Is jy ’n veilige bestuurder?
JOU gesindheid terwyl jy agter ’n motor se stuurwiel is, kan ’n besliste invloed op jou bestuursvermoë hê. ’n Studie onder leiding van die Britse Outomobielvereniging het getoon dat 22 persent van die Britse mans tussen 17 en 20 elke jaar in ten minste een padongeluk betrokke is.
Wat is die vernaamste faktore in hulle onveilige bestuursgewoontes? Behalwe alkohol, luimveranderinge en harde musiek sê die adjunk-direkteur-generaal van die Outomobielvereniging, Kenneth Faircloth: “Te veel word deur hulle portuurs beïnvloed om gevaarlik te bestuur.” Die Outomobielvereniging raai gevolglik aan dat die opleiding meer op die gesindhede van die bestuurder konsentreer en minder op die tegniese aspekte van sy bestuursvermoë.
Vra jou byvoorbeeld af: ‘Probeer ek die passasiers in my motor beïndruk deur onverskillig kanse te waag? Bepaal my luim my gedrag agter die wiel? Beskou ek ander bestuurders op die pad as lastige hindernisse wat uitoorlê moet word?’ Die antwoorde op sulke vrae toon watter soort bestuurder jy is.
Hetsy man of vrou, jonk of oud, jy moet ’n vriendelike gesindheid aan die dag lê terwyl jy bestuur. “Behandel ander mense presies soos jy deur hulle behandel wil word” (Mattheüs 7:12, Phillips). As jy dit doen, sal dit jou help om veilig te bestuur.