Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g96 3/8 bl. 16-19
  • Ons bestudeer die Bybel—In die dieretuin!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons bestudeer die Bybel—In die dieretuin!
  • Ontwaak!—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Geen hokke, geen tralies
  • Dorstige sebras
  • “Uit sy neusgate kom rook”
  • “Versigtig soos slange”
  • “Gaan na die mier . . . en word wys”
  • “Gaan na die mier”
    Ontwaak!—1990
  • Soldate aan die opmars!
    Ontwaak!—2003
  • Vullisverwydering deur deskundiges uit die insekwêreld
    Ontwaak!—2002
  • Heuningmiere—’n Woestynlekkerny
    Ontwaak!—2011
Sien nog
Ontwaak!—1996
g96 3/8 bl. 16-19

Ons bestudeer die Bybel—In die dieretuin!

’NRUK gelede het ons ’n ietwat ongewone plek gekies om ons weeklikse gesinsbybelbespreking te hou—die Emmen-dieretuin naby ons huis in Nederland. Daar was ’n baie goeie rede hiervoor wat binnekort vir jou duidelik sal word.

Soos baie Christengesinne regoor die wêreld het ons ook ’n weeklikse Bybelstudie. Gedurende hierdie studie lees ons dikwels van diere wat in die Bybel as simbole van goeie en slegte eienskappe gebruik word. Ons het gewonder of ons die diere beter kon leer ken en het besluit om dit ’n gesinspoging te maak. ’n Spesifieke dier is aan elke gesinslid toegewys en elkeen is gevra om inligting oor hierdie dier in publikasies soos Insight on the Scriptures en die Wagtoring- en Ontwaak!-bundels na te slaan.

Terwyl ons die hek van die Emmen-dieretuin nader, skitter die oë van ons kinders, Mari-Claire, Charissa en Pepijn, van opgewondenheid. Ons sal gaan kyk na die krokodille, die bere, die sebras, die miere en dalk selfs na nog van die diere waarvan ons in die Bybel gelees het. Maar laat ons jou eers van hierdie unieke dieretuin vertel.

Geen hokke, geen tralies

Die Noorder Dierenpark, soos die Emmen-dieretuin in Nederlands genoem word, is ’n baie spesiale dieretuin wat volgens moderne beginsels ontwerp is. Hier sal jy geen diere in hokke of agter tralies vind nie. Inteendeel, in Emmen is alles gedoen om die diere in ’n omgewing te plaas wat so goed moontlik met hulle natuurlike habitat ooreenkom. “Dit is eerder die besoeker as die dier wat agter ’n heining is”, sê ’n glimlaggende Wijbren Landman, een van die park se bioloë.

“Die diere is nie volgens spesie gerangskik nie, maar volgens die plek waar hulle vandaan kom. Dit is waarom soveel diere moontlik wat in die natuur saambly, saamgehou word op die uitgestrekte Afrikasavanne wat julle hier sien.” En ja, daar sien ons hulle—die langste diere in die wêreld, langnekkameelperde, wat tot ses meter hoog kan word. Hulle is saam met springbokke, rooibokke, sebras, wildebeeste, waterbokke en selfs ’n paar renosters.

Maar Wijbren het nog meer om ons van die Emmen-savanne te vertel: “Die diere het soveel ruimte hier dat hulle nooit vasgekeer voel nie. Ons het nogtans ook ’n paar ontsnappingsroetes voorsien. Sien julle daardie groot klippe daar oorkant? Die springbokke kan tussen hulle skuiling soek sodat die renosters hulle nie kan pla nie. En daardie koppie daar oorkant stel die diere in staat om heeltemal uit mekaar se gesigsveld te kom. Maar die meeste van die tyd besef hulle skaars dat die ander diere daar is. Dit is werklik nie verbasend nie, aangesien hulle al duisende jare lank hulle habitat in Afrika deel.”

Dorstige sebras

“Kyk! Sebras!” Charissa is baie opgewonde. Sy het interessante navorsing oor sebras gedoen. “Die strepe vervaag die vorm en eenheid van die sebras se buitelyne in so ’n mate dat selfs skerpsiende inboorlinge dikwels onbewus is van hulle teenwoordigheid wanneer hulle net 40 tot 50 meter van hulle af is. Die sebras se skerp gesigsvermoë en fyn reuksin sowel as hulle vermoë om vinnig te hardloop—selfs vinniger as 60 kilometer per uur—dien as ’n beskerming teen roofdiere. Soos Psalm 104:11 sê, ‘les sebras gereeld hulle dors’ (NW). Dit is waarom hulle selde meer as agt kilometer van water af gevind word.” Toe het sy bygevoeg: “Ons moet ook gereeld ons geestelike dors les deur na aan die gemeente te bly, die Bybel te bestudeer en die vergaderinge by te woon.”

Ons verlaat die Afrikasavanne en stap in die rigting van een van die grootste roofdiere op aarde, die kodiakbeer. Hierdie beer, wat die grootste van alle bere is, kan tot drie meter lank word en tot 780 kilogram weeg. Hulle kamp hier is pragtig ontwerp met strome en reusagtige rotse sodat dit so natuurlik moontlik is. Die kodiakbeer is die ouboet van die Siriese beer, wat in Bybeltye in Israel voorgekom het. Soos Mari-Claire uitgevind het, lewe bere van ’n verskeidenheid kossoorte. Hulle eet blare en wortels van plante sowel as vrugte, bessies, neute, eiers, insekte, vis, knaagdiere en so meer, en hulle het ’n besondere voorliefde vir heuning. In eertydse Israel moes herders op hulle hoede wees vir plundering deur bere wanneer die vegetariese elemente van die beer se dieet skaars was. In sy jeug moes Dawid die aanval van ’n beer trotseer om sy vader se kudde te beskerm.—1 Samuel 17:34-37.

“Uit sy neusgate kom rook”

Maar daar is nog diere wat ons beslis wil sien. Die ander dag het ons die krokodil in ons Bybelstudie teëgekom. Pepijn het dit eers beskryf as ‘’n soort vis, maar dan ’n baie grote!’ Aangesien krokodille baie sensitief vir temperatuurwisseling is, word hulle in die Afrikahuis gehou, waar ’n tropiese klimaat gehandhaaf word. Wanneer ons instap, tref die hitte en die vogtigheid ons en laat dit ons brille opwasem. Ons moet ook aan die donker gewoond raak. Terwyl ons oor ’n houthangbrug stap, kom ons skielik van aangesig tot aangesig met ’n paar enorme krokodille wat baas is oor die moddergate aan weerskante van die brug. Hulle lê so bewegingloos daar dat Pepijn sê: “Dis nie regte krokodille nie.”

Krokodille is van die grootste reptiele wat bestaan. Party kan ses meter lank word en tot 900 kilogram weeg. Hulle kakebene is geweldig sterk—selfs ’n betreklik klein krokodil wat 50 kilogram weeg, kan ’n krag uitoefen wat gelyk is aan meer as 700 kilogram. Wanneer ’n krokodil opkom nadat hy ’n ruk lank onder die water was, kan die vinnige uitaseming van lug deur sy neusgate sproeiwater veroorsaak wat in die gloed van die oggendson heel moontlik die ‘lig is wat hy laat skitter’ en die ‘rook wat uit sy neusgate kom’ waarvan die boek Job praat.—Job 40:20; 41:9-12.

“Versigtig soos slange”

Ons is skaars van die krokodille af weg of ons sien in die donker—gelukkig agter glaspanele—’n aantal lewende voorbeelde van ’n dier wat in die Bybel as ’n simbool van gewenste sowel as ongewenste eienskappe gebruik word. Ons praat van die slang, die eerste dier wat in die Bybel by name genoem word (Genesis 3:1). Jesus het die versigtigheid van slange as ’n voorbeeld gebruik toe hy met sy dissipels oor hulle gedrag onder wolfagtige teenstanders gepraat het (Matteus 10:16). Maar gewoonlik word die slang natuurlik met “die oorspronklike slang”, Satan die Duiwel, geïdentifiseer wat in 2 Korintiërs 11:3 as verleidelik en listig soos ’n slang beskryf word.—Openbaring 12:9.

“Gaan na die mier . . . en word wys”

’n Onverwagte gesig in ’n dieretuin is die groot miershoop wat ons sien, waarin daar drie kolonies blaarsnyermiere bly. Hulle is die tuiniers onder die miere. Ons kan die kolonie agter ’n glaspaneel sien; dit stel ons in staat om die lewensgewoontes van hierdie klein diertjies te bestudeer. Ons stel in miere belang omdat hulle in die Bybel as ’n voorbeeld van vlyt en instinktiewe wysheid gebruik word.—Spreuke 6:6.

Wijbren Landman is ’n insekdeskundige. Hy verduidelik: “Ongeveer eenmiljoen maal eenmiljard miere swoeg op die aarde se oppervlak, wat beteken dat daar minstens 200-000 miere vir elke mens is! Van die 15 000 soorte wat oor al die vastelande behalwe die poolgebiede versprei is, is daar nie twee wat dieselfde lyk nie. Hulle bou almal verskillende soorte huise, en hulle eet verskillende soorte kos, maar hulle is almal op min of meer dieselfde manier georganiseer.

“Blaarsnyermiere kweek eetbare fungi, net soos mense sampioene kweek. Soos julle kan sien, kweek hulle dit ondergronds, maar die kos vir die fungi kom van bo die grond af. Werkermiere werskaf heeldag om blare na hulle nes te vervoer. Hulle klim teen ’n boom of ’n struik op en kies ’n blaar. Dan gebruik hulle hulle kakebene soos ’n skêr en sny vinnig halfronde stukke uit die blaar en loop in ’n ry daarmee na hulle nes toe terwyl hulle dit as ’n soort sambreel oor hulle kop hou. Dit verduidelik waarom hulle die bynaam sambreelmiere het. Hulle doen die snywerk so vinnig dat hulle in Suid- en Sentraal-Amerika hele struike of bome binne ’n paar uur heeltemal stroop. Dit is geen wonder dat hulle nie baie gewild is daar nie! In die nes maak ander werkers die stukke blare versigtig skoon voordat hulle dit fynkou. Daarna word die pulp wat verkry word, gemeng met ensieme en aminosure wat die miere afskei. Dan eers is die pulp gereed om as kos vir die fungi gebruik te word sodat die hele kolonie van ’n bestendige voorraad verseker is.”

Wanneer ons die mierstad verlaat, is ons diep beïndruk deur die wysheid en skeppingsvermoë waarvan die eindelose verskeidenheid in die skepping getuig. Dit is laat in die middag en ons moet huis toe gaan. Maar daar is baie meer wat ons moet sien. Ons het nie besoek afgelê by die uile (Jesaja 13:21), die robbe (Exodus 35:23), die seekoeie (Job 40:10), die volstruise (Jeremia 50:39) of die baie ander diere wat hier bly en in die Bybel gemeld word nie. Elkeen is dit werd om bestudeer te word. Ons sal beslis weer na die Emmen-dieretuin toe kom!—Bygedra.

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Volstruis: Yotvatah Nature Reserve

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel