Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w25 November bl. 16-21
  • Ons simpatieke Hoëpriester – Jesus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons simpatieke Hoëpriester – Jesus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • GOD SE GELIEFDE SEUN KOM NA DIE AARDE TOE
  • JESUS WYS DAT HY MEDELYE HET MET MENSE
  • HOE ONS VANDAG ONS HOËPRIESTER NAVOLG
  • ONS HOËPRIESTER KAN JOU HELP
  • Wat leer die losprys ons?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Aanvaar beskeie wat jy nie weet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
  • Wat ons uit Jesus se laaste 40 dae op die aarde leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Besluite wat wys dat ons op Jehovah vertrou
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2023
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2025
w25 November bl. 16-21

STUDIEARTIKEL 46

LIED 17 ‘Ek wil, ja’

Ons simpatieke Hoëpriester – Jesus

“Ons het nie ’n hoëpriester wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie.” – HEB. 4:15.

FOKUS

Hoe Jesus se simpatie en medelye hom kwalifiseer as Hoëpriester en hoe ons vandag by sy priesterlike dienste baat vind.

1-2. (a) Hoekom het Jehovah sy Seun na die aarde toe gestuur? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek? (Hebreërs 5:​7-9)

OMTRENT 2 000 jaar gelede het Jehovah God sy kosbaarste Seun na die aarde toe gestuur. Hoekom? Een van die redes was om die menseras los te koop van die vloek van sonde en die dood en om die skade wat Satan veroorsaak het, ongedaan te maak (Joh. 3:16; 1 Joh. 3:8). Jehovah het ook geweet dat Jesus se ondervinding as ’n mens hom verder sou voorberei om ’n Hoëpriester te word wat simpatie, empatie en medelye met ons het. Jesus het ná sy doop in 29 HJ in daardie rol begin dien.a

2 In hierdie artikel sal ons bespreek hoe Jesus se ondervindinge op die aarde hom gehelp het om beter gekwalifiseerd te word om as ’n simpatieke Hoëpriester te dien. Terwyl ons ’n beter begrip kry van hoe Jesus “volmaak geword” het vir sy rol, sal ons dit makliker vind om tot Jehovah te bid, selfs as ons mismoedig voel as gevolg van ons sondes of swakhede. – Lees Hebreërs 5:​7-9.

GOD SE GELIEFDE SEUN KOM NA DIE AARDE TOE

3-4. Watter groot veranderinge het Jesus ondervind toe hy na die aarde toe gekom het?

3 Baie van ons het al ’n verandering in omstandighede ondervind, soos om van ’n geliefde huis af weg te trek en familie en vriende agter te laat. Sulke veranderinge kan ’n uitdaging wees. Maar geen mens het veranderinge ondervind soos dié wat Jesus ondervind het nie. In die hemel was hy die belangrikste onder Jehovah se geesseuns. Jehovah was baie lief vir hom, en hy was altyd vreugdevol terwyl hy aan God se “regterhand” gedien het (Ps. 16:11; Spr. 8:30). Maar Filippense 2:7 sê dat hy gewilliglik “alles opgegee” het toe hy sy verhewe posisie in die hemel opgegee het om onder onvolmaakte mense op die aarde te lewe.

4 Dink ook aan die omstandighede rondom Jesus se geboorte en vroeë lewe as ’n mens. Jesus is in ’n arm gesin gebore, soos gesien kan word uit die nederige offerande wat sy ouers ná sy geboorte gebring het (Lev. 12:8; Luk. 2:24). Toe goddelose koning Herodes van Jesus se geboorte uitgevind het, het hy probeer om Jesus dood te maak. Om van Herodes af weg te kom, het die gesin ’n ruk lank vlugtelinge in Egipte geword (Matt. 2:​13, 15). Dit was heeltemal anders as Jesus se voormenslike bestaan!

5. Wat het Jesus op die aarde gesien, en hoe het sy ondervinding hom voorberei vir sy rol as Hoëpriester? (Sien ook prent.)

5 Terwyl Jesus op die aarde was, het hy lyding oral rondom hom gesien. Hy het ongetwyfeld geliefdes aan die dood verloor, wat heel moontlik sy aanneempa, Josef, ingesluit het. Gedurende sy bediening het Jesus in aanraking gekom met melaatses, blindes, verlamdes en bedroefde ouers, en hy het medelye met hulle gehad (Matt. 9:​2, 6; 15:30; 20:34; Mark. 1:​40, 41; Luk. 7:13). Ja, hy het uit sy verhewe hemelse posisie gesien hoe mense ly. Maar nou, as ’n mens op die aarde, het hy mense se pyn uit ’n nuwe perspektief gesien (Jes. 53:4). Jesus se ondervindinge op die aarde het hom gehelp om mense se gevoelens, frustrasies en pyn te verstaan. Hy het gevoelens en emosies persoonlik ondervind wat mense oor die algemeen ondervind, insluitende angstigheid, moegheid en droefheid.

Jesus is omring deur ’n groep mense wat hom smeek om hulle siektes te genees. Hy steek liefdevol sy hande uit en hou die arms van ’n sieklike bejaarde man vas.

Jesus was baie besorgd oor die gevoelens en die lyding van dié rondom hom (Sien paragraaf 5)


JESUS WYS DAT HY MEDELYE HET MET MENSE

6. Wat leer die profeet Jesaja se illustrasies ons omtrent Jesus se simpatie en medelye? (Jesaja 42:3)

6 Jesus het regdeur sy bediening gewys dat hy baie empatie het met die swakkes en minderbevoorregtes. Deur dit te doen, het hy ’n profesie vervul. In die Hebreeuse Geskrifte word voorspoedige en sterk mense soms vergelyk met ’n vrugbare tuin of met groot, sterk bome (Ps. 92:12; Jes. 61:3; Jer. 31:12). Maar die armes en verdruktes word vergelyk met ’n geknakte riet en met ’n lamppit wat dof brand, waarvan albei van min waarde is vir enige iemand. (Lees Jesaja 42:3; Matt. 12:20.) Die profeet Jesaja het onder inspirasie hierdie illustrasies gebruik om die medelye en liefde te voorspel wat Jesus sou betoon aan die gewone mense wat deur ander as waardeloos beskou is.

7-8. Hoe het Jesus Jesaja se profesie vervul?

7 Die Evangelieskrywer Matteus het hierdie woorde van Jesaja op Jesus toegepas: “Hy sal nie ’n geknakte riet breek of ’n lamppit wat dof brand, uitdoof nie.” Party van Jesus se wonderwerke was tot die voordeel van verdruktes wat seker soos ’n geknakte riet gevoel het, of dié wat hopeloos is wat gevoel het soos ’n lamppit wat dof brand en binnekort uitgedoof sou word. Onder hulle was ’n man wat vol melaatsheid was. Watter hoop het hy gehad om genees te word en die geselskap van sy familie en vriende te geniet? (Luk. 5:​12, 13). Dan was daar die man wat doof was en ’n spraakgebrek gehad het. Dink hoe hy gevoel het toe hy sien hoe ander lekker gesprekke gehad het wat hy nie kon volg nie (Mark. 7:​32, 33). Maar dit is nie al nie.

8 In Jesus se dag het baie Jode geglo dat dié wat siek was of ’n gebrek gehad het, vir hulle eie sondes of vir die sondes van hulle ouers gestraf word (Joh. 9:2). As gevolg van hierdie verkeerde oortuiging is hulle dikwels sleg behandel of waardeloos laat voel. In vervulling van Jesaja se profesie het Jesus dié wat gely het, fisies genees en weer hulle hoop in God aangewakker. Watter vertroue gee dit ons?

9. Hoe beklemtoon Hebreërs 4:​15, 16 dat ons hemelse Hoëpriester werklik met onvolmaakte mense simpatiseer?

9 Lees Hebreërs 4:​15, 16. Ons kan daarvan seker wees dat Jesus altyd simpatie met ons sal hê. Wat beteken dit? ’n Simpatieke persoon is iemand wat beweeg word deur die lyding en emosies van ’n ander persoon. Die Griekse woord wat met “simpatiseer” vertaal word, beteken om ander se hartseer en pyn werklik te voel. (Sien ook Hebreërs 10:​34, waar Paulus dieselfde Griekse werkwoord gebruik.) Die verslae van Jesus se wonderwerke openbaar presies hoe diep Jesus geraak is deur ander se lyding. Hy het nie mense genees bloot uit pligsgevoel nie. Hy het regtig vir hulle omgegee en wou hulle help. Byvoorbeeld, toe hy die melaatse genees het, kon hy die wonderwerk van ’n afstand af gedoen het, maar hy is eerder beweeg om aan die man te raak – dalk was dit die eerste keer in baie jare dat iemand aan die melaatse geraak het! Jesus was bedagsaam en het die dowe man weg van die geraas van die skare geneem en hom in die privaat genees. En toe ’n Fariseër neergekyk het op die berouvolle vrou wat Jesus se voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog het, het Jesus haar sterk verdedig (Matt. 8:3; Mark. 7:33; Luk. 7:44). Jesus het nie dié wat siek was of dié wat ernstig gesondig het, vermy nie. Hy het sulke mense eerder verwelkom en liefdevol gerusgestel. Ons kan die vertroue hê dat hy net so baie simpatie met ons het.

HOE ONS VANDAG ONS HOËPRIESTER NAVOLG

10. Watter geestelike voorsienings kan ons vandag gebruik om die dowes en die blindes te help? (Sien ook prente.)

10 As Jesus se getroue volgelinge probeer ons om liefdevol teenoor ander te wees en medelye met hulle te hê (1 Pet. 2:21; 3:8). Al kan ons nie die dowes of die blindes genees nie, kan ons sulke persone beslis geestelik help. Byvoorbeeld, Bybelpublikasies is nou in meer as 100 gebaretale beskikbaar. En om dié wat nie goed kan sien nie of wat blind is, te help, is daar braillepublikasies in meer as 60 tale beskikbaar en word oudiobeskrywings vir ons video’s in meer as 100 tale vervaardig. Hierdie voorsienings help die dowes en die blindes om nader aan Jehovah en sy Seun te kom.

Collage: 1. Broers en susters gebruik gebaretaal om ’n Koninkryksliedjie by ’n gemeentelike gebaretaalvergadering te sing. 2. ’n Blinde suster lees die Bybel in braille.

Ons Bybelpublikasies is beskikbaar in meer as 1 000 tale

Links: Meer as 100 gebaretale

Regs: Meer as 60 tale in braille

(Sien paragraaf 10)


11. Hoe weerspieël Jehovah se organisasie Jesus se besorgdheid oor mense uit alle agtergronde? (Handelinge 2:​5-7, 33) (Sien ook prente.)

11 Jehovah se organisasie probeer om mense uit alle agtergronde te help. Onthou dat Jesus ná sy opstanding heilige gees uitgestort het sodat almal wat vir die Pinksterfees bymekaargekom het, die goeie nuus kon hoor, elkeen in “sy eie taal”. (Lees Handelinge 2:​5-7, 33.) Die organisasie volg sy leiding en voorsien Bybelpublikasies in meer as 1 000 tale, waarvan party deur ’n klein hoeveelheid mense gepraat word. Byvoorbeeld, party Amerindiaanse tale word deur relatief min mense gepraat wat in Noord- en Suid-Amerika bly. Tog is publikasies beskikbaar gemaak in meer as 160 van daardie tale om te verseker dat soveel as moontlik toegang tot die goeie nuus kan hê. Ons publikasies is ook in meer as 20 Romani-tale beskikbaar. Derduisende wat sulke tale praat, het op die waarheid gereageer.

Collage: 1. ’n Amerindiaanse suster glimlag terwyl sy ’n Bybel in haar taal styf vashou. 2. ’n Romani-suster en haar dogter geniet ’n teokratiese geleentheid.

Links: Meer as 160 Amerindiaanse tale

Regs: Meer as 20 Romani-tale

(Sien paragraaf 11)


12. Watter ander praktiese hulp word deur Jehovah se organisasie voorsien?

12 Jehovah se organisasie hou nie net toesig oor sulke pogings om die goeie nuus te versprei nie, maar dit voorsien ook verligting aan slagoffers van natuurrampe. Om dit te doen, maak duisende vrywilligers hulleself beskikbaar om hulle broers en susters wat hulp nodig het, te help. Die organisasie help ook om beskeie plekke van aanbidding te voorsien waar mense bymekaar kan kom om meer oor God se liefde vir hulle te leer.

ONS HOËPRIESTER KAN JOU HELP

13. Wat is ’n paar maniere hoe Jesus ons help?

13 As ons goeie herder skenk Jesus aandag aan ons individuele geestelike behoeftes (Joh. 10:14; Ef. 4:7). Soms kan omstandighede in die lewe ons laat voel soos ’n geknakte riet of ’n lamppit wat dof brand. Ons word dalk baie mismoedig as gevolg van ’n ernstige siekte, ’n persoonlike fout of dalk ’n beskadigde verhouding met ’n mede-aanbidder. Ons sukkel dalk om verby die huidige pyn te kyk en om op ons hoop vir die toekoms te fokus. Maar onthou dat Jesus sien wat jy deurmaak, en jou diepste gedagtes verstaan. Jesus se medelye beweeg hom om jou te help. Byvoorbeeld, hy kan heilige gees gebruik om jou krag te gee wanneer jy swak is (Joh. 16:7; Tit. 3:6). En Jesus kan “gawes in die vorm van mense” en ander mede-aanbidders gebruik om jou aan te moedig, te ondersteun en te help. – Ef. 4:8.

14. Wat kan ons doen wanneer ons mismoedig voel?

14 As jou vlam uitgedoof is of jou gees geknak is, dink na oor Jesus se rol as ons Hoëpriester. Onthou dat Jehovah hom na die aarde toe gestuur het nie net om sy lewe as ’n losprys te gee nie, maar ook om hom te help om die probleme wat onvolmaakte mense ondervind, beter te verstaan. Wanneer ons mismoedig is as gevolg van ons sondes of swakhede, is Jesus gereed en gewillig om hulp “op die regte tyd” te voorsien. – Heb. 4:​15, 16.

15. Vertel ’n ondervinding wat wys hoe iemand wat van Jehovah se kudde afgedwaal het, gehelp kan word om na die gemeente terug te keer.

15 Jesus lei ook sy volk in hulle pogings om na dié wat van Jehovah se kudde afgedwaal het, te soek en hulle te ondersteun (Matt. 18:​12, 13). Kyk na die ondervinding van Stefano.b Nadat hy 12 jaar lank uit die gemeente verwyder was, het hy besluit om ’n vergadering by te woon. “Ek het ongemaklik gevoel, maar ek wou weer deel van Jehovah se liefdevolle gesin wees,” sê hy. “Die ouermanne wat met my ontmoet het, het my welkom laat voel. Ek het soms waardeloos gevoel, en ek wou opgee. Maar die broers het my daaraan herinner dat Jehovah en Jesus wil hê dat ek moet volhard. Toe ek herstel is, het die hele gemeente my en my gesin liefdevol ontvang. My vrou het uiteindelik ’n Bybelstudie aanvaar, en vandag dien ons Jehovah as ’n gesin.” Ons liefdevolle Hoëpriester is sekerlik baie bly om te sien dat berouvolles die hulp kry wat hulle nodig het om na die gemeente terug te keer!

16. Hoekom is jy dankbaar om so ’n simpatieke Hoëpriester te hê?

16 Gedurende sy lewe op die aarde het Jesus baie mense op die regte tyd gehelp. Vandag kan ons die volle vertroue hê dat hy ons sal help wanneer ook al ons dit nodig het. En in die nuwe wêreld wat binnekort kom, sal hy gehoorsame mense help om heeltemal bevry te word van al die gevolge van sonde en onvolmaaktheid. Ons is baie dankbaar teenoor ons God, Jehovah, wat deur groot liefde en genade beweeg is om sy Seun as ons simpatieke Hoëpriester aan te stel!

HOE SAL JY ANTWOORD?

  • Hoe het Jesus se ondervindinge op die aarde hom voorberei om as ons Hoëpriester te dien?

  • Hoe het Jesus Jesaja 42:3 vervul?

  • Hoe help ons Hoëpriester ons vandag?

LIED 13 Christus, ons Voorbeeld

a Vir meer inligting oor hoe Jesus se rol as Hoëpriester die rol van die Joodse hoëpriester vervang het, sien die artikel “Waardeer jou voorreg om in Jehovah se geestelike tempel te aanbid” in Die Wagtoring van Oktober 2023, bl. 26, par. 7-9.

b Naam is verander.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel