Neem ander in ag—Deel 2
1 Sover dit redelikerwys moontlik is, wil ons ’n goeie verhouding met die mense in ons gemeenskap handhaaf. Dit vereis dat ons hulle regte en gevoelens in ag neem en respekteer.
2 Jehovah se Getuies is bekend vir hulle goeie maniere. Ons standaard ten opsigte van goeie maniere in die buurt, by die skool en by die werk, sowel as by ons byeenkomste, het al talle gunstige kommentare uitgelok.—Sien Die Wagtoring van 15 Junie 1989, bladsy 20.
3 Goeie gedrag sluit natuurlik baie dinge in, soos eerlikheid, vlyt en goeie sedes. Dit sluit ook in dat ons respek toon vir plaaslike inwoners wat om ons Koninkryksaal woon. Ons godvrugtige gedrag in ander opsigte kan misgekyk word as ons nie ons bure in ag neem nie. Paulus het ons aangespoor om ‘ons te gedra op ’n wyse wat die goeie nuus waardig is’.—Filip. 1:27.
4 Soms het inwoners wat naby sekere Koninkryksale woon, gekla omdat hulle meen dat diegene wat die vergaderinge bywoon ander nie in ag neem nie. Broers en susters moenie op die sypaadjie voor die Koninkryksaal vergader en ’n lewendige gesprek voer wat in nabygeleë huise gehoor kan word nie. Kinders moet nie toegelaat word om by die Koninkryksaal in en uit te hardloop nie. Dit kan die bure steur as ons motordeure onbedagsaam hard toeslaan of die toeters druk. Hierdie soort gedrag stel die gemeente in ’n slegte lig. Dit is ook belangrik dat ons alle verkeersreëls gehoorsaam wanneer ons in die gebied bestuur.—Rom. 13:1, 2, 5.
5 Motors moet nie op privaateiendom geparkeer word of op plekke waar hulle die verkeer belemmer of opritte blokkeer nie. Parkeerterreine wat nabygeleë sakeondernemings vir hulle klante voorsien, moet nie gebruik word tensy toestemming verleen is nie. Waar drie of vier gemeentes dieselfde Koninkryksaal gebruik, word daar bykans elke dag van die week vergaderinge gehou, en dit vereis noue samewerking tussen die liggame van ouere manne.—Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1988, bladsy 17, paragraaf 13.
6 Die Bybel spoor ons aan om ‘alles tot heerlikheid van God te doen’, en dit sluit in dat ons ander in ag neem (1 Kor. 10:31-33). As ons ‘’n oog hou op die persoonlike belangstelling van ander’ sal ons nie onbedagsaam op hulle eiendom oortree nie (Filip. 2:4). Ons sal ook nie inbreuk maak op sakebedrywighede van plaaslike handelaars nie.
7 Om ander in ag te neem—binne en buite die gemeente—is ’n uiterlike bewys van hoe ons in ons hart voel. Wat ons doen en sê, behoort te toon dat ons ‘ons naaste soos onsself liefhet’.—Matt. 7:12; 22:39.