Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g99 4/22 bl. 13-15
  • Waarom het ek ’n obsessie oor my gewig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom het ek ’n obsessie oor my gewig?
  • Ontwaak!—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Verhongering
  • Die geheime siekte
  • Gesondheidsgevare
  • Anoreksie en bulimie—die feite, die gevare
    Ontwaak!—1999
  • Het ek ’n eetversteuring?
    Ontwaak!—2006
  • Waarom ’n hedendaagse siekte?
    Ontwaak!—1990
  • Wie kry eetversteurings?
    Ontwaak!—1990
Sien nog
Ontwaak!—1999
g99 4/22 bl. 13-15

Jongmense vra . . .

Waarom het ek ’n obsessie oor my gewig?

“Daar is ’n onbeheerbare stryd in my kop aan die gang. Een deel van my wil eet, maar die ander deel weier om te eet omdat ek bang is dat ek te veel gewig sal aansit.”—Jaimee.

WAT is jou heel grootste vrees? Sonder om na te dink, sou baie meisies antwoord: om gewig aan te sit. Trouens, ’n meningsopname het getoon dat vandag se jong vroue banger is om gewig aan te sit as wat hulle is vir ’n kernoorlog, kanker of selfs om hulle ouers te verloor!

Soms begin bekommernis oor ’n mens se gewig op ’n verbasende jong ouderdom. Selfs voor hulle tienerjare, sê dr. Catherine Steiner-Adair, kom baie meisies bymekaar om “vetpraatjies” uit te ruil—gesprekke waartydens hulle oor hulle gemeenskaplike afsku van hulle liggame praat. Dit is klaarblyklik meer as net praatjies. In ’n opname onder 2 379 meisies het 40 persent gewig probeer verloor. En die meisies in die opname was net nege en tien jaar oud!

Mettertyd word baie van hierdie jongmense se lewe dalk deur dieetgiere beheers. Nog erger, sommige word dalk soos die 20-jarige Jenna. Hierdie jong vrou is 1,6 meter lank, en sy weeg maar net 40 kilogram! “Ek wil net nie eet nie”, sê Jenna. “As ek eet, is my grootste bekommernis dat ek al die gewig wat ek oor drie jaar probeer verloor het weer binne ’n maand sal aansit.”

Jy verstaan moontlik hoe Jenna voel. Jy wou dalk ook ’n bietjie gewig verloor sodat jy op jou beste kan lyk. Dit is beslis nie verkeerd om besorg te wees oor jou voorkoms nie. Maar in Jenna se geval het ’n begeerte om maer te wees byna haar lewe gekos. Hoe so?

Verhongering

Jenna ly aan ’n gevaarlike eetversteuring wat anorexia nervosa genoem word. Jaimee, wat aan die begin aangehaal is, ly ook daaraan. Hierdie meisies het hulleself ’n tyd lank letterlik verhonger, en hulle is nie alleen nie. Daar word geskat dat 1 uit 100 meisies aan anoreksie ly. Dit beteken dat miljoene jong vroue geraak word—miskien selfs iemand wat jy ken!a

Anoreksie kan heel onskuldig begin. ’n Jong meisie gaan dalk op ’n dieet wat heel veilig lyk, moontlik net om ’n paar kilogram af te skud. Maar wanneer sy haar doel bereik, is sy nie tevrede nie. “Ek’s nog steeds te vet!” sê sy terwyl sy met afkeer in die spieël kyk. Sy besluit dus om net nog ’n paar kilogram te verloor. Dan net nóg ’n paar. En nog ’n paar. Die patroon is vasgelê, en die saadjies van anoreksie is gesaai.

Nie almal wat ’n dieet volg, ly natuurlik aan anoreksie nie. Party het werklike gewigsprobleme, en vir hulle sal dit moontlik voordelig wees om ’n paar kilogram te verloor. Maar baie meisies het ’n verwronge beeld van hulle liggaam. FDA Consumer vergelyk ’n verwronge liggaamsbeeld met die beeld wat jy van jouself in ’n lagspieël sal sien. “Jy lyk vir jouself vetter as wat jy werklik is”, sê die tydskrif.

Gevolglik het die anoreksielyer ’n morbiede vrees om gewig aan te sit—selfs al is sy reeds brandmaer. Sy oefen moontlik kompulsief om maer te bly en klim ’n hele paar keer per dag op die skaal om seker te maak dat sy nie “agteruitgaan” nie. Wanneer sy eet, neem sy net piepklein porsies. Of sy eet dalk glad nie. “Ek het elke dag skool toe gegaan met kos wat my ma vir my gemaak het, en omtrent elke dag het ek dit weggegooi”, sê Heather. “Ek het gou so gewoond daaraan geraak om nie te eet nie dat ek nie kon eet nie al wou ek ook. Ek het net nie honger geraak nie.”

Aanvanklik is anoreksielyers soos Heather verheug om te sien hoe die kilogramme wegsmelt. Maar ’n gebrek aan behoorlike voeding haal ’n mens uiteindelik in. Die anoreksielyer word lomerig en lusteloos. Haar skoolwerk begin daaronder ly. Haar maandstondes kan ophou.b Haar polsslag en bloeddruk kan mettertyd gevaarlik laag word. Maar die anoreksielyer is onbewus van enige gevaar. Trouens, die enigste gevaar in haar oë is dat sy die gewig wat sy verloor het weer kan aansit—selfs net ’n enkele kilogram daarvan.

Anoreksie is egter nie die enigste eetversteuring nie, en dit is ook nie die algemeenste nie. Tot drie keer soveel meisies ly aan bulimia nervosa as aan anoreksie. Dan is daar kompulsiewe ooretery, wat nou verwant is aan bulimie. Laat ons hierdie siektes verder ondersoek.

Die geheime siekte

“Een van my vriendinne het onlangs erken dat sy stilletjies kos wegdra en dit in die geheim eet. Daarna laat sy haarself opgooi. Sy sê dat sy dit al twee jaar lank doen.” ’n Jongmens het aan ’n tydskrif se adviesrubriek geskryf en met hierdie woorde simptome beskryf wat tipies van die eetversteuring bulimie is.

Die bulimielyer sal haar aan kos vergryp, oftewel ’n groot hoeveelheid kos in ’n kort tydjie verorber. Daarna sal sy ontslae raak van die kos wat sy geëet het, dikwels deur haarself te laat opgooi.c Die gedagte daaraan om die maag op hierdie manier leeg te maak, klink dalk wel walglik. Maar die maatskaplike werkster Nancy J. Kolodny skryf: “Hoe meer jy jou aan kos vergryp en dan daarvan ontslae raak, hoe makliker word dit vir jou. Jou aanvanklike gevoelens van afkeer of selfs vrees word gou vervang deur die onbedwingbare drang om hierdie bulimiese patrone te herhaal.”

Anoreksie en bulimie is al beskryf as “teenoorgestelde kante van dieselfde muntstuk”. Hoewel hulle teenoorgestelde simptome het, is albei eetversteurings die gevolg van ’n obsessie oor kos.d Maar anders as in die geval van anoreksie is dit baie makliker om bulimie ’n geheim te hou. Die vergryping aan kos keer per slot van rekening dat die lyer gewig verloor, en omdat sy van die kos ontslae raak, sit sy nie gewig aan nie. Gevolglik sal die bulimielyer heel waarskynlik nie oorgewig of maer wees nie, en in die openbaar lyk haar eetgewoontes dalk heel normaal. ’n Vrou met die naam Lindsey sê: “Ek het my nege jaar lank vier of vyf keer per dag aan kos vergryp en dit dan opgebring. . . . Niemand het van my bulimie geweet nie omdat ek dit goed weggesteek het agter ’n front van bekwaamheid, geluk en gemiddelde liggaamsgewig.”

Dit is egter nie heeltemal dieselfde met iemand wat aan kompulsiewe ooretery ly nie. Soos die bulimielyer sal hierdie persoon groot hoeveelhede kos op ’n slag verorber. The New Teenage Body Book sê: “Aangesien hierdie vergryping aan kos plaasvind sonder om weer daarvan ontslae te raak, kan die kompulsiewe ooreter se gewig wissel van effens tot uiters oorgewig of swaarlywig.”

Gesondheidsgevare

Al drie eetversteurings kan ernstige gevare vir ’n mens se gesondheid inhou. Anoreksie kan tot ernstige ondervoeding lei, en in baie gevalle—party skat in tot 15 persent van gevalle—kan dit dodelik wees. Vergryping aan kos, hetsy die maag daarna geledig word of nie, is gevaarlik vir die gesondheid. Vetsug kan mettertyd lei tot lewensgevaarlike hartsiekte, suikersiekte en selfs party soorte kanker. Selfgeïnduseerde vomering kan die slukderm laat skeur, en die misbruik van lakseer- en urineermiddels kan in uiterste omstandighede tot ’n hartaanval lei.

Maar daar is nog ’n aspek van eetversteurings waaraan ons moet aandag skenk. Diegene wat aan anoreksie, bulimie en kompulsiewe ooretery ly, is gewoonlik ongelukkig. Hulle het gewoonlik min selfrespek en sal makliker aan angstigheid en depressie ly. Hulle het ongetwyfeld hulp nodig. Maar hoe kan diegene wat aan ’n eetversteuring ly gehelp word om hulle obsessie oor hulle gewig te bowe te kom? Hierdie vraag sal in ’n toekomstige artikel in hierdie reeks beantwoord word.

[Voetnote]

a Mans kan ook anoreksie kry. Maar aangesien die oorgrote meerderheid van anoreksielyers meisies is, sal ons na die lyers as vroulik verwys.

b ’n Vrou word klinies as ’n anoreksielyer gediagnoseer wanneer haar gewig afgeneem het tot ten minste 15 persent onder haar normale gewig en sy drie of meer maande nie gemenstrueer het nie.

c Ander metodes om van kos ontslae te raak, sluit die gebruik van lakseer- of urineermiddels in.

d ’n Aantal lyers wissel tussen anorektiese en bulimiese eetpatrone.

[Venster op bladsy 14]

’n Verwronge liggaamsbeeld

Die meeste meisies wat oor hulle gewig besorg is, het geen rede daarvoor nie. In een studie het 58 persent van die meisies tussen die ouderdomme van 5 en 17 gemeen dat hulle oorgewig is terwyl net 17 persent in werklikheid oorgewig was. In ’n ander studie het 45 persent van vroue wat eintlik ondergewig was, gedink dat hulle te vet was! ’n Kanadese opname het bevind dat 70 persent van die vroue in daardie land behep is met hulle gewig, en 40 persent volg “klimtol”-diëte—’n siklus waarin hulle gewig verloor en dit dan weer aansit.

’n Verwronge liggaamsbeeld kan dus klaarblyklik daartoe lei dat sommige meisies oordrewe besorg raak oor iets wat nie werklik ’n probleem is nie. “Ek het ’n vriendin wat groot dosisse dieetpille drink en ek weet van ’n paar meisies wat anoreksie het”, sê die 16-jarige Kristin. Sy sê verder: “Nie een van hulle is hoegenaamd vet nie.”

Die tydskrif FDA Consumer gee tereg die volgende raad: “Pleks van ’n dieet te volg omdat ‘almal’ dit doen of omdat jy nie so maer is as wat jy wil wees nie, moet jy eers by ’n dokter of voedingkundige uitvind of jy wel vir jou ouderdom en lengte oorgewig is of te veel liggaamsvet het.”

[Prent op bladsy 15]

Baie wat oor hulle gewig besorg is, het geen rede daarvoor nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel