Bied die Goeie Nuus Aan—Met die New World Translation
1 God se Woord het ’n geweldige invloed op sy hoorders. Kyk net wat dit vir ons gedoen het. Die woorde daarin is kragtiger as enigiets wat die mens ooit kan uitdink of sê (Hebr. 4:12). Waarlik, die waarde daarvan is sonder gelyke!
2 Al is die Bybel die wêreld se grootste trefferboek, is baie huise daarsonder. En baie wat wel ’n Bybel besit, lees dit nie. Party vertalings is moeilik om te verstaan. ’n Moderne vertaling is dalk net wat baie mense nodig het om hulle aan te spoor om God se Woord te lees. Die New World Translation kan hulle help om die Skrif te verstaan. Kan jy ander help om daarby baat te vind? November sal ons ’n goeie geleentheid bied om dit te doen. Hier volg ’n paar wenke wat jy dalk sal wil gebruik wanneer jy die New World Translation saam met die boek Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind? aanbied.
3 Een manier waarop ons die waarde van die New World Translation kan beklemtoon, is om die aandag te vestig op die gedeelte “Bybelonderwerpe vir bespreking”. Jy kan byvoorbeeld sê: “Die Bybel sê baie oor die blywende geluk wat Jehovah se regering gaan bring. Kyk byvoorbeeld hoe die New World Translation of the Holy Scriptures ons in die gedeelte ‘Bybelonderwerpe vir bespreking’ help. Hier, onder die onderwerp ‘Aarde’, vind ons ’n paar goeie tekste. Kyk net hoe lank gaan vrede onder daardie regering heers.” (Lees Psalm 72:7 en Jesaja 9:5, 6 onder die tussenhofie “A. God se voorneme met die aarde.”) “Ander uitstekende onderwerpe word in hierdie gedeelte van die Bybel gevind. Kan ek die Bybel en hierdie boek by u laat teen ’n bydrae van R8,20?” Ander Bybelonderwerpe kan natuurlik gekies word na gelang van wat jy meen by die geleentheid pas.
4 As jy vind dat ’n huisbewoner net ’n paar minute tyd het om te gesels, kan jy die ‘Onderwerp vir gesprekke’ kortliks bespreek maar tog die tekste lees. Wys hom dan die register van boeke voorin die Bybel. Jy kan ook sê: “U sal opmerk dat my Bybel Engels gebruik wat maklik is om te verstaan.” Wys hom dan die boek en bied dit aan teen die voorgestelde bydrae.
5 Nog ’n buitengewone kenmerk van die New World Translation wat sy lesers sal help om ’n duidelike begrip van talle tekste te kry, is die register van 92 bladsye met Bybelwoorde. Nadat jy die ‘Onderwerp vir gesprekke’ gebruik het, kan jy die waarde daarvan soos volg toelig: “Daar is vandag min vrede, selfs in die gesinskring. Die stygende egskeidingsyfer is ’n bewys hiervan. Dit lyk of party egpare glad nie oor die weg kan kom nie. Maar die Bybel bevat waardevolle raad oor hoe geluk tuis gevind kan word. Kyk hoe nuttig die register met Bybelwoorde in die New World Translation of the Holy Scriptures is. ’n Paar goeie teksverwysings word onder die onderwerp ‘Husband(s)’ gevind. Kyk wat dit omtrent ’n man en ’n vrou sê.” (Verwys na Efesiërs 5:25 en 1 Petrus 3:1.) “Ek bied hierdie nuttige hulpmiddel saam met die boek Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind? teen ’n bydrae van R8,20 aan.”
6 Die waardevolle kenmerke van die aanhangsel in die New World Translation moet nie oor die hoof gesien word nie. Die tabel oor die Bybelboeke is ook baie nuttig en bevat interessante feite oor elke boek—die skrywer, waar dit geskryf is, wanneer dit voltooi is en die tydperk wat dit dek.
7 Dit verg natuurlik voorbereiding om die New World Translation suksesvol aan te bied. Staan ’n paar minute af om te kyk watter kenmerk van die New World Translation jy kan beklemtoon om sy praktiese waarde te toon. Praat opreg en met oortuiging en help ander om baat te vind by die kragtige invloed wat dit op hulle lewe kan hê.