Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • yb16 bl. 172-bl. 175 par. 5
  • Honderd jaar gelede​—⁠1916

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Honderd jaar gelede​—⁠1916
  • 2016 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pelgrims het aanmoediging voorsien
  • Diens ondanks moeilikhede tydens die oorlog
  • Hulle het neutraal gebly
  • Charles Taze Russell sterf
  • ’n Tyd van toetsing (1914-1918)
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Interne toetsing en sifting
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Honderd jaar gelede​—⁠1917
    2017 Jaarboek van Jehovah se Getuies
  • Die Koninkryk word in die hemel gebore
    God se Koninkryk regeer!
Sien nog
2016 Jaarboek van Jehovah se Getuies
yb16 bl. 172-bl. 175 par. 5
Broer Russell sit in ’n motor saam met ’n groep pelgrims

Broer Russell se medewerkers het hardwerkende pelgrims ingesluit

Honderd jaar gelede​—1916

AAN die begin van 1916 het die Eerste Wêreldoorlog al meer as ’n jaar lank gewoed. Albei kante het ontsaglike verliese gely.

The Watch Tower van 1 Januarie 1916 het gesê: “Die oorlog in Europa beweeg party mense om hulle tot godsdiens te wend en oor die toekoms na te dink.” Dieselfde artikel het verder gesê: “Laat ons bewus wees van ons voorregte en ons geleenthede, sodat ons nie lafhartig sal wees nie, maar eerder ywerig vir God en Sy Boodskap.”

Die jaarteks vir 1916 het die broers aangespoor om “sterk in geloof” te bly, volgens Romeine 4:20 in die King James Version. Baie Bybelstudente het dit gedoen, en Jehovah het hulle ryklik geseën.

Pelgrims het aanmoediging voorsien

Reisende verteenwoordigers van die Wagtoringgenootskap, wat as pelgrims bekend gestaan het, het van dorp tot dorp gereis en die Bybelstudente aangemoedig en opgelei. In 1916 het ten minste 69 pelgrims 800 000 kilometer gereis om hierdie werk te doen.

In ’n toespraak by ’n streekbyeenkoms in Norfolk, Virginië, het pelgrim Walter Thorn ’n Christen se stryd met die Eerste Wêreldoorlog vergelyk: “Volgens skatting het tussen twintig- en dertigmiljoen mans nou die wapen opgeneem. . . . Maar daar is nog ’n leër, waarvan die wêreld nie weet nie. Dit is die Here se soldate, en soos Gideon se manskappe, veg hulle ook, maar nie met letterlike wapens nie. Hulle veg vir waarheid en regverdigheid en hulle voer die goeie stryd van die geloof.”

Diens ondanks moeilikhede tydens die oorlog

In die Eerste Slag van die Somme, wat in die laaste helfte van 1916 in Frankryk gevoer is, is meer as ’n miljoen mans gewond of doodgemaak. Op ander plekke in Frankryk het hardwerkende broers die klasse, of gemeentes, ondersteun, selfs toe toestande tydens die oorlog dit moeilik gemaak het. The Watch Tower van 15 Januarie 1916 het ’n brief bevat van Joseph Lefèvre, ’n Bybelstudent wat uit sy tuisdorp Denain, Frankryk, moes vlug toe dit in 1914 deur Duitse troepe binnegeval is. Hy het suidwaarts na Parys gegaan en met die enigste klas Bybelstudente in daardie stad begin assosieer. Ten spyte van swak gesondheid het hy kort voor lank al die vergaderinge gehou.

Later het Théophile Lequime, wat ook uit Denain gevlug het, by Joseph aangesluit nadat hy na Auchel, Frankryk, gegaan het, waar hy artikels uit The Watch Tower vertaal en aan broers in ander onbesette dele van Frankryk gepos het. Die militêre owerheid het agterdogtig geraak oor sy werk en hom gedwing om Auchel te verlaat. Broer Lefèvre het gemeen dat broer Lequime se aankoms in Parys ’n antwoord op sy gebede was.

Hulle werk in Parys is beloon. Broer Lefèvre het vertel: “Ons het nou ’n klas van ongeveer vyf-en-veertig . . . ’n Paar het die wonderlike voorreg gehad om gedoop te word, en hulle maak vinnig geestelike vooruitgang. Byna al die lede woon die weeklikse getuienisvergadering by.”

Hulle het neutraal gebly

Terwyl die oorlog voortgesleep het, het baie van ons broers voor die neutraliteitsgeskil te staan gekom. In Groot-Brittanje het nuwe wetgewing dit vir alle mans tussen die ouderdomme van 18 en 40 verpligtend gemaak om diensplig te doen. Baie Bybelstudente het egter standvastig by hulle neutrale standpunt gebly.

Byvoorbeeld, ’n brief van W.O. Warden van Skotland is in The Watch Tower van 15 April 1916 gepubliseer. Hy het gesê: “Een van my seuns is nou 19. Hy het tot dusver ’n goeie getuienis vir die Here gegee deur te weier om by die leër aan te sluit, en al sou hy op die ou end daarvoor geskiet word, is ek oortuig dat Jehovah hom sal help om getrou by die beginsels van waarheid en regverdigheid te bly.”

James Frederick Scott, ’n jong kolporteur van Edinburg, Skotland, is voor die hof gebring omdat hy geweier het om diensplig te doen. Maar nadat die hof al die bewyse ondersoek het, het dit tot die slotsom gekom dat “die uitsondering waarvoor die nuwe wetgewing voorsiening maak,” op broer Scott van toepassing is en hom onskuldig bevind.

Maar baie ander broers is vrystelling geweier. Teen September het 264 broers om vrystelling aansoek gedoen, en 23 van hulle is aangewys om nievegtende diens te doen. Die res, van wie party “verskeie strawwe verduur het”, moes “werk van Nasionale Belang verrig, soos om paaie te bou, in ’n steengroef te werk, ens.”, het ’n verslag in The Watch Tower van 15 Oktober 1916 gesê. Slegs vyf broers is van diensplig vrygestel.

Charles Taze Russell sterf

Op 16 Oktober 1916 het Charles Taze Russell, wat destyds die leiding onder die Bybelstudente geneem het, ’n reis deur die weste van die Verenigde State onderneem waartydens hy toesprake gehou het. Hy het nooit weer teruggekeer huis toe nie. Dinsdagmiddag, 31 Oktober, is broer Russell op die ouderdom van 64 op ’n trein by Pampa, Texas, oorlede.

Baie broers kon hulle nie voorstel dat enigiemand broer Russell se plek kon inneem nie. Sy testament, wat in The Watch Tower van 1 Desember 1916 gepubliseer is, het sy wense uiteengesit in verband met die werk waarin hy so lank die voortou geneem het. Maar die vraag het ontstaan: Wie sou nou die leiding neem?

Hierdie vraag sou beantwoord word by die jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië, wat vir die begin van 1917 gereël is. Die gehoor het gestem, en die resultaat was eenstemmig. Maar in die daaropvolgende maande het dit duidelik geword dat hierdie eenstemmigheid kortstondig sou wees, en hewige beproewinge het vir die broers voorgelê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel