Neem met welslae aan ons lewensreddende bediening deel
1 Die apostel Paulus het sy aanbieding van die goeie nuus aangepas “om in alle geval sommige te red” (1 Kor. 9:19-23). Ons sal eweneens groter welslae in ons bediening behaal as ons daarop ingestel is om te onderskei waarin die huisbewoner belangstel en voorbereid is om ons bespreking by sy behoeftes aan te pas. Dit behoort nie moeilik te wees wanneer ons Die Wagtoring en die Ontwaak! of een van ons brosjures aanbied nie.
2 Nadat jy jou voorgestel het, kan jy begin deur iets soos die volgende in jou eie woorde te sê:
◼ “Baie mense raak wanhopig omdat dit lyk of die wêreldregerings nie die vermoë het om praktiese oplossings vir die probleme van ons tyd te voorsien nie. Sommige blameer selfs die regerings vir hulle probleme. Dink jy daar is ’n regering wat wel in al ons behoeftes sal kan voorsien? [Laat huisbewoner antwoord.] Weet jy dat ons ’n betroubare belofte het van ’n regering wat beslis sal wegdoen met al die probleme waarmee ons te kampe het?” Luister goed na die huisbewoner se antwoord. Wees gereed om, na gelang van wat hy sê, een van etlike aanbiedings te gebruik.
3 As daar ’n aanduiding uit die huisbewoner se kommentaar is dat hy ’n verklaarde Christen is, kan ons vra of hy die “Onse Vader”-gebed gebruik. As hy dit bevestig, kan ons die modelgebed tot by “laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” opsê (Matt. 6:9, 10). Dit bewys dat Jehovah se wil eendag hier op die aarde gedoen sal word. Jy kan dan na ’n gepaste artikel in Die Wagtoring of die Ontwaak! verwys of na ’n brosjure wat hierdie gedagte verder bespreek, soos bladsy 3 van Die regering wat die Paradys gaan bring.
4 As dit lyk of die huisbewoner nie in God glo nie, kan jy na Hebreërs 3:4 verwys en dan na bladsy 4 van die brosjure Gee God werklik vir ons om? blaai. Lees paragrawe 1 en 2 en vra die vraag wat onderaan die bladsy verskyn. Of jy kan gepaste materiaal uit een van die jongste tydskrifte daarby inskakel.
5 As dit lyk of die huisbewoner tevrede is oor sy lot in die lewe kan jy die volgende vra:
◼ “Waarom moet ons ernstig nadink oor wat die Bybel oor die toekoms van regerings sê?” Dan kan ons die inligting op bladsy 351 en 352 van die Redenering-boek gebruik en kortliks een of twee van die agt redes daar noem. As die huisbewoner belangstelling toon, kan jy die traktaat Sal hierdie wêreld bly voortbestaan? gebruik en met die eerste paragraaf op bladsy 2 begin om die gesprek voort te sit.
6 Jou eerste besoek sal nie heeltemal suksesvol wees as jy nie die huisbewoner se belangstelling vir nog ’n besoek wek nie. Maak dus seker dat jy ’n interessante vraag vra en belowe om dit te beantwoord wanneer jy teruggaan.
7 Kies iets uit die materiaal hierbo waarmee jy op jou gemak sal voel. Pas hierdie wenke aan sodat dit by jou gebied pas. Raak vertroud met die brosjures, traktate en tydskrifartikels wat jy gaan gebruik sodat jy jou bespreking vinnig by die huisbewoner se behoeftes kan aanpas. Laat ons almal ons aanbiedings “ter wille van die evangelie” deeglik voorberei en sodoende met welslae aan hierdie lewensreddende bediening deelneem.—1 Kor. 9:23.