baie mense wat hulle ontmoet het, vir hulle gebiede in die omgewing kon wys waar hulle dié kon vind wat die taal praat (Sien paragraaf 15-16)
17. Wat het jy in hierdie artikel geleer?
17 Ons het bespreek hoe ons kan aanhou om deur geloof gelei te word op drie belangrike gebiede. Maar ons moet aanhou om deur geloof gelei te word op alle gebiede van ons lewe, soos wanneer ons vermaak of ontspanning kies en wanneer ons besluite maak oor opvoeding of hoe om kinders groot te maak. Watter besluite ons ook al moet maak, ons moet gelei word nie net deur wat ons kan sien nie, maar ook deur ons verhouding met Jehovah, sy raad en sy belofte om vir ons te sorg. As ons dit doen, sal ons ‘vir ewig en altyd kan wandel in die naam van Jehovah ons God’. – Miga 4:5.
LIED 156 Oë van geloof
a Party name is verander.
b Vir eenvoud verwys hierdie paragraaf na ’n suster wat na ’n man soek. Dieselfde raad is van toepassing in die geval van ’n broer wat na ’n vrou soek.