Getuig vir die waarheid
1 Jesus het onomwonde gesê dat hy in die wêreld gekom het om vir die waarheid te getuig. Hy het verklaar: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig.”—Joh. 18:37.
2 Deur sy ywerige prediking het Jesus Jehovah se naam geëer. Hy het ook opregte liefde vir die mense getoon omdat hy besef het in watter droewige geestelike toestand hulle was. Mattheüs het aangaande Sy bediening geskryf: “En Jesus het by al die stede en dorpe rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die evangelie van die koninkryk verkondig . . . En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie” (Matt. 9:35, 36). Soos in Jesus se geval, moet ons toegewydheid aan Jehovah asook ons liefde vir ander ons beweeg om te preek.
ONS LEWENSBELANGRIKE TOEWYSING
3 Opregte liefde vir mense en vir Jehovah spoor ons aan om elke geleentheid te benut om mense die waarheid aangaande Jehovah en sy wonderlike werke te leer (Ps. 96:2, 3; 145:10-13). Die druk van die daaglikse lewe, die sorge van die lewe en die oorvloed afleidings kan egter maklik ons aandag van die getuieniswerk aftrek. Daarom moet ons nie uit die oog verloor hoe dringend dit is om vir die waarheid aangaande God en sy Koninkryk te getuig nie. Ons moet nie toelaat dat ons aandag afgelei word van hierdie allerbelangrikste lewensreddende werk wat aan ons opgedra is nie (Matt. 24:14; 28:19, 20). Dit is ’n beskerming vir ons as ons besig bly in Jehovah se diens, en dit kan blywende voordele meebring vir diegene wat die boodskap van waarheid moet hoor.—1 Kor. 15:58.
4 Kan jy as ’n gewone pionier of ’n hulppionier dien? Ondersoek gerus jou omstandighede om te kyk of jy jou diens op dié manier kan uitbrei. Het jy afgetree? Bestee dan gerus meer tyd aan die predikingswerk. Baie jongmense wat nog op skool is, het al gereeld hulppionierdiens gedoen. Hulle het gevind dat dit geestelik sowel as liggaamlik verkwikkend is en het diep innerlike vreugde daaruit geput.
5 Om met welslae vir die waarheid te getuig vereis dat ons ons tyd noukeurig indeel (Ef. 5:15, 16). Dit verg gemiddeld net twee uur per dag om vir die maand hulppionierdiens te doen. Party verkies om ’n uur vroeër op te staan sodat hulle in die diens kan uitgaan voordat hulle skool of werk toe gaan. Baie gemeentes het dié gehelp wat hulppionierdiens doen deur aandgetuieniswerk te reël. Jy kan ook bemoedig word en nuttige wenke kry deur met ander te praat wat hulle tyd só ingedeel het dat hulle hulppionierdiens kon doen.
6 Jehovah God het nog altyd goedheid aan sy knegte betoon. Diegene wat hom getrou dien, het oorvloedige seëninge ontvang. Jehovah toon steeds goedheid teenoor diegene wat hom liefhet. Hy aanvaar met genoeë wat ons volgens ons omstandighede kan doen terwyl ons vir die waarheid getuig.—Hebr. 6:10.