Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w23 April bl. 20-25
  • Moedig mekaar aan by gemeentelike vergaderinge

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Moedig mekaar aan by gemeentelike vergaderinge
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • MOEDIG MEKAAR AAN IN ’N KLEIN GEMEENTE
  • MOEDIG MEKAAR AAN IN ’N GROOT GEMEENTE
  • NOG MANIERE OM MEKAAR AAN TE MOEDIG
  • Loof Jehovah in die gemeente
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Loof Jehovah “in die midde van die gemeente”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Hou vas aan die openbare bekendmaking van jou hoop sonder om te wankel
    Ons Koninkryksbediening—1994
  • Help nuwelinge om by vergaderinge kommentaar te lewer
    Ons Koninkryksbediening—1988
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
w23 April bl. 20-25

STUDIEARTIKEL 18

Moedig mekaar aan by gemeentelike vergaderinge

“Laat ons aandag skenk aan mekaar [en] mekaar aanmoedig.” – HEB. 10:24, 25.

LIED 88 Maak u weë aan my bekend

IN HIERDIE ARTIKELa

1. Hoekom antwoord ons by vergaderinge?

HOEKOM woon ons gemeentelike vergaderinge by? Hoofsaaklik om Jehovah te loof (Ps. 26:12; 111:1). Ons woon ook vergaderinge by sodat ons mekaar kan aanmoedig gedurende hierdie moeilike tye (1 Tess. 5:11). Ons doen hierdie twee dinge wanneer ons ons hand opsteek en ’n antwoord gee.

2. Watter geleenthede het ons om antwoorde by ons vergaderinge te gee?

2 Ons het elke week geleenthede om antwoorde by ons vergaderinge te gee. Byvoorbeeld, oor die naweek kan ons deelneem aan die gemeentelike Wagtoring-studie. By ons vergadering in die week kan ons antwoorde gee gedurende die Geestelike skatte, die Gemeentelike Bybelstudie en ander dele waar die gehoor vrae gevra word.

3. Watter uitdagings het ons dalk, en hoe kan Hebreërs 10:24, 25 help?

3 Ons almal wil Jehovah loof en ons broers en susters aanmoedig. Maar wanneer ons antwoorde gee, het ons dalk uitdagings. Ons voel dalk senuweeagtig om ’n antwoord te gee, of ons wil dalk graag deelneem, maar ons word nie so dikwels gevra as wat ons wil hê nie. Wat kan ons help? Die apostel Paulus se brief aan die Hebreërs kan ons help om die antwoord te kry. Toe hy bespreek het hoe belangrik dit is om bymekaar te kom, het hy gesê dat ons daarop moet fokus om ‘mekaar aan te moedig’. (Lees Hebreërs 10:24, 25.) Ons sal minder senuweeagtig voel om ons hand op te steek as ons onthou dat ons ander kan aanmoedig selfs al gee ons net ’n eenvoudige antwoord oor ons geloof. En as ons nie dikwels gevra word nie, kan ons bly wees dat ander in die gemeente die geleentheid sal hê om te antwoord. – 1 Pet. 3:8.

4. Watter drie punte sal in hierdie artikel bespreek word?

4 In hierdie artikel sal ons eers bespreek hoe ons mekaar kan aanmoedig in ’n klein gemeente waar daar min is om antwoorde te gee. Dan sal ons bespreek hoe om mekaar aan te moedig in ’n groot gemeente waar baie hulle hande opsteek om te antwoord. Laastens sal ons maniere bespreek hoe ons ander kan aanmoedig deur wat ons sê wanneer ons antwoord.

MOEDIG MEKAAR AAN IN ’N KLEIN GEMEENTE

5. Hoe kan ons mekaar aanmoedig as daar min is wat die vergadering bywoon?

5 In ’n klein gemeente of groep is daar minder persone wat die studiehouer kan vra om te antwoord. Partykeer sal hy dalk ’n rukkie moet wag voordat iemand hulle hand opsteek. Die vergadering kan dalk vervelig begin voel, en dit is nie aanmoedigend nie. Wat kan jy doen? Wees bereid om jou hand gereeld op te steek. Deur dit te doen, sal jy dalk ander motiveer om meer gereeld deel te neem.

6-7. Wat kan ons doen om minder senuweeagtig te voel wanneer ons antwoorde gee?

6 Wat as net die gedagte om ’n antwoord te gee jou senuweeagtig maak? Baie voel so. Maar as jy jou broers en susters meer wil aanmoedig, kan jy na maniere kyk wat jou kan help om minder senuweeagtig te voel wanneer jy antwoorde gee. Hoe kan jy dit doen?

7 Dit sal jou dalk help om ’n paar van die voorstelle te hersien wat in vorige nommers van Die Wagtoring gepubliseer was.b Byvoorbeeld, berei goed voor (Spr. 21:5). Hoe beter jy die inligting ken, hoe makliker sal dit vir jou wees om ’n antwoord te gee. En hou jou antwoorde kort (Spr. 15:23; 17:27). Jy sal minder senuweeagtig voel wanneer jy ’n kort antwoord gee. ’n Kort antwoord, miskien een of twee sinne, sal dalk vir jou broers en susters selfs makliker wees om te verstaan as ’n lang antwoord wat baie idees ontwikkel. Deur ’n kort antwoord in jou eie woorde te gee, sal jy wys dat jy goed voorberei het en dat jy die inligting goed verstaan.

8. Hoe voel Jehovah daaroor wanneer ons ons bes probeer?

8 Wat as jy ’n paar van hierdie voorstelle probeer het, maar nog steeds te senuweeagtig voel om meer as een of twee keer te antwoord? Wees verseker dat Jehovah dit sal waardeer wanneer jy jou bes probeer (Luk. 21:1-4). Jehovah vra nie meer van ons as wat ons kan doen nie (Fil. 4:5). Kyk wat jy kan doen, stel ’n doelwit en bid vir ’n kalm hart. Aan die begin kan daardie doelwit dalk wees om ’n kort antwoord te gee.

MOEDIG MEKAAR AAN IN ’N GROOT GEMEENTE

9. Watter uitdaging is daar dalk in groot gemeentes?

9 As daar baie verkondigers in jou gemeente is, het jy dalk ’n ander uitdaging. Miskien is daar so baie broers en susters wat hulle hande opsteek dat jy baie keer nie gevra word om te antwoord nie. Byvoorbeeld, Danielle het dit altyd geniet om by vergaderinge te antwoord.c Sy beskou dit as deel van haar aanbidding, ’n manier om ander aan te moedig en as ’n manier om haar eie geloof te versterk in wat die Bybel leer. Maar toe sy na ’n groter gemeente getrek het, was sy nie so gereeld gevra om te antwoord nie – soms nie eers een keer gedurende ’n vergadering nie. Sy het gesê: “Ek was gefrustreerd. Ek het gevoel asof ek op ’n voorreg uitgemis het. Wanneer dit oor en oor gebeur, begin jy wonder of dit aspris gedoen word.”

10. Hoe kan ons ons kanse verbeter om ’n antwoord te gee?

10 Het jy al ooit soos Danielle gevoel? As dit die geval is, sal jy dalk wil opgee en net na die vergadering wil luister. Maar moenie ophou probeer om antwoorde te gee nie. Wat kan jy doen? Dit sal jou dalk help as jy ’n hele paar antwoorde vir elke vergadering voorberei. Dan as jy nie vroeg in die studie gevra was om te antwoord nie, sal jy nog steeds geleenthede hê om later in die vergadering te antwoord. Wanneer jy vir die Wagtoring-studie voorberei, dink aan hoe elke paragraaf met die tema van die artikel verband hou. As jy dit doen, sal jy heel moontlik goeie antwoorde hê wat jy regdeur die studie kan gee. Jy kan ook antwoorde op paragrawe voorberei wat dieper Bybelleringe bespreek wat moeiliker is om te verduidelik (1 Kor. 2:10). Hoekom? Omdat daar dalk minder sal wees wat gedurende daardie deel van die studie sal deelneem. Wat as jy ná ’n hele paar vergaderinge nog steeds nie ’n geleentheid gehad het om ’n antwoord te gee nie, al het jy hierdie voorstelle toegepas? Jy kan dalk voor die vergadering vir die studiehouer sê by watter vraag jy graag wil antwoord.

11. Wat moedig Filippense 2:4 ons aan om te doen?

11 Lees Filippense 2:4. Die apostel Paulus het onder inspirasie Christene aangemoedig om aan die belange van ander te dink. Hoe kan ons daardie raad gedurende vergaderinge toepas? Deur te onthou dat ander, net soos ons, ook wil deelneem.

’n Paar broers en susters eet ’n maaltyd saam. ’n Broer praat terwyl ander mooi luister.

Net soos jy ander toelaat om aan ’n gesprek deel te neem, moet jy ander toelaat om by vergaderinge te antwoord (Sien paragraaf 12)

12. Wat is ’n goeie manier om ander by vergaderinge aan te moedig? (Sien ook prent.)

12 Dink so daaraan: Sal jy, wanneer jy met jou vriende praat, so baie praat dat hulle nie eers ’n kans kry om iets te sê nie? Natuurlik nie! Jy wil hê dat hulle aan die gesprek moet deelneem. Net so wil ons by vergaderinge toelaat dat soveel mense as moontlik ’n antwoord kan gee. Om die waarheid te sê, een van die beste maniere om ons broers en susters aan te moedig, is deur hulle ’n kans te gee om oor hulle geloof te praat (1 Kor. 10:24). Kom ons kyk hoe ons dit kan doen.

13. Hoe kan ons toelaat dat meer in die gehoor antwoord?

13 Om maar een ding te noem, ons kan ons antwoorde kort hou, en op hierdie manier sal daar meer tyd wees vir meer om deel te neem. Ouermanne en ander ervare verkondigers kan die voorbeeld stel. Selfs wanneer jy ’n kort antwoord gee, vermy dit om oor te veel punte te praat. As jy alles in die paragraaf dek, sal daar baie min oor wees vir ander om te sê. Byvoorbeeld, in hierdie paragraaf word daar twee voorstelle gegee – hou antwoorde kort en vermy dit om oor te veel punte te praat. As jy eerste gevra word om op hierdie paragraaf te antwoord, probeer om oor net een van hierdie punte te praat.

Collage: 1. By ’n gemeentelike vergadering, steek een van die broers wat vroeër gewys was, sy hand op om ’n antwoord te gee. 2. Later steek die broer nie sy hand op nie terwyl ander in die gehoor hulle hande opsteek.

Wanneer sal ons dalk besluit om nie ons hand by ’n vergadering op te steek nie? (Sien paragraaf 14)f

14. Wat kan ons help besluit hoe dikwels ons ons hand wil opsteek? (Sien ook prent.)

14 Gebruik goeie oordeel wanneer jy besluit hoe dikwels jy jou hand sal opsteek. As ons ons hand dikwels opsteek, sal ons dalk die studiehouer onder druk laat voel om ons die heeltyd te vra, al het ander nog nie ’n geleentheid gehad nie. Dit kan veroorsaak dat ander nie hulle hande wil opsteek nie. – Pred. 3:7.

15. (a) Hoe moet ons reageer as ons nie gevra word om te antwoord nie? (b) Hoe kan studiehouers wys dat hulle aan almal dink? (Sien die venster “As jy die studie hou”.)

15 Wanneer baie verkondigers hulle hande gedurende ’n studie opsteek, sal ons dalk nie so baie kan antwoord as wat ons graag wil nie. Partykeer sal die studiehouer ons dalk glad nie kan vra om te antwoord nie. Dit kan ons teleurstel, maar ons moet probeer om dit nie persoonlik te vat wanneer ons nie gevra word om te antwoord nie. – Pred. 7:9.

As jy die studie hou

As jy ’n vraag-en-antwoord-deel hou, probeer om soveel as moontlik toe te laat om te antwoord. Hoe kan jy dit doen?

  • Moenie te veel praat nie. Hou jou inleiding en slot kort, en maak net ’n paar goeie kommentare gedurende die les.e Dit is nie nodig om elke paragraaf in te lei voordat dit gelees word nie.

  • Nadat jy die vraag gelees het, pouseer kortliks om ’n hele paar verkondigers kans te gee om hulle hand op te steek. Moenie dieselfde persone oor en oor vra as ander wat nog nie geantwoord het nie, se hand op is nie. Onthou, selfs ervare verkondigers kan mismoedig raak as hulle dikwels nie gevra word nie.

  • Vermy dit om te sê: “Ek soek na ’n nuwe hand” of om te vra: “Wie het nog nie geantwoord nie?”

  • As jy ’n vraag-en-antwoord-deel na aan die einde van die vergadering in die week hou, probeer onthou wie alreeds vroeër in die vergadering geantwoord het sodat ander ’n kans kan kry om deel te neem.

  • Hou die tyd in gedagte. As jy te veel tyd aan die openingsparagrawe van ’n les spandeer, sal jy dalk deur die laaste deel van die artikel moet jaag en nie tyd hê om ander te vra nie.

16. Hoe kan ons ander aanmoedig wat antwoord?

16 As jy nie so baie kan antwoord as wat jy graag wil nie, kan jy mooi na ander luister terwyl hulle deelneem en hulle dan ná die vergadering prys vir hulle antwoorde. Jou broers en susters sal jou woorde dalk net so aanmoedigend vind as die antwoorde wat jy sou gegee het (Spr. 10:21). Om ander te prys, is nog ’n manier hoe ons mekaar kan aanmoedig.

NOG MANIERE OM MEKAAR AAN TE MOEDIG

17. (a) Hoe kan ouers hulle kinders help om gepaste antwoorde voor te berei? (b) Volgens die video, wat is die vier stappe om ’n antwoord voor te berei? (Sien ook voetnoot.)

17 Wat kan ons nog doen om mekaar by ons vergaderinge aan te moedig? As jy ’n ouer is, help jou kinders om antwoorde voor te berei wat gepas is vir hulle ouderdom (Matt. 21:16). Partykeer word daar ernstige sake, soos huweliksprobleme of sedelike kwessies, gedurende ’n studie bespreek, maar daar sal heel moontlik ’n paragraaf of twee wees waarop ’n kind kan antwoord. Help ook jou kinders om te verstaan hoekom hulle heel moontlik nie elke keer gevra sal word wanneer hulle hulle hand opsteek nie. Wanneer jy dit verduidelik, kan dit keer dat hulle teleurgestel word wanneer ander in plaas van hulle gevra word. – 1 Tim. 6:18.d

18. Hoe kan ons dit vermy om die aandag op onsself te vestig wanneer ons antwoord? (Spreuke 27:2)

18 Ons almal kan opbouende antwoorde voorberei wat Jehovah eer en ons broers en susters aanmoedig (Spr. 25:11). Ons sal dalk nou en dan ’n persoonlike ondervinding vertel, maar ons moet dit vermy om te veel oor onsself te praat. (Lees Spreuke 27:2; 2 Kor. 10:18.) Ons moet eerder probeer om altyd te fokus op Jehovah, sy Woord en sy volk as ’n geheel (Op. 4:11). As die vraag vir ’n paragraaf ons natuurlik vra om ’n persoonlike antwoord te gee, is dit gepas om dit te doen. ’n Voorbeeld hiervan is in die volgende paragraaf van hierdie artikel.

19. (a) Wat sal die gevolg wees wanneer ons wys dat ons aan almal dink wat die vergadering bywoon? (Romeine 1:11, 12) (b) Wat waardeer jy persoonlik oor die feit dat ons by vergaderinge kan antwoord?

19 Daar is nie streng reëls oor hoe om antwoorde te gee nie, maar almal van ons kan probeer om mekaar aan te moedig. Dit sal dalk beteken dat ons ’n bietjie meer moet antwoord. Of dit kan beteken dat ons tevrede is met die geleenthede wat ons het om te antwoord en gelukkig is dat ander ook die geleentheid het om antwoorde te gee. Deur te fokus op die belange van ander by gemeentelike vergaderinge, kan ons almal dit geniet om ‘mekaar aan te moedig’. – Lees Romeine 1:11, 12.

HOE KAN ONS WYS DAT ONS AAN MEKAAR DINK WANNEER . . . 

  • min hulle hande opsteek om by ’n vergadering te antwoord?

  • baie hulle hande opsteek om te antwoord?

  • ons ons antwoorde voorberei?

LIED 93 Seën ons vergadering

a Ons moedig mekaar aan wanneer ons by vergaderinge ’n antwoord gee. Maar party voel senuweeagtig om ’n antwoord te gee. Ander geniet dit om antwoorde te gee, maar wens dat hulle meer gevra word. In albei gevalle, hoe kan ons wys dat ons aan ander dink sodat ons almal aangemoedig word? En hoe kan ons antwoorde gee wat ons broers en susters tot liefde en goeie werke aanspoor? Hierdie artikel sal dit verduidelik.

b Vir nog voorstelle, hersien Die Wagtoring van Januarie 2019, bl. 8-13, en Die Wagtoring van 1 September 2003, bl. 19-22.

c Naam is verander.

d Kyk na die video op jw.org Word Jehovah se vriend – Berei jou antwoord voor.

e Sien Die Wagtoring van 15 Julie 2013, bl. 32, en Die Wagtoring van 1 September 2003, bl. 21-22.

f BESKRYWING VAN PRENT: In ’n groot gemeente gee ’n broer wat al klaar geantwoord het ander die kans om aan die vergadering deel te neem.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel