Christus as ’n Voorbeeld vir jongmense
1 Ná ’n lang Bybelbespreking het ’n jeugdige gesê: “Jesus Christus se dinamiese persoonlikheid het my getref. Hier is ’n leier in wie ek my geloof kon stel.” Dieselfde kan nie van enige staatsfiguur of van sport- en vermaaklikheidshelde gesê word nie. Ware Christene beskou nie diegene wat openlik wêreldse standaarde en onchristelike lewenstyle aanneem as voorbeelde nie.—Ps. 146:3,4.
2 Jongmense kan verseker wees dat hulle, wanneer hulle geloof in Jesus Christus begin beoefen, hulle as God se skape aanbied en deur Jesus geken word. Die Voortreflike Herder gee vir hulle om (Joh. 10:14, 15, 27). Jongmense wat Christus as hulle Voorbeeld volg, is geseënd.
3 ’n Broer wat tans by die Brooklynse Bethel dien, het hierdie diensvoorreg as ’n doelwit gehad vandat hy agt jaar oud was. Hy is aangemoedig om Betheldiens te beskou as ’n praktiese manier om Christus se voorbeeld na te volg wanneer hy ouer is. Sy ouers, sowel as reisende opsieners, het hom aangemoedig om dit voor oë te hou. Om hom te help om daarvoor voor te berei, het hulle hom aangemoedig om hom net soos ’n lid van die Bethelgesin ywerig in te span deur takies tuis te verrig, met die instandhouding van die Koninkryksaal te help en vaardighede in die bediening te ontwikkel. Noudat hy Betheldiens reeds jare lank geniet, is hy dankbaar dat hy die poging aangewend het om Christus se voorbeeld na te volg terwyl hy grootgeword het.
4 Jesus het nie ’n wêreldse loopbaan gevolg nie; hy het die bediening gekies. ’n Jong suster wou die pionierdiens betree nadat sy skool verlaat het, maar het geaarsel omdat sy nie ’n geskikte deeltydse werk gehad het nie. Sy het bly dink: ‘Ek sal eers ’n werk kry en dan my aansoekvorm vir die pionierdiens ingee.’ ’n Ouer man het daarop gewys dat hoe langer sy wag, hoe beter sou ’n voltydse werk lyk, aangesien sy niks sou hê wat haar daarvan sou weerhou om dit te aanvaar nie. Sy het gesê: “Ek het tot Jehovah gebid dat sy gees my moes lei.” Sy het onmiddellik as ’n hulppionier begin dien en later ’n gewone pionier geword. Kort daarna het sy die ideale werk gekry wat by haar rooster vir pionierdiens ingepas het.
5 Jesus het die Koninkryksboodskap met vrymoedigheid aan almal verkondig (Matt. 4:23). Jong Christene kan ook leer om die predikingswerk met vrymoedigheid te doen en hulle nie deur ander te laat intimideer nie. ’n Veertienjarige Getuie het gesê: “Almal op skool ken my standpunt as ’n Christen. ... Hulle ken dit so goed dat ek nie verleë voel as ek ’n klasmaat ontmoet terwyl ek met die bediening besig is nie. Klasmaats luister gewoonlik, en hulle neem baie maal lektuur.”
6 As jongmense op Christus se voorbeeld let, kan dit hulle help om wyse besluite oor hulle toekoms te neem. Hulle hou hulle nie met wêreldse strewes besig nie, maar ‘dink aan hulle Skepper’ deur ywer in Jehovah se diens te toon (Pred. 12:1). Soos Christus Jesus kweek hulle “die liefde vir die Vader” aan, wat seëninge meebring wat baie begeerliker is as enigiets wat die wêreld hulle aanbied. Hulle sal nie saam met die ou wêreld ‘verbygaan’ nie, maar kan daarna uitsien om ‘vir ewig te bly’.—1 Joh. 2:15-17.