Gedenkmaalviering vir 1989
1 Woensdag, 22 Maart 1989, sal die 1 956ste herdenking van die Gedenkmaal van Christus se dood wees. Wanneer ons ons eie reëlings tref om dit by te woon, moet ons aan ander dink wat dalk ’n uitnodiging of ons persoonlike hulp op die een of ander manier nodig het. Dit is nou die tyd om voorbereidsels vir die Gedenkmaal te tref en daaraan te dink om ander uit te nooi.—Kyk asseblief “Voorbereidsels vir die Gedenkmaal” op bladsy 4.
2 Hoe beskou ons bywoning by die Gedenkmaal? Ons behoort dit te beskou as ’n voorreg en as ’n geleentheid om waardering te betoon vir die offerande van Christus. As jy weet dat jy van jou tuisgemeente weg sal wees, moet jy seker maak dat jy die adres van die Koninkryksaal het in die gebied waar jy sal kuier sodat jy dit daar kan bywoon.
GEBRUIK SPESIALE UITNODIGINGS
3 Jy kan vroeg in Maart begin om die spesiale Gedenkmaaluitnodigings te gebruik. Onthou dat dit nie as strooibiljette gebruik moet word nie, maar persoonlik aan belangstellendes gegee moet word. Omdat mense dikwels datums en tye vergeet, word daar voorgestel dat ons die Koninkryksaaladres en die tyd vir die Gedenkmaalviering netjies onderaan of agter op die uitnodiging neerskryf of tik. Indien moontlik, kan jy ’n bietjie tyd deurbring saam met die persoon wat jy uitnooi om hom te help om die betekenis van die Gedenkmaal duidelik te verstaan. Nuwe belangstellendes huiwer dalk om alleen na die Koninkryksaal te gaan. Kan jy aanbied om vervoer te voorsien of reël om hulle buite die saal te ontmoet? Dit sal ekstra tyd en moeite verg, maar jou hulp sal waardeer word, ’n Spesiale poging moet ook aangewend word om diegene te help wat die waarheid reeds etlike jare ken, maar wat vergaderinge nie gereeld bywoon nie.—Luk. 11:23; Joh. 18:37b.
NODIGE VOORBEREIDSELS
4 Gemeentelike ouere manne moet seker maak dat alle reëlings vir die Gedenkmaal lank voor die tyd sorgvuldig getref is. Maak seker dat bekwame broers gekies word om die embleme aan te gee. Hierdie broers moet ouere manne of bedieningsknegte wees, indien beskikbaar. Laat genoeg broers voorberei om dit te doen sodat die aangee van die embleme nie onnodig uitgerek sal word nie. Nadat die bedieners diegene in die gehoor bedien het, sal hulle in die voorste ry sit en die spreker sal hulle bedien. Laastens sal een van hulle die spreker bedien.
5 Ons kom elke jaar nader aan die dag wanneer die Aandmaal nie meer gevier sal word nie. Net ’n betreklik klein getal van die gesalfde broers van Christus bly oor. Jesus het beveel dat sy dood herdenk moet word totdat al sy broers saam met hom in die Koninkryk is (Luk. 22: 19; 1 Kor. 11:25). Tot dan sal ons elke jaar met die grootste vreugde en waardering gehoorsaam en getrou vergader vir die viering van die Gedenkmaal.
[Boks op bladsy 4]
Voorbereidsels vir die Gedenkmaal
(Kyk Die Wagtoring van 15 Februarie 1985, bladsy 19.)
1. Is almal, die spreker inkluis, in kennis gestel van die presiese tyd en plek van die viering? Het die spreker vervoer?
2. Is definitiewe reëlings getref om die embleme te voorsien?
3. Is reëlings getref sodat iemand ’n skoon tafeldoek en genoeg glase en borde sal bring?
4. Watter reëlings is getref om die saal skoon te maak?
5. Is die saalwagters en bedieners aangewys? Is ’n vergadering met hulle gereël voor die Gedenkmaal om hulle pligte te hersien? Wanneer? Watter prosedure sal gevolg word om te verseker dat almal doeltreffend bedien word?
6. Is reëlings reeds getref om bejaarde en siek broers en susters te help? Is reëlings getref om enige van die gesalfdes wat bedlêend is en nie by die Koninkryksaal kan wees nie te bedien?