STUDIEARTIKEL 30
LIED 97 God se Woord is lewegewend
Kan jy nog steeds uit basiese Bybelleringe leer?
“Ek [is] van plan om julle altyd aan hierdie dinge te herinner, al ken julle dit en staan julle vas in die waarheid.” – 2 PET. 1:12.
FOKUS
Hoe om waardevolle lesse uit basiese Bybelleringe toe te pas, selfs jare nadat jy dit vir die eerste keer geleer het.
1. Hoe het Bybelleringe jou geraak toe jy die waarheid vir die eerste keer leer?
BASIESE Bybelleringe het ons lewe verander. Byvoorbeeld, toe ons leer dat God se naam Jehovah is, het ons die eerste stap geneem om sy vriend te word (Jes. 42:8). Toe ons leer wat die ware toestand van die dooies is, het ons nie meer gewonder of ons geliefdes wat gesterf het, ly nie (Pred. 9:10). En toe ons oor God se belofte van die Paradys op die aarde leer, was ons nie meer bekommerd oor ons toekoms nie. Ons was oortuig dat ons nie net vir ’n kort rukkie – 70 of 80 jaar – kon lewe nie, maar vir ewig. – Ps. 37:29; 90:10.
2. Hoe wys 2 Petrus 1:12, 13 dat selfs volwasse Christene by basiese Bybelleringe baat vind?
2 Ons moet nooit die basiese Bybelleringe as vanselfsprekend aanvaar nie. In sy tweede brief het die apostel Petrus aan Christene geskryf wat ‘vasgestaan het in die waarheid’. (Lees 2 Petrus 1:12, 13.) Maar nou het hulle geestelike gevare binne die gemeente ondervind, insluitende valse onderrigters en goddelose mense (2 Pet. 2:1-3). Petrus wou sy broers en susters versterk om hulle te help om hierdie bedreigings te weerstaan. Om dit te doen, het hy hulle herinner aan party van die leringe wat hulle alreeds geleer het. Hierdie leringe sou hulle help om tot die einde toe getrou te bly.
3. Illustreer hoekom alle Christene moet aanhou om na te dink oor basiese Bybelleringe.
3 Terwyl ons geestelik volwasse word, sal ons dalk nuwe lesse uit basiese Bybelleringe kan leer. Dink hieraan: ’n Vaardige kok en een wat nog leer om te kook, gebruik dalk dieselfde basiese bestanddele wanneer hulle ’n dis voorberei. Maar met verloop van tyd het die ervare kok geleer hoe om die meeste uit daardie bestanddele te kry en om dit op nuwe en interessante maniere voor te berei. Net so kyk mense wat Jehovah al lank dien, en nuwe Bybelstudente dalk op verskillende maniere na basiese Bybelwaarhede. Ons omstandighede of diensvoorregte het heel moontlik verander vandat ons gedoop is. Wanneer ons die leringe wat ons lank gelede geleer het, toepas op ons huidige situasie, ontdek ons dalk nuwe en praktiese lesse. Kom ons kyk wat volwasse Christene uit drie basiese Bybelleringe kan leer.
JEHOVAH IS DIE SKEPPER
4. Hoe het dit ons geraak toe ons leer dat Jehovah die Skepper is?
4 “Die een wat alles gebou het, is God” (Heb. 3:4). Ons weet dat ons planeet en die lewe daarop gemaak is deur ’n wyse en kragtige Skepper. Hy het ons gemaak, so hy ken ons deur en deur. Wat meer is, hy gee vir ons om. Hy weet wat die beste vir ons is. Die feit dat ons hierdie eenvoudige waarheid ken, dat Jehovah die Skepper is, het ons baie diep geraak en ons lewe ware betekenis gegee.
5. Watter waarheid kan ons help om nederigheid te ontwikkel? (Jesaja 45:9-12)
5 Die waarheid dat Jehovah die Skepper is, kan ons ’n les in nederigheid leer. Nadat Job te veel op homself en op ander mense begin fokus het, het Jehovah hom daaraan herinner dat Hy die almagtige Skepper is (Job 38:1-4). Hierdie herinnering het Job gehelp om te sien dat God se weë hoër is as die mens se weë. In ooreenstemming hiermee het die profeet Jesaja later geskryf: “Moet die klei vir die Pottebakker sê: ‘Wat maak jy?’” – Lees Jesaja 45:9-12.
6. Wanneer is dit goed om oor Jehovah se verhewe posisie as ons Skepper na te dink? (Sien ook prente.)
6 Terwyl ’n Christen ondervinding opdoen, kan hy begin om te veel op sy eie opinies te vertrou eerder as om op Jehovah en Sy Woord vir leiding te vertrou (Job 37:23, 24). Maar wat as ’n persoon diep nadink oor die onvergelyklike wysheid en grootheid van sy Skepper? (Jes. 40:22; 55:8, 9). Hierdie grondwaarheid sal hom help om nederig te bly en om die regte beskouing van sy eie idees te hê.
Wat kan ons help om die regte beskouing van ons eie idees te behou? (Sien paragraaf 6)d
7. Wat het Rahela gedoen om ’n verandering in die organisasie te aanvaar?
7 Rahela, wat in Slowenië bly, het gevind dat dit haar gehelp het om ’n verandering in die organisasie te aanvaar wanneer sy oor haar Skepper nadink. Sy erken: “Dit was nie altyd vir my maklik om besluite van dié wat die leiding neem, te aanvaar nie. Byvoorbeeld, selfs nadat ek die Jongste nuus van die Bestuursliggaam vir 2023 – Nr. 8 gekyk het, was ek geskok toe ek die eerste keer sien dat ’n broer met ’n baard ’n toespraak gee. So ek het tot Jehovah gebid om my te help om by hierdie verandering aan te pas.” Rahela het besef dat Jehovah, as die Skepper van die hemel en die aarde, heeltemal in staat is om sy organisasie in die regte rigting te lei. As jy dit moeilik vind om by ’n nuwe begrip aan te pas of om nuwe riglyne te aanvaar, hoekom dink jy nie nederig na oor die verhewe wysheid en krag van ons Skepper nie? – Rom. 11:33-36.
HOEKOM GOD LYDING TOELAAT
8. Hoe het ons daarby baat gevind toe ons leer hoekom God lyding toelaat?
8 Hoekom laat God lyding toe? Party wat nie daardie vraag kon beantwoord nie, het vir God kwaad geword of het tot die slotsom gekom dat hy glad nie bestaan nie! (Spr. 19:3). Maar jy het geleer dat oorgeërfde sonde en onvolmaaktheid, nie Jehovah nie, lyding veroorsaak het. Jy het ook geleer dat Jehovah se geduld met mense miljoene in staat gestel het om hom te leer ken en om self te sien hoe Jehovah lyding permanent sal beëindig (2 Pet. 3:9, 15). Hierdie waarhede het jou vertroos en jou nader aan hom gebring.
9. In watter situasies is dit dalk goed om aan die redes te dink hoekom Jehovah lyding toelaat?
9 Ons verstaan dat ons geduldig moet wees terwyl ons vir Jehovah wag om lyding te beëindig. Maar wanneer ons of ons geliefdes moeilike tye, onregte of verlies ondervind, wonder ons dalk hoekom Jehovah nie vinniger optree nie (Hab. 1:2, 3). Gedurende sulke tye is dit goed om na te dink oor die redes hoekom Jehovah toelaat dat die regverdiges moeilike tye deurmaak (Ps. 34:19).a Ons kan ook nadink oor sy doel om eens en vir altyd ’n einde aan lyding te maak.
10. Wat het Anne vertroos nadat haar ma gesterf het?
10 Die waarheid omtrent lyding kan ons help om te volhard. Anne, wat bly op die eiland Mayotte, in die Indiese Oseaan, sê: “Toe my ma ’n paar jaar gelede gesterf het, was ek baie hartseer. Maar ek het myself gereeld daaraan herinner dat Jehovah nie vir lyding verantwoordelik is nie. Hy is gretig om van alle vorme van lyding ontslae te raak en ons geliefdes op te wek. Wanneer ek oor daardie waarhede nadink, gee dit my innerlike vrede wat my dikwels verbaas.”
11. Hoe kan die redes hoekom Jehovah lyding toelaat ons help om aan te hou preek?
11 Die feit dat ons die waarheid weet oor hoekom God lyding toelaat, kan ons motiveer om aan te hou preek. Nadat Petrus verduidelik het dat Jehovah se geduld redding beteken vir dié wat berou toon, het hy geskryf: “Dink aan watter soort mense julle behoort te wees. Julle gedrag moet heilig wees en julle moet dade van toegewydheid aan God verrig” (2 Pet. 3:11). Een van daardie “dade van toegewydheid aan God” is ons veldbediening. Soos ons Vader is ons lief vir mense. Ons wil hê dat hulle in God se regverdige nuwe wêreld moet lewe. Jehovah gee die mense in jou gemeenskap geduldig ’n geleentheid om hom te aanbid. Dit is ’n groot voorreg om God se medewerker te wees en om soveel as moontlik te help om oor hom te leer voordat die einde kom! – 1 Kor. 3:9.
ONS LEWE IN “DIE LAASTE DAE”
12. Hoe het ons daarby baat gevind toe ons leer dat ons in “die laaste dae” lewe?
12 Die Bybel beskryf presies hoe mense sou wees gedurende “die laaste dae” (2 Tim. 3:1-5). Ons kan net rondom ons kyk om te sien hoe hierdie profesie vervul word. Ons sien hoe die gesindhede van mense al hoe slegter word, en dit oortuig ons selfs meer dat God se Woord betroubaar is. – 2 Tim. 3:13-15.
13. Wat kan ons onsself afvra in ooreenstemming met Jesus se illustrasie in Lukas 12:15-21?
13 Die feit dat ons weet dat ons in die laaste dae lewe, gee ons ’n gevoel van dringendheid. Let op wat ons kan leer omtrent dringendheid uit Jesus se illustrasie in Lukas 12:15-21. (Lees.) Hoekom is die ryk man ‘onredelik’ genoem? Nie omdat die man ryk was nie, maar omdat hy die verkeerde prioriteite gehad het. Hy het “vir homself skatte [opgegaar], maar [was] nie ryk . . . teenoor God nie”. Wat het die saak so dringend gemaak? God het vir die man gesê: “Vanaand sal jy sterf.” Vandag, soos die wêreld tot ’n einde kom, kan ons onsself afvra: ‘Wat wys my doelwitte oor my gevoel van dringendheid? Wat van die doelwitte wat ek my kinders help om te stel? Gebruik ek my krag, my tyd en my finansiële middele hoofsaaklik om skatte vir myself bymekaar te maak of om skatte in die hemel op te gaar?’
14. Soos ons kan sien uit Miki se ondervinding, hoekom is dit wys om na te dink oor die skriftuurlike bewyse dat ons in die laaste dae lewe?
14 Ons hele uitkyk op die lewe kan verander wanneer ons dink oor die bewyse dat ons in die laaste dae lewe. Dit is wat gebeur het met ’n suster met die naam Miki. Sy vertel: “Toe ek skool klaarmaak, wou ek baie graag ’n werk hê waar ek diere kon bestudeer. Ek het ook die doelwit gehad om te pionier en om te dien waar daar meer verkondigers nodig is. Volwasse vriende het my aangemoedig om baie mooi te dink oor of dit vir my moontlik sou wees om die sekulêre loopbaan wat ek wou hê, na te streef en nog steeds my geestelike doelwitte te bereik. Hulle het my daaraan herinner dat hierdie wêreld binnekort tot ’n einde sal kom. Maar in die nuwe wêreld sal ek ’n ewigheid hê om soveel diere as wat ek wil, te bestudeer. So ek het ’n kort, praktiese kursus gekies. Dit het my gehelp om ’n werk te kry om my in die pionierdiens te onderhou en om later na Ecuador te trek, waar daar meer verkondigers nodig is.” Miki en haar man dien nou op die kring in daardie land.
15. Hoe sal mense dalk nog op die goeie nuus reageer? Gee ’n voorbeeld. (Sien ook prente.)
15 Ons moenie mismoedig wees wanneer mense aanvanklik die goeie nuus verwerp nie. Mense kan verander. Kyk na die voorbeeld van Jesus se halfbroer Jakobus. Hy het gesien hoe Jesus grootword, die Messias word en onderrig soos geen ander mens onderrig het nie. Maar Jakobus het Jesus jare lank nie gevolg nie. Eers nadat Jesus opgewek is, het sy broer ’n dissipel geword – en hy was ’n ywerige dissipel! (Joh. 7:5; Gal. 2:9).b Moenie die waarde daarvan onderskat om uit te reik na familielede wat nog nie belangstelling getoon het nie of om weer dié te besoek wat nog nie die Koninkryksboodskap aanvaar het nie. Onthou dat ons in die laaste dae lewe, so ons predikingswerk is dringend. Wat jy vandag vir hulle sê, affekteer hulle dalk later, dalk selfs nadat die groot verdrukking begin het.c
Wat kan ons motiveer om ons ongelowige familielede nie af te skryf nie? (Sien paragraaf 15)e
BLY DANKBAAR VIR JEHOVAH SE HERINNERINGE
16. Hoe het jy by Jehovah se herinneringe baat gevind? (Sien ook die venster “Gebruik dit om ander te help”.)
16 Party van die geestelike voedsel wat ons ontvang, word vir mense voorberei wat nog nooit basiese Bybelwaarhede gehoor het nie. Byvoorbeeld, ons weeklikse openbare toespraak, sekere artikels en video’s op jw.org en ons publieke tydskrifte word hoofsaaklik ontwerp vir nie-Getuies. Al is dit die geval, vind ons baat by daardie herinneringe. Dit vergroot ons liefde vir Jehovah, versterk ons geloof in sy Woord en help ons om effektiewer te wees wanneer ons basiese waarhede aan ander leer. – Ps. 19:7.
17. In watter situasies kan jy nadink oor basiese Bybelleringe?
17 As Jehovah se Getuies is ons opgewonde wanneer ons begrip van ’n Bybelwaarheid aangepas word. Maar ons is ook baie dankbaar vir die basiese Bybelleringe wat ons in die eerste plek na die waarheid toe getrek het. As ons ooit in die versoeking kom om op ons eie opinie aan te dring eerder as om ons te onderwerp aan die leiding van Jehovah se organisasie, kan ons nederig onthou wie daardie organisasie lei – die almagtige en alwyse Skepper. Wanneer ons of ’n geliefde deur ’n moeilike tyd gaan, kan ons geduldig wees en nadink oor hoekom Jehovah lyding toelaat. En wanneer ons besluit hoe om ons tyd en middele te gebruik, kan ons dink aan die dringendheid van hierdie laaste dae. Mag Jehovah se herinneringe aanhou om ons te versterk, te motiveer en wys te maak.
LIED 95 Die lig word helderder
a Sien die artikel “Waarom alle lyding binnekort sal eindig” in Die Wagtoring van 15 Mei 2007, bl. 21-25.
c Sien die artikel “Wat weet ons omtrent Jehovah se toekomstige oordele?” in Die Wagtoring van Mei 2024, bl. 8-13.
d BESKRYWING VAN PRENT: ’n Ouerman se voorstel word nie deur die liggaam van ouermanne aanvaar nie. Later kyk hy op na die sterre in die hemel en word hy beweeg om die regte beskouing van sy eie idees te hê.
e BESKRYWING VAN PRENT: ’n Getuie ondersoek gedurende haar persoonlike studie bewyse dat ons in die laaste dae lewe. Dit beweeg haar om haar suster te bel en vir haar te getuig.