Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 November bl. 8-9
  • Moet ek ophou bestuur?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moet ek ophou bestuur?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • EVALUEER HOE JY BESTUUR
  • WORD GELEI DEUR BYBELBEGINSELS
  • Motorongelukke—Is jy veilig?
    Ontwaak!—2002
  • Is jy ’n veilige bestuurder?
    Ontwaak!—1995
  • Hoe om motorongelukke te voorkom
    Ontwaak!—2011
  • ’n Waarskuwing aan lomerige bestuurders
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 November bl. 8-9
’n Bejaarde broer sit by ’n venster en kyk na sy kar. Hy hou sy karsleutels in sy hand terwyl hy bepeins.

Moet ek ophou bestuur?

JY BESTUUR al baie jare lank. Jy geniet die vryheid en onafhanklikheid daarvan om jou eie voertuig te hê. Maar jou familie en vriende is bekommerd en wil graag hê dat jy jou besluit om aan te hou bestuur, moet heroorweeg. Jy kan nie verstaan hoekom hulle bekommerd is nie.

Is jy in ’n soortgelyke situasie? Indien wel, wat kan jou help om te bepaal of jy moet aanhou bestuur?

In sekere lande moet bestuurders wat oor ’n sekere ouderdom is en hulle lisensie wil hernieu, deur ’n dokter ondersoek of gesertifiseer word. Christene wat in hierdie lande bly, gehoorsaam die wette en tree in ooreenstemming op met die besluite van dié wat deur die staat aangestel is (Rom. 13:1). Maar maak nie saak waar jy bly nie, daar is riglyne wat jou sal help om te weet of jy nog steeds veilig kan bestuur.

EVALUEER HOE JY BESTUUR

Die webwerf van die National Institute on Aging (NIA) in die Verenigde State stel voor dat jy kan begin deur jouself die volgende vrae af te vra:

  • Sukkel ek om padtekens te lees of om in die aand te sien?

  • Is dit vir my moeilik om my kop te draai om in die spieëls te kyk en om my blindekolle te sien?

  • Vind ek dit moeilik om vinnig te reageer, soos wanneer ek my voet van die versneller na die remme toe skuif?

  • Ry ek so stadig dat ek inmeng met die vloei van die verkeer?

  • Het ek onlangs amper ’n paar ongelukke gehad, of het my voertuig duike en krapmerke omdat ek in stilstaande voorwerpe vasgery het?

  • Is ek al deur ’n polisiebeampte afgetrek as gevolg van hoe ek bestuur?

  • Het ek al ooit aan die slaap geraak terwyl ek bestuur?

  • Neem ek enige medikasie wat ’n uitwerking kan hê op hoe ek bestuur?

  • Het my familielede of vriende al gesê dat hulle bekommerd is oor hoe ek bestuur?

As jy ja geantwoord het op een of twee van hierdie vrae, sal jy dit dalk wil oorweeg om ’n paar veranderinge te maak. Byvoorbeeld, jy kan besluit om minder te bestuur, veral in die aand. Evalueer gereeld hoe jy bestuur. Jy kan ’n familielid of ’n vriend vra om vir jou te sê wat hulle dink van hoe jy bestuur. Jy kan dit dalk ook oorweeg om ’n paar lesse te vat oor hoe om veiliger te bestuur. Maar as jy ja geantwoord het op ’n paar van die vrae hierbo, sal dit dalk in jou beste belange wees om op te hou bestuur.a

WORD GELEI DEUR BYBELBEGINSELS

Ons besef dalk nie dat ons bestuursvermoë besig is om agteruit te gaan nie. En of ons moet ophou bestuur, kan ’n sensitiewe onderwerp wees. So, watter Bybelbeginsels kan jou help om mooi oor die situasie te dink en ’n wyse besluit te maak? Kyk na twee.

Bly beskeie (Spr. 11:2). Soos ons ouer word, versleg ons sig, gehoor, spiere en reflekse. Byvoorbeeld, die meeste mense hou op om sekere sportsoorte te speel soos hulle ouer word omdat hulle besef dat dit vir hulle makliker is om seer te kry soos hulle ouer word. ’n Soortgelyke beginsel is van toepassing wanneer dit kom by die bestuur van ’n voertuig. Op een of ander stadium besluit ’n persoon dalk beskeie om op te hou bestuur vir sy eie veiligheid (Spr. 22:3). En as ander sê dat hulle bekommerd is, sal ’n beskeie persoon bereid wees om te luister. – Vergelyk 2 Samuel 21:​15-17.

Vermy bloedskuld (Deut. 22:8). ’n Kar is ’n gevaarlike wapen wanneer iemand nie veilig bestuur nie. ’n Persoon wat aanhou bestuur selfs al het sy vermoëns agteruitgegaan, kan sy eie lewe en dié van ander in gevaar stel. En as hy verantwoordelik is vir ’n dodelike ongeluk, kan hy bloedskuldig word.

As jy die moeilike besluit moet maak of jy moet ophou bestuur of nie, moenie dink dat jy dalk jou waardigheid of waarde as ’n persoon sal verloor nie. Jehovah is lief vir jou as gevolg van jou pragtige eienskappe, insluitende jou beskeidenheid, nederigheid en besorgdheid oor die veiligheid van ander. En hy belowe om jou te ondersteun en jou te vertroos (Jes. 46:4). Hy sal jou nooit verlaat nie. So vra hom om jou te help om praktiese wysheid en geestelike insig te gebruik terwyl jy besluit of jy moet ophou bestuur.

Hoe ander kan help

Familielede is dikwels in die beste posisie om met ouer familielede te praat oor hoe hulle bestuur. Of dalk is jy ’n vriend van die bestuurder en hoor jy dat ander sê dat hulle bekommerd is oor hoe hy bestuur. Neem hulle kommentare ernstig op. Jy kan selfs vra om self met die bestuurder te ry. Indien nodig, praat met hom oor hoe hy bestuur. Wanneer jy dit doen, sit jouself in sy skoene. Wees liefdevol maar eerlik. Moenie op sy ouderdom fokus nie – jy is daar om te praat oor hoe hy bestuur. Gebruik woorde soos “Ek is besorg oor jou veiligheid wanneer jy bestuur” eerder as “Jy is nie meer ’n veilige bestuurder nie”. Herinner hom aan wat die Bybel sê oor beskeidenheid en bloedskuld, en verseker hom dat jy weet dat hy gehoorsaam wil wees aan wat die Bybel sê.

Ons almal kan empatie betoon wanneer ’n ouer persoon moet ophou bestuur. Hy voel dalk dat hy sy vryheid en onafhanklikheid verloor het. Hoe kan jy help? Wees ondersteunend en bied praktiese hulp aan (Spr. 17:17). Moenie vir hom wag om jou te vra om hom op te tel nie omdat hy dalk voel dat hy ’n las is vir jou. Jy kan dalk aanbied om ’n rooster te maak om hom na belangrike aktiwiteite te neem, soos vergaderinge, velddiens, inkopies en mediese afsprake. Verseker hom dat jy dit graag wil doen en dat jy tyd met hom wil spandeer. – Rom. 1:​11, 12.

a Vir meer inligting, sien die artikel “Motorongelukke—Is jy veilig?” in die Ontwaak! van 22 Augustus 2002.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel